Marketing									Afrikaans



Bemark vir die beste prys



Instructions:

Folio strap: Mieliebemarking

Byline: Aangepas vanuit die Agri Besigheidshandleiding deur Jane McPherson



Dit is altyd beter om ‘n mark vir jou gewas te hê voordat jy plant, maar daar is baie mense wat eers plant in die hoop dat hulle ‘n goeie prys sal kry wanneer die gewas geproduseer is. Op hierdie stadium is dit belangrik om ‘n plan in plek te hê om die gewas so effektief as moontlik te bemark om soveel geld as moontlik vir die produk te ontvang. 



Bemarkingsbeplanning moet in samewerking met die fisiese beplanning vir produksie onderneem word. ‘n Produsent se bemarkingsvaardighede is net so belangrik as die vaardighede wat benodig is om die produk te produseer. Om jou bemarkingsvaardighede te verbeter, moet ‘n logiese en suksesvolle gesindheid teenoor bemarking gekweek word. Die bemarkingstrategie deur ‘n individuele produsent of boerderymaatskappy, is deel van die totale risikobestuurspakket wat gebruik word om finansiële oorlewing oor die lang termyn te verseker. Die landbou staar baie onsekerhede en risiko’s in die gesig. Prysonsekerheid bemoeilik beplanning, maar basiese bemarkingsbeplanning help die produsent om prysrisiko’s te verminder, maar skakel dit nie heeltemal uit nie.  



Jou gesindheid teenoor risiko sal ‘n invloed hê op die wyse waarop jy jou bemarkingsbesluite neem. Baie jare gelede toe daar ‘n beheerde bemarkingsisteem met ‘n vasgestelde prys was, het baie produsente gekla dat hulle nie ‘n wins maak teen die vasgestelde prys nie. Nou dat gekontroleerde pryse weggeval het en dit ‘n vrye markstelsel is, kla baie produsente dat hulle nie die mark kan bestuur nie. Enige bemarkingsisteem kom met ‘n stel uitdagings en dit is belangrik om beskikbare geleenthede aan te gryp. 



Foute is ‘n onafwendbare deel van die lewe – boerderyfoute is deel van boerdery. Indien ons egter voortgaan om dieselfde foute te maak, is daar geen vooruitgang nie. Ons moet minder foute maak, en slegs nuwe foute maak, om vorentoe te kan beweeg. 



Beoordeling van vorige markaktiwiteite

Was jy gelukkig met pryse wat jy in die verlede behaal het?

Watter markaktiwiteite het goed gewerk? 

Hoekom sou jy dink dat die strategie wat jy geïmplementeer het, goed gewerk het? 

Watter pryse het jy behaal vergeleke met die laagste, hoogste lokale en gemiddelde nasionale waardes? 

Watter bemarkingsaktiwiteite het nie goed gewerk nie? 

Hoekom het sommige van jou bemarkingstrategieë nie gewerk nie? 

Wat is jou besigheidsdoelwitte vir die volgende twaalf maande en die volgende vyf jaar – hoe sal hierdie doelwitte die bemarkingsplan raak? 



Hoe funksioneer my boerderybesigheid?

Boerdery moet beskou word as ‘n besigheid en die volgende moet van tyd tot tyd hersien word:

Die finansiële status van jou hele besigheid. 

Dit is belangrik dat die vorige jaar se fisiese en finansiële rekords, insluitende bruto marge gewaskoste, inkomstestate, kontantvloei en balansstate gefinaliseer word en op datum gebring word. 

Geprojekteerde inkomstestate, kontantvloei en balansstate, tesame met die huidige bruto winsgrens ontledingskoste kan dan voorberei word om akkuraat uit te wys wat die effek van verskillende mielieprys scenario’s op die besigheid sal hê. 

Onvoldoende kontantvloei op verskillende tye van die jaar sal help om aan te dui wat die beste bemarkingsplan is om te volg.

Fisiese produksie, versekering en bemarking gaan hand aan hand met finansiële beplanning. 

	

Vasstelling van prysdoelwitte

Indien jy geen idee het wat die koste van jou gewas is nie, is dit moeilik om te weet hoeveel jy benodig (per ton) om ‘n wins te genereer. Dink na oor die volgende: 

Bereken die totale koste van produksie per hektaar en per ton geproduseer. 

Neem die direkte koste in ag – saad, kunsmis, diesel, onkruiddoders, plaagdoders, tydelike arbeid en oesversekering.

Bereken die vaste koste wat die mielie oes sal moet dra om gelyk te breek en die winsprys wat op die mark behaal moet word. Die vaste koste sluit huur, rente, permanente arbeid en elektrisiteit in (al die koste wat deurlopend bestaan, of daar ‘n gewas geplant word of nie).

Die gelykbreekpunt word gedefinieer as die prys waarby direkte en pro-rata vaste oorhoofse koste gedek word om ‘n nul netto wins te wys. 

Mielieproduksie is normaalweg deel van ‘n produksiesisteem op ‘n spesifieke plaas. Ekstensiewe en intensiewe veeproduksie of die maal en meng van mielies vir voedselrantsoene, kan die dryfveer vir mielieproduksie wees. Mielies kan ook ‘n kritiese gewas wees wat gebruik word in die lang termyn wisselboustelsel vir die plaas. Dit is daarom belangrik om al hierdie faktore in ag te neem, wanneer berekeninge van die minimum prys gedoen word. Onthou om ander voordele van die gewasproduksie ook in ag te neem. 

Jy bedryf ‘n besigheid en indien jy in besigheid wil bly, moet jy ‘n wins maak uit elke aktiwiteit op die plaas.



Om ‘n produsent te wees is moeilik en daarom is daar ‘n aantal faktore wat jy in ag moet neem met elke besluit. Indien jy jou bemarking nagelaat het en onseker is wat jou te doen staan, besoek gerus jou naaste agribesigheid of graanhandelaar en kry soveel advies as wat jy moontlik kan. Alhoewel ‘n mens versigtig moet wees met enige advies, is daar goeie en eerlike mense wat jou kan bystaan – vind hulle!







