Measure



Om te meet, is om te weet



Instructions:

Folio strap: Bestuur

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die SA Graan Ontwikkelingsprogram

Jare gelede, voordat landbou ’n hoogs kommersiële besigheid geword het, het produsente nie veel gemonitor nie. 

 

Hulle het mis op die lande gebruik, soveel as wat hul gehad het of soveel as wat hul kon gooi, voordat dit tyd was om te oes. Hulle het diere gebruik om die ploeg te trek – so diep as wat die perd, donkie of os kon behartig. Hulle het saad met die hand gesaai uit ‘n sak wat aan hul sy vasgebind was – so goed verspreid as wat die hand kon doen. Die onkruid is met die hand uitgetrek, peste is so goed moontlik met die hand behartig en die gewas is ook met die hand geoes – sonder om te weet hoeveel hektaar hulle geplant het en sonder dat hulle weet hoeveel graan geoes is. Al wat hul geweet het is of die oes voldoende was om familie en vee te voed vir die komende jaar. En hoe het dinge nie verander nie...

Vandag is dit nodig om te monitor – hoe meer ons monitor en bereken, hoe meer akkuraat kan ons wees en hoe meer beheer kan ons uitoefen oor die landbouderybedryf. In hierdie artikel bespreek ons van die aspekte wat ons, as produsente, moet monitor. 



Die land

Ons moet weet wat die oppervlak is van die land wat ons wil plant. Al die berekeninge van die hoeveelheid trekkerkrag, diesel, saad, kunsmis en chemikalieë wat ons in die seisoen sal gebruik is gebaseer op die oppervlakte van die land. 



Grond

Grond verskil baie van mekaar, in diepte en in karakter. Ons moet weet wat die tipe grond is en ook wat die diepte van die grond is wat ons wil bewerk – moenie dink dat alle grond dieselfde is nie! Die tipe en diepte van die grond speel ‘n baie belangrike rol in die besluitneming van die gewas wat geplant moet word. Sommige gewasse kan nie in vlak grond geplant word nie. Indien jy wel oor vlak grond beskik, is dit nie noodwendig ‘n ramp nie, dit beteken slegs dat jy ‘n besluit sal moet neem oor watter gewas winsgewend op die grond gekweek sal kan word (of andersins, die voergewasse wat jy moet plant om die grond winsgewend te bestuur). 



Voedingstatus en pH van die grond

Alle plante onttrek voedingstowwe uit die grond om te groei en te ontwikkel. Ander faktore soos reënval en water wat deur die grond syfer het ‘n impak op die beskikbare voedingstowwe in die grond. Deur grondmonsters te neem kan die produsent die voedingstatus van die grond, sowel as die pH van die grond bepaal (dit is die bepaling van die suurheidsgraad van die grond). Indien die grond te suur is, ten spyte van beskikbare voedingstowwe, sal die voedingstowwe nie deur die plant opgeneem kan word nie. Die tipe en hoeveelheid kunsmis vir ‘n goeie opbrengs sal nie bereken kan word as die status van die grond nie bekend is nie. 



Temperature

Alle gewasse het ‘n sekere beperking van temperatuur wat dit kan uitstaan. Dit is vir ons nodig om te weet wat die minimum en maksimum temperature is wat deur die jaar verwag kan word, sowel wanneer die eerste ryp verwag kan word. Wanneer ons hierdie inligting het, sal ons instaat wees om te bepaal watter gewas om aan te plant, watter kultivar die beste geskik is vir ons temperature, asook die lengte van ons groeiseisoen. (Onthou die groeiseisoen is vanaf planttyd tot wanneer die oes gereed is vir oes – die datum wanneer die eerste ryp in die area verwag word, bepaal die lengte van die groeiseisoen).



Reënval

Wanneer droë seisoene verwag word, is dit ongelooflik belangrik om te weet wat die hoeveelheid jaarlikse reënval in jou gebied is. Ons weet almal dat ons geen beheer oor die reënval het nie, maar ons kan die statistiek gebruik vir beplanningsdoeleindes. Deesdae se weervoorspellings is baie akkuraat en baie van die nat en droë toestande word maande vooruit voorspel en dié inligting moet goed benut word. Monitor van reënval is nie ‘n moeilike proses nie (die plastiek reënmeters is beskikbaar en moet op verskeie dele van jou plaas geplaas word). Na elke reënval kan jy meet hoeveel dit gereën het en dit neerskryf. Elke millimeter reën wat val, dring die grond binne en maak die grond effens nat – dit is nodig dat jy die reënval so meet dat jy weet hoe diep die grondvog strek. 



