Problems (Maize)									Afrikaans



Wat is die probleme wat ontwikkelende produsente in die gesig staar?



Instructions:

Folio strap: Boerderyuitdagings

Byline: Jane McPherson, program bestuurder van die Graan-SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente

Photos: 



Dit is van uiterste belang vir die graanindustrie om struikelblokke wat in die pad van opkomende produsente oppad na kommersiële produsente staan, te identifiseer en aan te spreek.



Grond-verwante kwessies

Die grondhervormingsprogram wat deur die Departement van Grondsake geïmplementeer is, is vir baie meer van ‘n frustrasie as enigiets anders – oor die algemeen is hulle prosesse só stadig dat ontwikkelende produsente geleentheid na geleentheid misloop en blanke grondeienaars hoop om aan blanke bure te verkoop as gevolg van die onvermoë van grondsake om transaksies deur te voer.

Ons het ‘n kombinasie van grondeienaarsisteme in Suid-Afrika – wat die besit van grond, privaat huurgrond en kommunale grond waarop daar geen wettige ooreenkoms is nie (slegs toestemming om te gebruik), insluit. Grond wat in privaatbesit is kan as sekuriteit vir lenings gebruik word, terwyl huurgrond en kommunale grond nie daarvoor gebruik kan word nie. In die kommunale gebiede is die gebruik dat ‘n familie ‘n klein stukkie grond met ‘n spesifieke grootte, besit (wat verskil van provinsie tot provinsie) en indien ‘n produsent hy/haar boerdery wil uitbrei, hy/sy moet onderhandel met ander inwoners om hulle stukkie grond te gebruik. Daar is geen langtermyn sekuriteit van grondeienaarskap op hierdie addisionele grond nie. 

Om die pH en lae fosfaatstatus van die grond reg te stel, is baie duur prosesse – subsidies word vereis, omdat ontwikkelende produsente nie die hulpbronne het om hiervoor te betaal nie.

Baie grond wat deur ontwikkelende produsente bedryf word, het nie goed beplande en voldoende kontoere en gras-waterlope nie. Alhoewel die Departement van Landbou ‘n Land Care afdeling het, is hulle begroting onvoldoende om die enorme behoefte aan te spreek.

In Suid-Afrika is alle grond nie hoëpotensiaal grond wat geskik is vir gewasproduksie nie. Die omskakeling van bewerkbare grond na weiding is ‘n duur, langtermyn proses. Die ontwikkelende produsente het nie altyd toegang tot so ‘n omskakelingsisteem nie en gaan dikwels voort om gewasse te produseer op grond wat nie geskik is daarvoor nie, of laat dit in onbruik – waarvan nie een die opsie is nie.

 Bekamping, of die gebrek daaraan, is ‘n algemene probleem wat produsente in die gesig staar, veral in die kommunale gebiede waar kampdrade gesteel is. Beeste en skape loop dan vry oor al die lande.



Trekkers en masjinerie

Daar is baie ontwikkelende produsente wat toegang tot grond het (op watter sisteem van grondbesit ookal), maar hulle het nie die nodige masjinerie om daarop te boer nie. Nuwe masjinerie is baie duur en buite die bereik van baie ontwikkelende produsente. Daar bestaan min, indien enige, instansies wat gewillig is om tweedehandse landboutoerusting te finansier. 

Waar landboutoerusting beskikbaar is, is dit dikwels in ‘n swak toestand. Dit is die gevolg van:

Lae winsmarges by graanproduksie, wat dit finansieel moeilik maak om toerusting in stand te hou.

Produsente wat nie oor die kennis beskik vir herstel en instandhouding nie.

Sommige grondhervormingstransaksies sluit die aankoop van ‘n lopende saak in en die toerusting is dikwels oud en in ‘n swak toestand, wat beteken dat die ontwikkelende produsent ‘n moeilike begin het.

Toerusting word geskenk aan groepe om te deel en niemand neem verantwoordelikheid vir die instandhouding nie.



