Machinery (Maize)								Afrikaans
Versorg jou masjinerie wanneer die gejaag verby is
Instructions:
Folio strap: Instandhouding
Byline: Inligting bekom vanaf die Trekker en Plaasimplement Instandhoudingskursus
Gedurende die besige somerseisoen, is daar altyd ‘n gejaag om al die werk in die beskikbare tyd gedoen te kry. Veral gedurende die afgelope somerseisoen, het die reën laat gekom en dus was die tyd beskikbaar meer kosbaar as ooit. 
Gewoonlik is instandhouding en skoonmaak van trekkers en implemente gedurende hierdie tyd onderaan die lys van prioriteite. Noudat die gejaag verby is, moet jy tyd maak om na jou implemente te kyk. 
Instandhouding op alle implemente
Verwyder grond, aanpaksel en ghries van die implemente en verf plekke wat gekrap of verweer is. Dit verhoed dat roes implemente verniel en hulle leeftyd verkort.
Ghries die hele masjien/implement soos in die operateurshandleiding voorgeskryf.
Vir veilige storing, moet opvouseksies tot op die grond gesak word. 
Beskerm alle onderdele wat direk met grond in aanraking kom teen roes met ‘n goeie smeermiddel of roeswerende verf. 
Maak ‘n lys van parte of herstel wat nodig is. Koop en installeer dit voor die volgende seisoen.
Stoor die implement binnenshuis indien moontlik en verwyder gewig van die bande.
Plaas borde onder die implemente om aanraking met die grond te verhoed, asook teen roes te beskerm.
Verwyder hidroliese silinders om te verhoed dat dit roes.
Instandhouding op die planter
Deeglike diens van die planter kan die verskil beteken tussen ‘n winsgewende oes en hoë verliese. Die keuse, plasing, bedekking en vasdruk van saad is die mees kritiese operasie gedurende gewasproduksie. Indien die planter nie goed werk as gevolg van swak diens nie, sal resultate swakker opbrengs as wat verwag is, tot gevolg hê.
Verwyder die kunsmis, onkruiddoder en insekdoder bakke, sowel as die saadbakke om roes en verwering te verhoed. 
Kontroleer vir verweerde of gebreekte parte en vervang dit voor die volgende seisoen.
Bedek alle snylemme wat verantwoordelik is om voortjies oop te sny vir saadplasing en kunsmis en ander gepoleerde dele met ghries om roes te verhoed.
Smeer alle laers. 
Plaas merkers in vervoer posisie stoor die planter in ‘n gebou. Sit die planter op blokke met die wiele weg van die grond.
