Knowing

Ken die mielieplant



Instructions: 

Folio strap: Waarde toevoeging

Byline: Inligting verkry vanaf die Graan SA handleiding: Mielieproduksie en bemarking



Plante word in twee breë groepe geklassifiseer – die breëblaar plante (tweesaadlobbig) en die smalblaar plante (eensaadlobbig). Die are van smalblaar plante loop parallel met die blaaroppervlak, terwyl die are van breëblaar plante vertak is. 



Die belangrikheid van hierdie verskil kan nie genoeg beklemtoon word nie omdat chemiese onkruidbeheer van die verskil tussen hierdie twee hoof groepe afhang. 

 

Dele van die plant

Pluim

Blaar

Stuifmeeldrade 

Mieliekop

Stam 



Wortels

Die doel van wortels is om die plant in ŉ regop posisie te hou en om water en voedingstowwe uit die grond te absorbeer. 



Die mielieplant het ŉ goed vertakte wortelstelsel en kan onder optimale toestande ŉ wortelstelsel van so lank as 1 500 m hê. Indien die wortelstelsel optimaal kan ontwikkel, kan die wortels 1,5 m versprei na die kante toe en tot ŉ diepte van 2 m groei. 



In breë trekke is daar twee tipes wortelstelsels – die penwortel (een baie lang, baie sterk wortel wat ŉ paar bywortels mag hê) en die bywortelstelsel (baie wortels wat in verskillende rigtings in die grond groei). Die mielieplant het ŉ bywortelstelsel en daarmee saam ontwikkel stutwortels wat die plant stut terwyl dit langer word en die blomstadium bereik. Dit is dik, gekleurde wortels wat wasagtig voorkom en bokant die grond ontwikkel.



Stam

Die stam van die mielieplant is silindervormig. Dit is duidelik sigbaar dat daar nodusse is (waar die blare ontwikkel) en internodiums (die area tussen die nodus). Die lengte van die stam word bepaal deur die kultivar en die groeitoestande. 



Die mielieplant kan tussen 8 en 21 internodiums hê. Die verskillende internodiums kan verskillende lengtes hê. Die mieliekop ontwikkel gewoonlik op die agtste nodus. 



Blare

Twee blare ontwikkel vanaf elke nodus. Die doel van die blare is om sonlig te absorbeer en om op te tree as ŉ fabriek om kos vir die plant te vervaardig. Die blare op die mielieplant kom alternatiewelik op die stam voor en kom voor in twee teenoorgestelde rye op die plant. Die blaar is lank, smal en vernou na die punt. Die blaar word ondersteun deur ŉ prominente blaar rif in die lengte. 



Die blaar van die plant haal asem deur baie klein ‘kliertjies’ wat op die oppervlak van die blaar voorkom. Dit word stomata genoem. Daar is meer stomata op die onderste blaaroppervlak, alhoewel daar stomata op die boonste blaaroppervlak ook is. Die stomata het ŉ meganisme waarmee die selle vog verloor wanneer dit warm en droog is en die blaar laat vou. Hierdie proses laat die blaar toe om na binne te vou en dit verhoed vogverlies. Gedurende baie droë en warm tye, is die plant in staat om die blare te vou gedurende die warmste deel van die dag en op hierdie manier vog te bewaar. Later gedurende die dag wanneer die temperature val, is die proses omgekeer en die blare is dan in staat om normaal te funksioneer. Indien die baie warm en droë toestande vir verlengde periodes voortduur kan die proses nie omgekeer word nie en die blare sterf af – hierdie is dan permanente skade en sal ŉ negatiewe effek op die graanopbrengs hê. 



Blomme

Die mielieplant het beide manlike en vroulike blomme – dit laat selfbestuiwing toe. Die vroulike deel ontwikkel in die mieliekop, terwyl die manlike blom die pluim aan die boonste deel van die plant vorm. Elke potensiële mieliepit is verbind met ŉ baie dun pypie (die stuifmeeldrade). Die stuifmeel van die manlike blom (helmknop) val op die vrugbeginsel en groei af met die styl (stuifmeeldrade) na die eiersel (die baie klein mieliepitjie). Bevrugting vind plaas wanneer die stuifmeel die eiersel bereik. 



