Jane(Maize)										Afrikaans
Mme Jane sê…
Folio strap: 
Photo: Use a photo of Jane 
Wat 'n vreugde was dit nie om deel van die paneel van beoordelaars te wees vir die Produsent van die Jaar kompetisie nie. Baie jare se werk is in ons ontwikkelingsprogram ingesit en dit was werklik wonderlik om in staat te wees om die vlakke van uitnemendheid wat deur sommige produsente bereik word, te sien. Die bepaling van die drie finaliste was uiters moeilik, want almal het so goed gedoen! 
Terwyl dit so fantasties is om die vordering van sommige produsente te sien, is dit ook teleurstellend om te besef dat sommige mense regtig nie vordering maak nie. Ongelukkig het ons nog steeds produsente gesien wat nie die basiese dinge reg doen nie – grondvoorbereiding, bemesting, korrekte saad keuse en onkruidbeheer. As jy nie die basiese beginsels korrek doen nie, sal jy nooit 'n kommersiële produsent wees nie.
Baie dikwels vertel mense jou dat hulle nie die korrekte praktyke kan volg nie om die volgende redes – sommige sê dat hulle nie 'n trekker het nie, 'n paar blameer die koste van saad en kunsmis en 'n paar blameer die regering. As jy 'n goeie produsent wil word, moet jy 'n plan maak. Ons het die wonderlikste gewasse gesien wat met die hand geplant is – 'n klein stukkie grond kan 'n goeie oes lewer as jy die grond voorberei en gebruik maak van die korrekte saad en kunsmis en onkruidbeheer. Dit is baie beter om 'n kleiner area aan te plant (wat jy kan bekostig) en alles korrek te doen, as wat jy 'n groot area plant en dit nie goed doen nie, om watter rede ook al. Sodra jy ‘n klein area bemeester het, kan jy dit uitbrei.
Ons moet onthou dat hierdie ontwikkelingsprogram van Graan SA befonds word deur die graan trusts (veral die Mielietrust) en diegene wat ons befonds, wil ons sien groei. As daar geen vordering sigbaar is nie, sal ons gedwing word om die program in dié area te staak. Dit sou inderdaad 'n hartseer dag wees as ons die ondersteuning aan produsente stop – maar dit is in jou hande. As die ondersteuning en opleiding wat ons verskaf het, waarde vir jou inhou, sal jy die nodige veranderinge implementeer in jou produksiepraktyke. Dit is moeilik om 'n suksesvolle produsent te word, maar dit is totaal in jou eie hande – ons is daar om aan jou al die opleiding en ondersteuning wat ons kan te bied, maar jy moet jou werkswyse verander!
