Management (Maize)									Afrikaans

Plaasbestuur – genereer en behou wins



Instructions: 

Folio strap: Bestuur

Byline: Inligting saamgestel vanaf die Plaasbestuur vir Wins Handleiding deur Marius Greyling 

Grabbing quote: Indien jy nie meet nie, kan jy nie bestuur nie.



Soos ons almal weet, is boerdery ‘n besigheid en indien jy ‘n kommersiële produsent wil wees, is daar verskeie faktore wat in aanmerking geneem moet word om jou besigheid winsgewend te maak.



Die volgende moet in gedagte gehou word:

Die primêre oogmerk is om volhoubare wins te genereer en te behou.

Elke aksie op die plaas het ‘n impak op inkomste. Inkomste – Uitgawes = Wins/Verlies.

Aanbevelings word gemaak wat kan/behoort gedoen te word en/of wat wetlik verplig is ten opsigte van die bestuur van die verskillende areas op ‘n plaas. Of aanbevelings uitgevoer word, is die keuse en verantwoordelikheid van elke produsent/bestuurder.

Inligting – ekstern en intern (interne rekords) is van die allergrootste belang.

‘n Boerderybesigheid in Suid-Afrika vorm deel van die globale gemeenskap en word dus beïnvloed deur wêreldgebeure.

‘n Plaas word gesien as ‘n totale sisteem waar elke area ander areas beïnvloed, met ander woorde die bestuursbenadering moet ‘n holistiese benadering wees.



Omvang van bestuur

‘n Mens hoor dikwels die volgende: “Hoekom floreer sommige produsente in ‘n spesifieke area meer as ander in dieselfde area onder dieselfde omstandighede, of waarom oorleef sommige produsente moeilike tye terwyl hulle bure deur dieselfde situasies geruïneer word?” Die antwoord is dat sommige produsente hulle boerdery beter as ander bestuur. Wat is bestuur of, in hierdie geval, plaasbestuur?



Plaasbestuur kan beskryf word as die neem van die beste besluite ten opsigte van menslike hulpbronne en ander fisiese hulpbronne om die doelwitte van die spesifieke besigheid te bereik. 



Om in staat te wees om volgens bogenoemde definisie te bestuur, impliseer dat ‘n produsent die volgende vier bestuurstake effektief moet aanwend naamlik: beplanning, organisering, implementering en beheer. Alhoewel dit moontlik is om tussen die vier take te onderskei, is die bestuursproses ‘n aaneenlopende proses. Binne die bestuursproses moet die produsent ‘n aantal bestuursaktiwiteite aanwend naamlik besluitneming, kommunikasie, motivering, koördinering, handhawing van dissipline, delegering en leiding.



Plaasbestuur word gedefinieer as doelwitgerigte besluitneming. Om die beste besluit ten opsigte van boerderykwessies te maak, moet ‘n produsent oor die volgende beskik:



Integriteit en verantwoordelikheid;

Praktiese ervaring;

Tegniese kennis;

Besigheidsvernuf; en

Inligting oor die plaas wat hy bestuur.



Bestuursareas

Die bestuurder/eienaar moet die volgende areas binne die boerderybesigheid bestuur:



Produksiebestuur – fisiese produksie van produkte;

Aankoopbestuur – aankoop van produksie-insette en bates;

Bemarkingsbestuur – verkoop van produkte;

Finansiële bestuur – bestuur van finansies, insluitend belasting, boedelbeplanning, risiko en onsekerheid;

Administratiewe bestuur – bestuur die kantoor en rekordhouding;

Menslike hulpbronbestuur – personeel en arbeid;

PR-bestuur– verhoudings en kommunikasie;

Batebestuur – beheer, instandhouding en verkope;

Voorraadbestuur – beheer; en	

Algemene bestuur – beroepsgesondheid en-veiligheid, brandbeheer, diefstal en plaasveiligheid.



Die verbetering van die bestuur van elk van hierdie areas en hoe om wins te verhoog en te behou, sal in die Pula Imvula gedurende die komende maande bespreek word. Voorstelle en/of aanbevelings oor die verhoging van wins sal ten opsigte van elke bestuursarea gemaak word. ‘n Aanduiding van wat wetlik vereis word, sal ook voorsien word. Dit bly egter die keuse van elke produsent/bestuurder om die wenke aan te wend. Niemand kan gedwing word nie. Indien hulle egter nie aangewend word nie, sal die produsent/bestuurder die verantwoordelikheid van sy besluit dra.