Plant populasie

Dit is baie belangrik dat jy die korrekte hoeveelheid saad per hektaar plant om sodoende die ideale hoeveelheid plante per hektaar te verkry. Die ideale hoeveelheid plante per hektaar verskil vir elke gebied en selfs vir verskillende tipes grond in dieselfde gebied. Die rede waarom die plantestand so belangrik is, is omdat elke plant ‘n sekere hoeveelheid water en voedingstowwe benodig om optimaal te produseer. Indien daar te min plante is, kan elke plant nie genoeg produseer om die gewensde opbrengs te lewer nie en as daar te veel plante is, kompeteer die plante te veel om water en voedingstowwe en kan dit dan ook nie die gewensde opbrengs lewer nie. Die produsent moet weet wat die rywydte is en hoe ver die saad uitmekaar moet wees – hierdie is ‘n kritiese faktor in graan produksie. 



Bemestingspeil

Plante benodig voedingstowwe om te kan groei en graan te produseer. Die hoeveelheid voedingstowwe benodig, word bepaal deur die opbrengs mikpunt (die realistiese opbrengs waarvoor die produsent mik op die spesifieke land en vir die spesifieke gewas). Die grondmonster-resultate sal ‘n aanduiding gee van die hoeveelheid beskikbare voedingstowwe in die grond en daarvolgens kan die hoeveelheid voedingstowwe benodig, bereken word. Kunsmis is baie belangrik vir oesproduksie, maar dit is ook baie duur, wat dit baie belangrik maak om die regte hoeveelheid kunsmis benodig te bereken en dan daardie korrekte hoeveelheid toe te dien. 



Die toediening van chemikalieë (insekdoders en onkruiddoders)

Hierdie is ‘n ander terrein waar kontrole ongelooflik belangrik is. Al die chemikalieë het ‘n aangehegde aanbeveling vir toediening. Dit word noukeurig bereken om te verseker dat die produsent sy mikpunt van toediening bereik sonder om die oes of die omgewing te beskadig. Die toedieningspeil van die chemikalieë sluit gewoonlik die hoeveelheid water wat per hektaar gebruik moet word, in - byvoorbeeld, 1 liter chemikalieë per 205 liter water per hektaar (hierdie is ook ‘n belangrike maatstaf). Die chemikalieë wat in die produksie van ‘n gewas gebruik word, is baie duur en gevaarlik en is dus belangrik dat dit gebruik word volgens die aanbevelings. (Die kalibrasie van die spruit is nog ‘n belangrike skakel in die ketting van graan produksie). 



Monitor die oes

Na al die harde werk is die vraag: Wat is die opbrengs wat jy bereik het met elke hektaar? Daar word ongelooflik baie tyd aan graanproduksie spandeer en aan die einde is dit belangrik om te weet hoe suksesvol jy was. Jy het begin met die grond, daarna het jy die grond bewerk, toe het jy besluit wat om te plant, watter kultivar om te gebruik, hoeveel kunsmis toegedien moet word, watter chemikalieë om te gebruik en hoeveel daarvan gebruik moet word. Al hierdie dinge het tyd, moeite en baie geld geneem. Jy het dan ‘n oes om te stroop en te verkoop. Jy moet kan bereken wat elke ton jou gekos het en hoeveel inkomste jy gegenereer het sodat jy kan sien of jy vir jou moeite vergoed is. 

In ons Ontwikkelingsprogram vir produsente, het ons besef dat daar sekere produsente is wat nie weet wat die grootte van die lande is waarop hul wil plant nie, die tipe en diepte van die grond, die voedingstatus van die grond, die kunsmis wat hul beplan om te gebruik, die plantestand wat hul benodig of die hoeveelheid chemikalieë wat toegedien moet word nie. Produsente moet die volgende monitor – die land, grond, voedingstowwe, reënval, temperature, plantestand, bemestingspeil, toediening van insekdoders en onkruiddoders en die opbrengs. Hierdeur sal jy beslis oppad wees na die beroep van kommersiële boerdery. 





