Planning (Maize) 									Afrikaans

Beplanning – jou sleutel tot suksesvolle gewasproduksie 



Instructions: 

Folio strap: Bestuur

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente



Jy kan nie net een oggend wakker word en besluit om ‘n gewas aan te plant nie. Om gewasse kommersieel te verbou, vereis ‘n groot hoeveelheid beplanning. Die volgende is vrae wat antwoorde vereis: 



Wat beplan jy om hierdie seisoen te plant? 

Daar is ‘n aantal faktore wat oorweeg moet word voordat hierdie vraag beantwoord kan word. Jy moet die volgende weet:

Die verwagte datums vir ryp;

Die verwagte reënval;

Gronddiepte;

Die pH- en suurvlakke van die grond; en

Die beskikbaarheid van produksie-insette.



Waar gaan jy finansiering kry? 

Gewasproduksie het baie duur geword en droëland produksiekoste is in die omgewing van R5 000 per hektaar. Indien die produsent geld moet leen om die gewas aan te plant, moet ons die volgende vrae vra: 

Waar kan jy aansoek doen vir ‘n produksielening? 

Watter rentekoers sal van toepassing wees? 

Wat is die tydperk van die lening? 

Indien jy ‘n lening kry, sal die inkomste uit die verkoop van die gewas genoeg wees om die lening terug te betaal? 

Watter sekuriteit kan jy bied aan die uitleeninstansie? Onthou dat mense en instansies wat geld leen, ‘n besigheid bedryf en wil wins maak op die geld. Die wins wat hulle maak op die lening word gegenereer uit die rente wat hulle vra. Niemand wil geld verloor nie en daarom sal die uitlener seker maak dat die lener die geld kan teugbetaal soos ooreengekom. 

Wanneer sal die geld beskikbaar wees? Dit mag onbelangrik klink, maar by gewasproduksie begin voorbereiding van die grond reeds maande voordat die gewas geplant word. Indien die geld laat is, kan die lande nie voldoende voorberei word nie en die produsent loop die risiko om lae opbrengste te hê.





Hoe gaan jy die gewas bemark? 

Indien jy gewasse vir eie gebruik verbou (selfvoorsieningsboerdery), is die mark nie ‘n faktor nie. Indien jy egter gewasse produseer om te bemark, moet jy die mark in ag neem. Vra die volgende vrae: 

Wie gaan die produk koop? 

Wat is die prys wat verwag kan word? 

Hoe gaan die graan by die mark kom? 

Wie gaan die graan vervoer? 

Wie gaan betaal vir die vervoer van die graan? 



Primêre bewerking

Primêre bewerking is krities, en wat baie belangrik is, is dat alle bewerkingsaktiwiteite op die regte tyd behoort gedoen te word. 

Wat presies is die doel van die bewerking? 

Wanneer gaan jy begin bewerk? 

Watter implement gaan gebruik word? 

Tot watter diepte? 

Het jy voldoende trekkerkrag om die nodige bewerkingsaktiwiteite toe te pas? 

Wat is die toestand van die implemente en kan hulle die werk doen? 



Sekondêre bewerking

Wat presies is die doel van die bewerkingsaktiwiteit? 

Wanneer gaan jy begin bewerk? 

Watter implement gaan gebruik word? 

Wat is die toestand van die implemente en kan hulle die werk doen? 



Saad

Waar gaan jy jou saad koop? 

Wie gaan jou advies gee oor die korrekte saad? 

Het jy die lengte van die groeiseisoen in ag geneem en die saad daarvolgens beplan? 

Hoeveel plante per hektaar is ideaal?



Kunsmis

Het jy grondmonsters geneem? 

Het jy die uitslae van die grondontleding ontvang? 

Het iemand korrekte aanbevelings vir elke land vir elke gewas gedoen? 

Is die kunsmisaanbevelings in lyn met jou beplande opbrengs? 

Watter kunsmis gaan jy gebruik? 

Hoeveel kilogram per hektaar gaan jy gebruik? 



Kalibrasie van die planter 

Die plantoperasie is dalk die enkele mees belangrike aktiwiteit in die gewasproduksiesiklus. 

Kan die planter gekalibreer word tot die korrekte vlakke? (Het jy toegang tot die korrekte plate en ratte?)

Wat is jou verlangde rywydte? 

Hoekom het jy op die rywydte besluit? 

Indien jy na opkoms gaan bewerk; is die skoffel geskik om op daardie rywydte gebruik te word? 

Watter plantpopulasie vereis jy? 

Hoeveel kunsmis beplan jy om toe te dien? 

Kan jy self die planter kalibreer? Indien nie, wie sal jou bystaan met die kalibrasies? 



Onkruidbeheer

Hoe beplan jy om onkruidbeheer toe te pas? 

Indien jy meganiese beheer gaan toepas:

Het jy ‘n skoffelimplement? 

Is die skoffel dieselfde rywydte as die planter gestel? 

Is die tande van die skoffel korrek gestel? 

Indien jy chemiese beheer gaan toepas:

Het jy ‘n spuit? 

Is al die dele van die spuit in goeie werkende toestand? 

Wie sal die spuit kalibreer? 

Watter chemikalieë sal gebruik word? 

Hoeveel en van watter chemikalieë moet toegedien word? 

Op watter stadium van die gewasproduksie moet chemikalieë toegedien word? 



Plant

Is die grondvog genoeg om ontkieming toe te laat? 

Hoe diep moet die saad geplant word? 

Dien jy die korrekte aantal saad per meter toe? 

Dien jy die korrekte hoeveelheid kilogram kunsmis per hektaar toe? 

Het jy onkruiddoder en insekdoder toegedien soos beplan? 





Skoonmaak en stoor

Is die planter na planttyd skoongemaak en goed gestoor? 

Is die spuit na die spuitproses skoongemaak en gestoor? 



Topbemesting 

Watter topbemesting behoort gebruik te word? 

Wanneer behoort dit aangewend te word? 

Hoeveel moet toegedien word? 



Indien jy ‘n goeie kommersiële produsent gaan wees, moet jy hard en slim werk! Jy moet beplan, beplan en beplan en dan alles korrek en betyds doen. 

