Producer of the year (Maize)								Afrikaans



Ontmoet die 2010 Ontwikkelende Graanprodusent genomineerdes

Instructions: 

Folio strap: Graanprodusent van die jaar

Byline: Jane McPherson, program bestuurder van die Graan SA Produsent Ontwikkelings Program

Photos: 



Die genomineerdes asook die finaliste vir die 2010 Ontwikkelende Graanprodusent van die jaar is aangekondig en die wenner sal aangewys word by ‘n glansgeleentheid gehou deur Graan SA op 8 Oktober 2010. Hulle is soos volg:

David Maleleka – Kestell, Vrystaat Provinsie.

Thabo Macholo – Kestell, Vrystaat Provinsie.

Daniel Mocwiri – Mareetsane, Noordwes Provinsie.

Frans Gaoganediwe – Ventersdorp, Noordwes Provinsie.

Klerk Melken – Mofufutso, Noordwes Provinsie.

William Matasane – Senekal, Vrystaat Provinsie.



David Maleleka 

David is gebore in 1954 op ‘n plaas in die Kroonstad distrik. Hy het op die plaas grootgeword en het ‘n plaaslike plaasskool tot en met standerd 3 (graad 5) bygewoon. Vanaf 14 jarige ouderdom het hy op die plaas van mnr. AJ Jonker gewerk, waar hy sy liefde vir boerdery ontwikkel het. David is getroud met Evelena wat ‘n wonderlike vrou is – sy bestuur die trekkers op die plaas!



Na ‘n paar jaar het hy hom op Witsieshoek gevestig waar hy kontrakwerk gedoen het vir die myne in die Goudveld area. In 1991 het David gesien dat die regering adverteer vir mense wat geinteresseerd is om grond in die Kestell-distrik te koop. In 1992 het hy die grond gehuur wat hy tans op boer. Dit was later moontlik vir hom om die grond te koop deur middel van ‘n lening vanaf die Land Bank. David se plaas strek oor 272 hektaar, waarvan 252 hektaar bewerkbare grond is. 



Vir baie jare het David die plaas uitverhuur aangesien hy nie self genoeg geld bymekaar kon maak om te boer nie. David het in 2008 weer begin boer. Gedurende 2009 het hy ‘n goeie koringoes geproduseer op 106 hektaar grond en het ook 88 hektaar mielies en 28 hektaar droë bone, geplant. Die droë bone het werk verskaf vir ‘n klompie vroue vanaf Qwa-Qwa. David sê hy is besig om sy boerdery soos ‘n trapsuutjies (verkleurmannetjie) te ontwikkel. 



Thabo Macholo 

Thabo is gebore in 1982 en het begin skoolgaan op Laerskool Tweeling. In 1989 het sy pa die plaas gekoop waar hulle tans boer. Sy liefde vir boerdery het op ‘n vroeë ouderdom ontwikkel. Hy het in 2003 by Paul Erasmus Hoërskool gematrikuleer en het besluit om by sy pa op die plaas aan te sluit. Op skool het hy aan atletiek deelgeneem en ook rugby gespeel vir sy provinsie, waar hy in die onder 17, 19 en 21 Suid-Afrikaanse rugbyspanne gespeel het.



Thabo is baie lief vir die boerdery en wil graag ‘n sukses op sy eie plaas wees. In 2009, saam met sy pa, het hy 25 hektaar koring, 99 hektaar mielies en 33 hektaar droëbone geplant. Thabo is besig om as produsent te groei en wil graag meer leer. Hy het al verskeie kursusse bygewoon, hy is ‘n lid van die Maluti studiegroep en luister na ouer produsente wat hul kennis en ondervinding deel. 



Thabo is ernstig oor finansiëlebestuur en -beplanning en is baie opgewonde oor die moontlikheid om meer droë bone te plant, aangesien dit meer winsgewend as ander graan is. Hy hoop, soos ander produsente, dat die prys van graan sal toeneem sodat dit moontlik is om ‘n wins te maak en terug te ploeg in die boerdery. Thabo wil eendag ‘n groot kommersiële produsent wees; hy wil graag saam met ander kommersiële produsente werk sodat hy meer ondervinding kan op doen. 



Daniel Mocwiri

Kokamo Daniel Mocwiri is in 1949 gebore in die dorpie Siberia in die Noordwes (in die omgewing van Mareetsane). Hy is die jongste in sy familie en die enigste seun van 9 kinders. Hy het in Siberia begin skoolgaan, waarna hy sy graad 12 voltooi het by Itlotleng Sekondêre skool in Mareetsane. Hy het daarna verder studeer by die Batswana Opleidingskollege. Hy het ook ‘n korrespondensie-kursus gedoen deur Damelin en Vista Universiteit en sodoende sy onderwys diploma verwerf. Hy het sy graad deur die Noordwes-universiteit verwerf en het begin as onderwyser by Monnapula Primêre skool waar hy gewerk het van 1975 - 2008. Hy is met Evelyn getroud en hulle is geseën met 6 kinders, 2 seuns en 4 dogters. 



