Lepati



Die resep vir sukses is ‘n liefde vir boer



Instruksies: 

1: Folio strap: Profiel

2: Byline: Elmarie Cronje, Pula-Imvula redaksionele span



“Ek is vanaand ‘n dankbare man. Ek dank God vir die liefde vir boerdery wat hy in my geskep het.” Dit is die woorde van Lepati Macaphasa, Graan SA/Absa se Ontwikkelende Graanprodusent 2007, wat duidelik wys dat ‘n liefde vir boerdery noodsaaklik is om suksesvol te kan boer. 



Lepati is gebore op ‘n plaas in die Fouriesburg-distrik en sy liefde vir boerdery loop reeds van kindsbeen af saam met hom. Na drie jaar se leer by die plaasskool, het hy sy eerste van 54 jaar se arbeid op die Fouriesburg-plaas begin, waar hy vinnig tot plaasvoorman gevorder het. 



Uiteindelik het hy egter die pad van sy hart gevolg en vir homself ‘n eie stuk grond aangeskaf, wat hy, ten spyte van sy ongeletterdheid, binne veertien jaar tot ‘n suksesvolle boerdery opgebou het. “Ek is een van daardie geëerde mense vir wie God ‘n liefde in die hart gesit het om kos te produseer.”



“Met die begin van my boerdery was dit maklik, omdat ek al soveel jare dié tipe werk doen,” het Lepati oor sy boerdery-loopbaan gesê. Hy besit 506 hektaar grond en huur ‘n ekstra 200 hektaar van ‘n produsent in die Kestell-distrik. Lepati se boerdery bestaan uit twee vertakkings, met gewasse aan die een kant en ‘n suksesvolle veeboerdery aan die ander. 



As deel van die Graan SA Ontwikkelende Produsente studiegroep werk Lepati nou saam met Johan Kriel, die provinsiale koördineerder van die Graan SA Ontwikkelende Landbouprogram in die Vrystaat. “Lepati is ‘n waardige man met ‘n teenwoordigheid, wat respek afdwing by almal wat hom ontmoet. Hy dwing agting af by mense, behandel ander met gasvryheid en is baie lief vir sy kleinkinders,” het Johan vertel. 



Lepati het 320 hektaar grond onder gewasse en volg ‘n wisselboustelsel tussen mielies, koring en suikerbone. Grondmonsters word elke twee jaar geneem om seker te maak die bemestingsformule vir die grond is in die regte verhouding. Onkruidbeheer word chemies en meganies toegepas. Lepati het in die vorige seisoen ook vir die eerste keer BT-mielies suksesvol aangeplant. “Ek sal in die toekoms steeds BT-mielies plant, omdat dit insekbeheer aansienlik 

vergemaklik,” het Lepati vertel. 



As gevolg van die goeie toepassing van meganisasiebeheer is Lepati se trekkers en implemente almal in ‘n goeie toestand. Met die begin van sy boerdery het Lepati ‘n 1974 Ford 5000 by ‘n kommersiële produsent gekry. Hierdie trekker is steeds in ‘n uitstekende werkende toestand, sonder soveel as ‘n olielek. Soos wat Lepati se boerdery gevorder het, het hy ook ‘n Massey 188, Ford 66, Ford 7610 en New Holland 6640 by sy stal gevoeg. Die trekkers word gereeld gediens en deeglike rekordhouding word in hierdie opsig toegepas. 



Lepati se twee seuns, wat ook by die boerdery betrokke is, bestuur die trekkers. Daar is ook twee permanente werkers op die plaas en wanneer dit nodig is, word tydelike werkers ingeneem. 



Geen boerdery is sonder uitdagings nie en in Lepati se geval is die tekort aan elektrisiteit iets wat nog haper. Hy het egter ‘n aansoek tot Eskom gerig om elektrisiteit na sy plaas te laat aanlê, wat hom in staat sal stel om sy trekkers en implemente selfs beter in stand te hou. 



Lepati se veefaktor bestaan uit beeste en skape. Sy beeskudde is hoofsaaklik Bonsmara-kruisings en is ongeveer 85 koeie groot, en sy skape om en by ‘n honderd. Volgens Lepati dra die veeboerdery ‘n kwart van sy algehele boerdery se inkomste by – hy verkoop speenkalwers in die laat herfsseisoen by plaaslike veilings. Sy speenkalwers is van topgehalte en hy het selfs ‘n kompetisie vir die beste groep speenkalwers gewen. Die kompetisie is tydens een van die plaaslike veilings aangebied en Lepati het met verskeie kommersiële produsente om die wenplek meegeding. 386 hektaar van Lepati se grond word as natuurlike weiding aangewend. 



Phuthaditjhaba is Lepati se gekose woonplek, waar hy saam met sy vrou, Nooi, en twee seuns bly. Met die kontantprys wat Lepati gewen het as Graan SA/Absa se Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar, het Lepati aan Johan Kriel gesê: “Weet jy, Johan, nou kan ek nog saad koop en mielies op my ander stuk grond ook plant.” Dis mos hoe ‘n ware produsent praat! 

