Pest



Beheer mieliestronkboorder



Instructions:

Folio strap: Plaagbeheer

Byline: Amos Njoro, provinsiale koördineerder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram in die Noord-Wes Provinsie



Mieliestronkboorder is ‘n plaag wat altyd teenwoordig sal wees waar mielies in Afrika geproduseer word. Hierdie plaag is inheems in Afrika en verskeie grasspesies ondersteun sy lewenssiklus.



‘n Algemene standpunt is dat mieliestronkboorder jaarliks ‘n verlies van 10% in die mielie-oes kan veroorsaak, maar totale oesverlies kan ook plaasvind. Die larwe vreet aan die blare, stronk en die koppe van die mielieplant. 


Vliegsiklus van die mot

Dit is belangrik dat die produsent verstaan hoe die lewenssiklus van hierdie plaag verloop om sodoende ingeligte besluite ten opsigte van plaagbeheer te kan neem. Volwasse larwes hiberneer as papies in die stronkbasis van mielies wat gedurende die winter as stoppels op die land gelos word. Die papies ontwikkel in eerste generasie motte en lê eiers wat na sewe tot tien dae uitbroei.


‘n Groeiende larwe vreet vir ses weke, waarna dit verander in ‘n papie in die stam van die mielieplant. Na drie weke verskyn die tweede generasie motte in groter getalle as die eerste of die derde generasie en ook groter as die laaste vliegsiklus. 


Beheermaatreëls

Daar is ‘n hele aantal maatreëls wat kommersieel vir die beheer van stronkboorder beskikbaar is – chemiese beheer, kultivarkeuse, kulturele praktyke en biologiese beheer. Hierdie beheermaatreëls waarborg nie 100% beheer nie, maar help om besmetting te verlaag en volhoubare mielieproduksie te verseker.

 
Chemiese beheer

Chemikalieë wat geregistreer is om mieliestronkboorder te beheer, word as kontak of sistemiese plaagdoders geklassifiseer.

Wanopvattings dat duur produkte meer effektief as goedkoper produkte is, is nie waar nie omdat sommige goedkoper produkte uitstekende beheer bied. Die siening dat beheer so lank as ses weke kan duur, is ook ietwat twyfelagtig. Te wyte aan die hoë kostes van chemiese beheer, moet produsente ook seker maak dat die tyd van aanwending reg is. Voorkomende spuit kan oneffektief wees en word nie aanbeveel nie. Chemiese beheermaatreëls moet slegs oorweeg word wanneer 10% van die land tekens van besmetting toon – waar larwes aan die blare gevreet het, lyk dit soos haelskade.


Die 10% maatstaf help ook met die bepaling van die korrekte tydsberekening vir plaagdoderaanwending. ‘n Enkele aanwending mag dalk nie voldoende wees nie, omdat herbesmetting op ‘n latere stadium kan plaasvind. Gedurende ‘n laat seisoen, soos die huidige seisoen, is dit wys om vir baie klein larwes net voor blomtyd op die uitkyk te wees. Indien hierdie klein larwes nie beheer word nie, kan hulle verantwoordelik wees vir die totale vernietiging van die mieliekoppe. Relatiewe goeie beheer kan tot en met 50% van die blomstadium bereik word. 


Bt-mielies
Die bekendstelling van Bt-mieliekultivars het die behoefte vir plaagbeheer laat afneem deurdat die kultivars gene bevat wat weerstand teen stronkboorder-aanvalle kan bied. Hierdie geen aktiveer ‘n gifstof wat dodelik is vir die larwe.


Om die opbou van weerstand teen Bt-mieliekultivars te voorkom, moet daar voldoen word aan die instruksies ten opsigte van die persentasie nie-Bt-mielies wat geplant kan word saam met Bt-mielies. Nie alle kultivars wat die Bt-gene bevat bied ewe veel weerstand teen stronkboorder nie en dit behoort in aanmerking geneem te word wanneer kultivars vir elke seisoen gekies word. 



Produsente behoort bewus te wees van ‘n tien-dag-periode rondom blomtyd, wanneer klein larwes aan die baard kan vreet. Gedurende hierdie tyd is die gifstof te veel verdun in die baard as gevolg van sy hoë waterinhoud, wat dan veroorsaak dat sommige larwes oorleef. Stronkskade as gevolg van hierdie oorlewende larwes sal met oestyd sigbaar wees, maar omdat die skade op so ‘n laat stadium gedoen is, sal dit ‘n minimale effek op die opbrengs hê. Hierdie larwes sal die voorlopers wees vir die eerste vliegseisoen van die volgende jaar. Wanneer ‘n keuse gemaak moet word tussen chemiese beheer teenoor Bt-kultivars, moet die hoër koste van Bt-kultivars in berekening gebring word.


Kulturele praktyke en biologiese beheer

Bewerkings gedurende die winter wat veroorsaak dat stoppels op die oppervlak gelos word, sal help om die besmetting van stronkboorder gedurende die volgende seisoen te verminder. Die papies word aan winterkoue en natuurlike vyande blootgestel, wat dan verlaagde populasie van die plaag tot gevolg sal hê. Ploeg en diep bewerking van die stoppels, sal verhoed dat motte in die volgende seisoen uitbroei.


Parasiete wat aan larwes en eiers vreet bestaan wel, maar die effek is van geen kommersiële belang nie. Napiergras as voorkeur-gasheer kan aangeplant word as beheermeganisme vir kleiner produsente. Daar is egter geen rede waarom kommersiële produsente nie hierdie praktyk kan gebruik nie, omdat Napiergras ook uitstekende kuilvoer maak. Kulturele en biologiese beheer is minder effektief as chemiese beheer en ook as Bt-tegnologie.


Opsomming

Dit is ‘n feit dat groot verliese deur stronkboorderbesmetting ondervind word. Beheermaatreëls en goeie gewasbestuur is baie belangrik om verliese te beperk. 