Sy pa het hom geleer dat daar verskillende maniere was om ‘n bestaan te voer. As jong seun op skool het hy begin leer om met ‘n span osse te ploeg. Dit was die begin van ‘n lewenslange liefde vir landbou. In 1975 het hy saam met sy pa ‘n winkel in die dorpie gebou en 1977 het hy sy eerste trekker gekoop. In 1988 is sy pa oorlede en, omdat hy in die onderwys was, het hy sy grond uitverhuur aan die Mareetsane boerderyprojek tot 1993. In 1994 het hy op sy eie begin boer op 75 hektaar grond met sy eie trekker.



Daniel het sy boerdery uitgebrei terwyl hy onderwys gegee het en het later ‘n familielid gevra om hom by te staan op die plaas. Die skool waar hy skool gehou het, was in die dorpie en het dit vir hom moontlik gemaak om na skool sowel as gedurende skoolvakansies te boer. Daniel boer vandag op 200 hektaar gemeenskaplike grond. Hy het hierdie jaar 100 hektaar mielies en 100 hektaar sonneblom geplant. 



Daniel het in 2009 die Siberia-studiegroep gestig en is as die Voorsitter verkies. Hy het in 2009 deel geword van die gevorderde lede van die Graan SA Ontwikkelingsprogram. Daniel verstaan die waarde van ‘n ondersteuningsnetwerk en het baie waardering vir die ondersteuning wat hy van mnr. James van der Linde van Technichem ontvang, wat saad en chemikalieë aan hom verskaf, asook mnr. James Moeng wat kunsmis aan hom verskaf. Daniel finansier al vir baie jare sy graan produksie deur die Land Bank. 



Frans Gaoganediwe – finalis

Frans is op Sterkstroom gebore in 1957; hy is oudste van tien kinders. Frans het by Mesweng Primêre skool, skool gegaan, waar hy graad 7 voltooi het. Sy vrou, Phina, is in die Sterkstroom distrik gebore en het graad 7 voltooi by die Rabana Primêre skool. Sy is tans ‘n huisvrou en help met die braaikuiken-boerdery.



Na skool, vanaf 1985 – 1989 het hy op ‘n plaas in die Sterkstroom distrik vir Senwes gewerk. Hy het gedurende hierdie tyd proewe geplant. Hy het baie goeie ondervinding in mielieproduksie en goeie boerderypraktyk ervaring opgedoen. Vanaf 1990 - 1993 het hy vir Senwes gewerk in Sterkstroom. Frans is oorgeplaas na die bees- en skaapafdeling waar hy K.I. spuit en dosering gedoen het. Dit was hier waar hy sy liefde vir die Bonsmara beeste ontwikkel het. Nadat die Bonsmaras verkoop is, is hy in 2000, oorgeplaas na die melkboerdery-afdeling, waar hy aangehou het met K.I. op die Frieskoeie. Hy het ook die voeding- en inentingsprogram bestuur. Hy het voortgegaan met die plant van proewe vir Senwes nadat Senwes die plaas verkoop het. In 2002 is Frans na Senwes se Hoofkantoor op Sterkstroom oorgeplaas, waar hy ‘n drywer geword het.



Hy het in 2002 begin boer op die bestaande grond. Hy het in 2001 aansoek gedoen vir ‘n lening by die Land Bank, wat in 2002 goedgekeur is. Hy het die plaas, met alles daarop, wat twee trekkers, twee ploeë, ‘n paar ander implemente en twee braaikuikenhuise (wat 56 000 hoenders huisves) insluit, gekoop. Die huise is in volle produksie en daar is tans sewe en ‘n half siklusse per jaar. Frans het ‘n vaste kontrak met Rainbow Chickens. 



Hy het oor die afgelope agt jaar sy trop beeste uitgebrei tot 38 beeste, sy trop skape het toegeneem tot 63 skape, hy het nog ‘n trekker aangeskaf, ‘n Toyota Hilux bakkie, ‘n hammermeule en ook sy hoenderhokke opgegradeer deur plafonne, waterpunte en voedingslyne te installeer. Hy het ook die heinings verbeter. Storte vir die werkers is steeds in aanbouing.



Frans wil graag sy besigheid uitbrei en nog ‘n plaas aankoop. Hy wil ‘n volwaardige kommersiële produsent wees. Dit is slegs moontlik deur middel van harde werk, kursusse bywoon en die oplei van personeel. Frans voel ook dat die regering na hulle projekte moet omsien, produsente moet aanmoedig om uit te brei en mense behoort te verwyder van mislukte projekte. Frans sê hy word goed ondersteun deur die plaaslike kommersiële produsente rondom Ventersdorp. 



Klerk Melken – finalis

Klerk Melken is in 1970 gebore in Mofufutso dorpie in die Noordwes provinsie. Hy is die tweede van tien kinders van John en Dora Melken, wat nog steeds in dieselfde area boer. Hy het begin skoolgaan in Mofufutso by Khunwana Middelskool en het sy graad 11 by Atamelang Hoërskool voltooi. Hy het as plaaswerker begin in 1992 tot 2000. Klerk is met Joyce in 2002 getroud en hulle het 3 kinders, een dogter en twee seuns. 



