Money (Maize) 	 									Afrikaans



Die ABC van geld leen vir boerdery



Instructions: 

Folio strap: Besigheidsbestuur

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente



Shakespeare het gesê: “Neither a borrower nor a lender be, for loan of’t loses both itself and friends”. Dit is goeie raad wat jy nooit sal berou nie. Indien jy egter vandag ‘n produsent is, sal jy heel moontlik geld moet leen om in produksie te kan wees. 



Hoekom moet produsente geld leen?

Of jy nou grond besit of nie, of eenvoudig grond huur, boerdery is ‘n besigheid en jy gaan geld nodig hê om jou besigheid te bedryf. Dit maak ook nie saak hoe jy toegang tot grond gekry het nie. Jy kon die ontvanger van grondhervorming gewees het of jy kon die grond gekoop het met jou eie geld wat jy deur ’n ander besigheid gegenereer het – jy het geld nodig om te boer.



Grond is duur en mense wonder dikwels hoe hulle geld gaan bekom om grond te koop. Ongelukkig is die grond slegs ‘n deel van die besigheid. Indien jy met lewende hawe gaan boer, moet jy dit aankoop (of dit beeste, skape, bokke, varke of pluimvee is). Indien jy ‘n gewas- of groenteprodusent is, moet jy trekkers en implemente koop om die grond te bewerk. Hierdie is nog nie die einde nie. Jy sal ook geld nodig hê vir die produksie-insette (saad, kunsmis, chemikalieë, diesel, ensovoorts). Dit is nie ongewoon om meer in insette en toerusting as in grond te belê nie. 



Hoe vind die ooreenkoms plaas?

Geld uitleen is ‘n besigheid – iemand het die geld gemaak wat hulle wil belê en hulle wil opbrengs op hulle kapitaal hê. Met ander woorde, die persoon wie se geld dit is, wil seker wees dat hy nie die geld verloor nie en na die leningstydperk meer geld terugkry as wat hy uitgeleen het. Dit gaan alles oor risiko. Hoe hoër die risiko om die geld te verloor, hoe hoër as die prys wat jy betaal om die geld te leen, of hoe meer rente sal jy betaal.



In die meeste gevalle sal jy sekuriteit vir die lening moet aanbied, indien jy geld leen. Dit beteken dat, indien jy nie die lening kan terugbetaal nie, die uitlener die item wat jy as sekuriteit aangebied het, kan verkoop om sy geld terug te kry.



Die Nasionale Kredietwet

In die verlede het mense geld van een instansie geleen en indien hulle nie die lening kon terugbetaal nie, het hulle na ‘n ander instansie gegaan en geld daar geleen. Mense was nie gedwing om hulle lenings te openbaar nie. Die Nasionale Kredietwet het die prentjie egter verander en die uitleen-instansie kan skuldig bevind word aan “roekelose uitleen” en selfs al sou die produsent nie al sy skuld openbaar nie (wat hy behoort te doen), kan die uitleen-instansie die inligting bekom en die lening weier.



Produsente is dikwels baie ongelukkig wanneer hulle aansoeke om lenings geweier word. Indien jy egter nie jou lening kan terugbetaal nie, sal jy uiteindelik insolvent verklaar word en twee slegte dinge sal volg. Die uitleen-instansie kan geld verloor en jy sal ‘n swak kredietrekord kry wat jou kan verhoed om weer in die toekoms geld te leen. Dit is baie belangrik om te besef dat enige geld wat geleen word, terugbetaal moet word – lenings is lenings en nie skenkings nie. 



Hoekom sukkel nuwe graanprodusente om lenings te kry?

