Kweekgras (Maize)									Afrikaans



Kweekgras – is daar ‘n kitsoplossing?



Instructions:

Folio strap: Onkruidbeheer

Byline: Dr. Jeanetta Saayman -du Toit, LNR-Graan Gewas Instituut, Potchefstroom, 

Tel: (018) 299-6297

Photos: Figuur 1: Kweek – ranker, meerjarig

 		 Figuur 2: Die blom – inflorescence



Cynodon dactylon (“kitsgras”, kweekgras) het waarskynlik sy oorsprong in tropiese Afrika of Asië. Hierdie gras kom wydverspreid in Suid-Afrika voor en is verantwoordelik vir baie verliese by weiding sowel as graangewasse. 



Kweekgras is ‘n platgroeiende, rankende meerjarige gras wat versprei deur rankers en wortels. Hierdie gras kan ook deur implemente (meganiese grondbewerking) en plaasdiere versprei word. Kweek groei nie baie hoog nie – gewoonlik nie hoër as 40 cm nie. Die saadkop (Figuur 1) bestaan uit drie tot sewe vingeragtige uitgroeisels van ongeveer 3 – 6 cm in lengte Die saad is donkerbruin, glad, blink en ovaal en is van 1,1 mm lank tot 0,7 mm breed. Dit ontkiem maklik en groei welig.



Kweek is so ‘n sterk groeier dat dit in staat is om beton en teer te verwoes. Dié feit maak kweek bruikbaar op areas waar gronderosie beperk moet word. Verskeie kultivars van kweek is ontwikkel vir waterlope (NK37), grasperke, gholfbane en sportvelde. 



Kweek bied sterk kompetisie vir gewasse – van die meerjarige grasse is kweek een van die sterkstes en daarom die moeilikste om te beheer. As gevolg van die feit dat dit deur saad, wortels en lopers versprei word, word effektiewe beheer slegs verkry deur ‘n deeglike kennis van die lewensiklus, metabolisme en voortplanting.



Kweek besoedel lande deur wortelsnysels en saad, wat versprei kan word deur diere, asook plaasimplemente. Soos met ander grasse, ontkiem kweeksaad baie na aan die oppervlak, vorm wortels baie vinnig en ‘n ondeurlaatbare mat word gevorm. Kweek kompeteer met gewasse vir spasie, lig, water en grondvoedingstowwe en vorm aanpaksels op implemente, wat ernstige ekonomiese verliese tot gevolg het. 



Die vraag wat almal vra is: Kan ons kweek beheer? Ja, ons kan kweek beheer, maar daar is geen kitsoplossing nie. Meganiese beheer alleen is nie voldoende nie. Baie dikwels breek meganiese bewerking die lopers en bevorder die groei van die gras, waarna dit vinniger en meer effektief versprei.



Gedurende die herfs (Februarie en Maart) verander die metabolisme van die gras en neem voedingstowwe op in die wortels om te gebruik vir oorlewing gedurende die koue wintermaande. Herfs is dus die perfekte tyd om kweek te spuit. 6 liter “Glyphosate” (Round-up) per hektaar is voldoende vir die beheer van kweek op hierdie stadium. Die “Glyphosate” sal na die wortels vervoer word en die hele plant vernietig. In enkele gevalle waar daar hergroei is, kan die plante individueel behandel word. Dit is belangrik om die gras langs die land, sowel as op die paaie te beheer, omdat dit ‘n bron van herbesoedeling kan wees. 



‘n Ander gepaste metode van beheer is om die lopers en wortels gedurende die winter op te breek deur gebruik te maak van meganiese bewerking. Ná die winterbewerking, gedurende die volgende lente, wanneer die lopers en wortels goed ontwikkel is, kan ‘n aanwending van 6 liter “Glyphosate” per hektaar gebruik word – laat ‘n wagperiode van drie weke toe voordat voortgegaan word met grondvoorbereiding vir die volgende somerseisoen. 



Die beheer van breëblaaronkruide in breëblaargewasse en die beheer van grasonkruide in grasgewasse bly vir produsente ‘n probleem. Dit is daarom moeilik om kweek in mielies te beheer. Indien moontlik, wissel die produksie van mielies af met ‘n breëblaargewas (sojabone, grondbone of sonneblom) en beheer die gras, soos onkruid, gedurende die produksie van breëblaargewasse. Kontak jou naaste landbouchemiese agent vir plaaslike advies. Ná die oes van die breëblaargewas in die winter, kan die wortels en lopers deur bewerking gebreek word en dan opgevolg word deur ‘n aanwending van 6 liter “Glyphosate” per hektaar.



Herhaal die program soos bo. Na twee jaar van behandeling behoort die kweek onder beheer te wees.



Daar is ‘n paar aspekte wat die sukses van hierdie beheerprogram sal beïnvloed:

Wanneer “Glyphosate” aangewend word, moet die kweek aktief groei en moet daar genoegsame blaaroppervlak wees om die chemiese middel op te neem.

Moet nie “Glyphosate” aanwend wanneer die plant onder stres is nie (koue, droogte of versuiping) omdat dit die opneem negatief sal beïnvloed.

Volg die instruksies op die etiket noukeurig. 

Wees versigtig vir chemiese afloop na ander gewasse.

Neem kennis van die feit dat “Glyphosate” sensitief is vir die kwaliteit van water wat gebruik word.

Die byvoeging van ammoniumsulfaat by “Glyphosate” kan onder sekere omstandighede aanbeveel word.

Onthou dat besparing op die kort termyn baie duur in die lang termyn kan wees – gebruik die aanbevole dosis van die chemikalieë indien effektiewe beheer vereis word. 