Klerk het op ‘n baie vroeë ouderdom begin boer, met slegs 50 hektaar, toe hy sy eerste produksielening van NWK in 2001 gekry het. Hy het vroeg in Februarie 2003 een kalf gekoop. Hy het tans 16 koeie. In 2008 het hy een skaap en een bok gekoop en het nou 20 skape en 10 bokke. Hy het ook 80 hoenders. 



Klerk het in 2000 by die Mofufutso-studiegroep aangesluit, terwyl hy steeds as plaaswerker gewerk het. In November 2008 is hy as Voorsitter van hierdie studiegroep verkies. Hy het meeste van Graan SA se Opleidingskursusse bygewoon wat die volgende insluit: Inleiding tot Mielieproduksie, Inleiding tot Sonneblomproduksie, Kontrakteurskursus, Instandhoudingskursus, Basiese Enjinherstelkursus, Inleiding tot Sorghumproduksiekursus, Gevorderde Mielieproduksie aan Gevorderde Boere, Agri-Besigheidbestuur en Plaasbeplanning en -Bestuurskursus.



Tans boer hy op 150 hektaar gehuurde gemeenskaplike grond wat ‘n diepte het van 80 cm. Hy het 60 hektaar sonneblom, 42 hektaar geelmielies en 48 hektaar witmielies geplant. Aangesien hy in ‘n droë deel van die land boer, is Klerk baie bewus van die noodsaaklikheid van grondvogbewaring. Klerk droom daarvan om sy eie plaas te besit (asook om oor die titel akte te beskik). Hy sal graag sy boerdery wil uitbrei tot wanneer hy 1 000 hektaar in ‘n area waar die grond diep is besit en die reënval hoog is! Klerk word ondersteun deur mnr. Du Toit van Technichem en glo daarin om homself te omring met mense wat hom ondersteun en oor die nodige kennis beskik. 



Klerk sê dat hy baie lief is vir landbou omdat hy self ŉ gemotiveerde mens is wat homself wil ontwikkel en dinge op die regte manier wil doen.



William Matasane – finalis

William is gebore in die Winburg-distrik, waar hy op ‘n plaasskool skoolgegaan het. Hy het later op Hoërskool Winburg skool gegaan. Hy het begin werk by Allemanskraal (meer bekend as Aventura oord Aldam). Hy het begin werk as kelner, toe as ‘n sjef en uiteindelik was hy restaurantbestuurder tot 2004. Hy het saam met drie vennote by boedery betrokke geraak terwyl hy by Aldam gewerk het. In 2004 het hy die plaas Verblyden gekoop waar hy saam met sy vrou en kinders woon. Hulle boer op hulle eie sonder enige vennote. Hier produseer hulle sonneblom en mielies. (William sê dat hy sy vingers verbrand het met koring twee jaar gelede en huiwerig is om weer te probeer – veral teen die huidige pryse). 



William sê dat hy graag vir sy kinders die geleenthede wil gee wat hy nooit gehad het nie. Sy oudste dogter is besig met haar vierde jaar B.Com, sy tweede dogter is in haar derde jaar elektriese ingenieurswese, sy jongste dogter is in haar tweede jaar by die Sekretariële Kollege en “Johannes die boer’’, is op skool op Senekal in graad 4.



William is ‘n suksesvolle produsent en boer tans op 900 hektaar. Sy eie plaas is 400 hektaar en hy huur addisionele grond in Ventersburg (van swartboere wat nie die grond benut nie) en veldgrond vanaf die Winburg munisipaliteit. William wil graag meer grond koop in die Senekal distrik, maar kla dat die regering slegs die mense wil help wat geld sluk en nie hulle wat iets reg kry nie. 



William gebruik ‘n kombinasie van finansiering – sy eie geld en produksielenings van VKB en die Land Bank. Sy sonneblomoes het hierdie jaar vir sy volle produksielenings betaal en die wins op sy mielies sal hy in sy sak steek. Hy het in Senekal 110 hektaar mielies en 145 hektaar sonneblom geplant. Hy het ook 60 hektaar mielies en 75 hektaar sonneblom in Ventersburg geplant. Hy het ‘n trop beeste van 90 koeie en kalwers en is trots op sy 91% kalfpersentasie. Hy het tans 30 skape en sê dat hy nie sy trop kan uitbrei nie aangesien dit te naby is aan die Matwabeng nedersetting in Senekal. 



William is bekommerd oor die prys van graan. Nougesette finansiële praktyke is krities tot sy besigheid en hy belê slegs waar hy ‘n opbrengs verwag. Hy sê dat hy nie die koop van nuwe toerusting wat die grootste deel van die jaar in die stoor staan nie kan regverdig. Hy gee baie aandag aan sy meganiese instandhouding, waar elke ding ‘n plek het en goed versorg word. 



William is ‘n onafhanklike denker, maar die ondersteuning wat deur Johan Kriel van Graan SA gegee word, is vir hom baie waardevol. Mnr Philip Basson, ‘n plaaslike kommersiële produsent help en ondersteun hom deurentyd, wat hy ook baie waardeer. 



