Wanneer die toestande baie warm en droog is, is dit moontlik dat die stuifmeeldrade kan opdroog en dan bevrugting verhoed. In hierdie geval sal daar min of geen saad op die kop wees nie. Die stuifmeeldrade is ontvanklik vir bevrugting vir ongeveer 10 tot 14 dae. Dit is krities om matige weer te hê gedurende hierdie baie sensitiewe fase. 



Saad

Die totale proses van mielieproduksie is gefokus op saadproduksie. Die kwaliteit en kwantiteit van die saad is beslissend in terme van die winsgewendheid van die boerdery. 



Faktore wat die kwaliteit en kwantiteit van saad beïnvloed is siekte, voedingsbehoeftes van die plant, vogbeskikbaarheid en temperatuur tydens verskillende fases en kultivar keuse. 



Fases in die ontwikkeling van plante

Die belangrikheid van hierdie differensiasie is dat daar sekere chemikalieë is wat toegedien moet word voor-opkoms en ander wat na-opkoms toegedien moet word.



Voor-opkoms

Voor-opkoms beskryf die tydperk tussen die aanplant van die gewas (die ontkiemingsperiode) maar voordat die plant opkom uit die grond.



Na-opkoms

Dit beskryf die tydperk nadat die saad ontkiem het en reeds bokant die grond verskyn het. 



Groeifases

Die groeifases van die mielieplant word in identifiseerbare fases van 0 tot 10 genommer. 



Groeifase 0: Van plant tot opkoms

Die mielieplant word tussen 2,5 cm en 5 cm onder die oppervlakte van die grond geplant. Tydens warm en vogtige toestande neem die saad tussen ses en tien dae om op te kom. Tydens koel en droë toestande kan die saad tot twee weke neem om op te kom. Die optimum temperatuur bestek vir ontkieming is tussen 20°C en 30°C. Die optimale grondvoginhoud behoort ongeveer 60% van die landkapasiteit te wees. (Te veel of te min water sal ontwikkeling strem).



Die maksimum aantal blare en syspruite word geneties bepaal. ŉ Nuwe blaar ontvou elke drie dae. Gedurende hierdie stadium is die groeipunt nog steeds onder die oppervlak. Vorming van die pluim vind gedurende hierdie stadium plaas.



Groeifase 1: Vier blare heeltemal ontvou 



Groeifase 2: Agt blare heeltemal ontvou

Gedurende hierdie periode neem die blaar area vyf tot tien maal toe, terwyl die stam massa 50 tot 100 maal toeneem. Kopvorming vind gedurende hierdie tydperk plaas. Nuwe uitlopers begin ontwikkel vanaf die nodus onder die grondoppervlak. Die groeipunt is 5 cm tot 7,5 cm bokant die grondoppervlak.



Groeifase 3: Twaalf blare heeltemal ontvou

Die pluim begin baie vinnig ontwikkel. Syspruite wat koppe dra begin vinnig ontwikkel vanaf die sesde tot die agtste nodus bokant die grondoppervlak. Die potensiële aantal saadpitte op die kop is alreeds bepaal.



Groeifase 4: Sestien blare heeltemal ontvou

Die stam word vinnig langer en die pluim is byna heeltemal ontwikkel. Style begin ontwikkel en verleng vanaf die basis van die boonste kop.



Groeifase 5: Styl verskyning en stuifmeel storting

Alle blare is heeltemal ontvou en die pluim is binne twee tot drie dae sigbaar. Die syspruit wat die hoofkop dra, asook die skutblaar is byna volwasse. Gedurende hierdie stadium is die voedings- en vogbehoeftes hoog. 



Groeifase 6: Groenmielie fase

Die kop, syspruite en die skutblare is heeltemal ontwikkel. 



Groeifase 7: Sagte deeg stadium

Graanmassa hou aan vermeerder.



Groeifase 8: Harde deeg stadium

Die saad begin verhard.



Groeifase 9: Fisiologiese volwassenheid

Wanneer die pit sy maksimum droë massa bereik het, ontwikkel ŉ laag swart selle aan die basis van die pit. Graan is fisiologies volwasse en slegs die voginhoud moet voor stroop verlaag word.



Groeifase 10: Droog van die pitte (biologiese volwassenheid)

Die graan moet die voginhoud verlaag om biologiese volwassenheid te bereik. Droging vind plaas met ongeveer 5% per week tot die 20% vlak, waarna daar ŉ afname in die drogingsproses is. 