Produksielenings

Baie ontwikkelende produsente het probleme met die verkryging van produksielenings – sommige van die redes is soos volg:

Die winsgewendheid van graanproduksie is gedurende die afgelope jare onder groot druk. Die afgelope seisoen was oor die algemeen ‘n winsgewende een, omdat gewasse teen ou insetpryse aangeplant is en die graan verkoop is teen nuwe gewaspryse. In die meeste dele was die reënval ook bo-gemiddeld. Daar is slegs ‘n paar produsente wat genoegsame fondse het om gewasse aan te plant sonder om leningsaan te gaan. Wanneer die winsmarge klein is en rentekoerse hoog, is die risiko vir graanproduksie net te hoog om die leen van ‘n groot som geld om ‘n gewas in die grond te kry te regverdig.

Baie lenings-instansies vereis ‘n verband op die eiendom om ‘n lening goed te keur. Produsente op huurgrond of kommunale grond kan nie die grond as sekuriteit gebruik nie en daarom word hulle leningsaansoeke afgekeur. 

Baie lenings-instansies vereis insetversekering vir ‘n produksielening. Insetversekering, indien goedgekeur, is slegs effektief wanneer die gewas opgekom het en teen hierdie tyd is meeste van die koste al aangegaan. Sommige instansies is nie gewillig om die lening goed te keur voordat die versekering nie goedgekeur is nie. Dit skep ‘n netelige situasie. ‘n Ander dilemma is dat die versekering slegs 65% van die koste waarborg – wie sal die res van die risiko dra?

Daar is ongelukkig voorvalle waar ontwikkelende produsente nie hulle ooreenkomste om lenings terug te betaal nagekom het nie en dit het gelei tot versigtigheid aan die kant van leners.

Boerdery is moeilik en hoe minder ondervinding jy het, hoe groter die risiko. Wanneer die winsgrens klein is, is daar min plek vir foute. Ontwikkelende produsente is dikwels nog besig om hulle boerderyvaardighede te ontwikkel en is daarom ‘n groter risiko vir lening-instansies. 



Ondersteuning en advies – voorligtingsdienste

Ontwikkelende produsente is “leerders” en daarom benodig hulle ondersteuning, opleiding en mentorskap. Daar is baie probleme verwant aan die voorsiening van ondersteuning aan produsente: 

Personeel van die Departement is dikwels nie toegerus om die kwaliteit ondersteuning wat vereis word te gee nie. Baie het geen praktiese boerderyondervinding nie. Hoewel hulle gewillig mag wees en die nodige akademiese kwalifikasies het, is hulle nie in staat om die “hand aan die ploeg te slaan” nie. 

Om mense op te lei, is duur en dit neem tyd. Regeringsdepartemente het baie personeel wat betaal word om die werk te doen, maar nie toegerus is nie. Wanneer die privaatsektor betrokke raak, moet iemand dit finansier – wie betaal? 

Produsente bevind hulself dikwels in ‘n posisie waar hulle nie weet wie se advies om te volg nie – die voorligtingsbeampte van die Departement? Of die adviseur van die agri-besigheid wat die produksiekrediet moet verskaf? Of die kommoditeitsorganisasie wat die ondersteuning bied? Of die mentor? (Ongelukkig gee hulle nie altyd dieselfde inligting nie!)



Veiligheidsnet om risiko’s te verminder

Om te leer boer is om groot risiko’s te neem – indien mense produsente wil word sal hulle heel waarskynlik foute maak. Daar is ‘n groot behoefte vir ‘n veiligheidsnet om produsente te vang wanneer hulle misluk. Op hierdie stadium is sommige produsente in die bevoorregte posisie om finansiering te ontvang van ‘n agri-besigheid en kan daarom toegang verkry tot ‘n toelaag van die Mielietrust vir kalk, fosfaat en insetversekering (op hulle mielielande). Daar is egter ander ontwikkelende produsente wat óf nie mielies plant nie óf nie goedkeuring kan kry vir ‘n produksielening deur ‘n agri-besigheid nie en daar is dus geen ondersteuning vir kalk, fosfaat en versekering nie. Dit sal wonderlik wees indien die regering vorendag kan kom met ‘n veiligheidsnet om produsente by te staan. 