Daar is ‘n aantal faktore wat die maklike verkryging van ‘n lening beïnvloed:



Die terugbetaalvermoë volgens jou kontantvloeiprojeksies. Die persoon wat die geld geleen het, wil weet dat jy die geld aan die einde van die termyn kan terugbetaal. As ons gewasboerdery as ‘n voorbeeld kan gebruik, sal jy R5 000 per hektaar benodig om koring te plant. Teen die huidige prys van koring (gedurende die afgelope seisoen het produsente nie R2 000 gemaak nie), sal jy ‘n opbrengs van 2,5 ton per hektaar moet hê om gelyk te breek. Onthou dat die langtermynopbrengs in baie dele laer as 2 ton per hektaar is. Indien die produsent geld wil leen om koring te plant, sal die uitlener kyk na die langtermynopbrengs, die verwagte prys van koring en die produksiekoste van die gewas. Op hierdie stadium is niemand gewillig om geld aan produsente te leen om koring te plant nie – vir ‘n goeie rede. Koringproduksie is nie winsgewend nie. 

Lae opbrengs op beleggingskapitaal. Die koringbedryf is tans in ‘n krisis, maar onthou ook dat die winsgewendheid van graanproduksie oor die algemeen onder erge druk verkeer. Daar is ‘n surplus van byna elke produk, wat die pryse laag hou en die produksiekoste hoog. Die hele operasie is nie baie winsgewend nie. In sulke gevalle is die uitleen-instansie nie baie angstig om geld te leen nie, omdat die lener nie kan bekostig om die uitlener ‘n goeie opbrengs op kapitaal te gee nie.

Die ondervinding van die produsent. Wanneer jy ‘n nuwe besigheid of beroep begin, het jy nie ondervinding nie en maak jy maklik foute. Dit is dikwels die geval met ontwikkelende produsente – hulle het nie jare ondervinding en ‘n goeie rekord nie. Dit maak dit moeiliker om geld te leen. 

Sekuriteit vir die lening. Soos alreeds gemeld, wil die uitlener weet dat hulle jou bates kan verkoop om hulle geld terug te kry indien jy nie die lening kan terugbetaal nie. In baie gevalle kan die produsent nie die grond as sekuriteit gee nie (wat die norm in die kommersiële sektor is). Baie produsente besit nie die grond nie (soos in die geval van kommunale grond of huurgrond), of die produsent het reeds ‘n eerste verband op die grond geregistreer by die aankoop daarvan. Indien ‘n produsent nie sekuriteit kan gee nie, kan die uitlener weier om geld uit te leen, omdat hulle bang is om hulle belegging te verloor. 



Hoe kom produsente verby die feit dat daar normaalweg van hulle vereis word om sekuriteit te verskaf om produksiekrediet te verkry?

Die belegging wat vereis word om ‘n gewas aan te plant, is in die omgewing van R4 500 per hektaar (gemiddelde koste slegs vir die doel van hierdie bespreking). Dit is ‘n aansienlike bedrag geld. 



As ons aanneem dat die produsent goeie grond het, in ‘n hoë reënvalarea waar die opbrengs-mikpunt hoog is en waar die gewaspryse dit moontlik maak om ‘n wins op daardie gewas te maak, kan ‘n produsent die Land Bank, of ‘n kommersiële bank, of ‘n agri-besigheid, of ‘n koöperasie nader vir ‘n produksielening.



Ons neem aan dat die produsent nie sy grond kan aanbied as sekuriteit vir die lening nie en moet dus ‘n ander vorm van sekuriteit aanbied. Dit is waar insetversekering in werking tree. Insetversekering is ontwikkel om onvoorsiene natuuromstandighede te dek en nie swak boerderypraktyke nie. Met ander woorde, die produsent moet voldoen aan goeie produksiepraktyke en moet ‘n aanvaarbare langtermyn gemiddelde opbrengs hê, om te kwalifiseer vir die versekering. Die versekeringsmaatskappy monitor die vordering van die begin af en hulle kan op enige stadium weier om die gewas te dek – hulle kontroleer die grondtipe en-diepte, die grondmonsterontleding, die plantproses, kultivarkeuse, kunsmistoevoeging, opkomsverslag, onkruid- en plaagbeheer en indien al hierdie nie binne hulle spesifikasies is nie, sal hulle weier om die gewas te verseker.



Natuurelemente waarteen die produsent verseker is, indien hy goedgekeur is, kan droogte, ryp, vloede, hael en vuur insluit. Onthou egter dat hulle nie swak boerderymetodes verseker nie. Indien jou oes misluk as gevolg van jou eie foute, sal jy nie verseker wees nie.



Indien jy vir insetversekering goedgekeur is, sal die maatskappy ‘n sekere tonne-maat of inkomste waarborg (daar is verskillende polisse wat verskillend werk). Die versekering dek egter slegs 60% – 65% van die versekerde waarde. Kom ons sê dat jou langtermyn gemiddelde opbrengs 4 ton per hektaar vir mielies is, wat R1 500 per ton werd is (daarom ‘n versekerde waarde van R6 000 per hektaar). Die versekering dan slegs 60% van daardie waarde dek, wat R3 600 per hektaar is. Onthou nou dat ons gesê het dat die produksiekoste in die omgewing van R4 500 per hektaar is. Met ander woorde, jy sal verseker wees vir minder as die produksiekoste. Indien jy die uitleen-instansie is, sal jy nie gewillig wees om geld te leen aan ‘n produsent terwyl jy weet dat indien daar natuurskade is, die produsent nie in ‘n posisie sal wees om sy lening terug te betaal nie – ten spyte van insetversekering. Onthou ook dat insetversekering baie duur is – verlede jaar moes ontwikkelende produsente in die Oos-Vrystaat wat koring geplant het, meer as R850 per hektaar betaal vir hulle insetversekering.



Watter uitleen-instansies is vir nuwe produsente beskikbaar vir verskillende gewasse/lewende hawe?

Soos ons kan sien uit die voorafgaande bespreking, is leengeld ‘n risiko en daar is baie faktore wat in ag geneem moet word voordat aansoek gedoen word vir ‘n lening. Daar is instansies wat geld sal leen, solank hulle van terugbetaling verseker is. Dit is vir produsente moontlik om aansoek te doen vir produksielenings by die Land Bank, die agri-besighede (Senwes, OVK, NWK, MGK, GWK), die landboukoöperasies (VKB), kommersiële banke, ontwikkelingsinstansies (Mpumalanga Landbou Ontwikkelingskoöperasie – MADC, Uvimba bank in die Oos-Kaap) ens. Die uitleen-instansie het nie nodig om die geld aan jou te leen nie – hulle het hulle eie vereistes en beleid vir lenings. Jy kan hierdie organisasies nader en uitvind oor hulle vereistes.



Wat gebeur wanneer ‘n produsent oorlaatskuld het?

Met die winsgewendheid van boerdery onder druk, het dit die afgelope jare dikwels gebeur dat produsente die hele jaar gewerk het, ‘n gewas geproduseer het wat hulle verkoop het en teen die einde van die seisoen nie genoeg geld gegenereer het om hulle produksielening terug te betaal nie. Dit is ‘n vernietigende situasie, omdat die produsent die hele jaar vir niks werk en hy sal heel moontlik nie instaat wees om die volgende gewas te kan bekostig nie. Alhoewel dit die enigste uitweg sal wees om die uitstaande skuld van die vorige gewas te probeer dek, moet uitleen-instansies versigtig wees om hulself nie skuldig te maak aan roekelose uitleen nie.



Watter raad het ons vir produsente oor die leen van geld?

Doen jou berekeninge baie versigtig;

Moet nie produksiekoste onderskat nie;

Moet nie opbrengspotensiaal oorskat nie;

Moet nie die moontlike prys per ton oorskat nie;

Plant slegs op jou beste grond;

Kies die gewas wat die laagste risiko vir mislukking het;

Kry goeie raad;

Doen alles baie goed;

Plant minder hektare en doen dit goed – moet nie jouself en jou begroting te ver rek nie;

Indien jy ‘n beginner is, begin klein en brei stadig uit (beperk jou risiko);

Koop goeie kwaliteit insette vanaf betroubare verskaffers;

Koop teen die laagste moontlike prys, maar moet nie kwaliteit inboet nie;

Verkoop jou gewas teen die hoogste moontlike prys; en

Maak seker dat jy alles betyds doen – moet niks tot die laaste minuut los nie.



Jy as produsent is baie waardevol vir Suid-Afrika – wees trots daarop dat produsente die wêreld voed en klee!

