Help (Maize)										Afrikaans





Help my asseblief – ek wil boer!





Instructions: 

Folio strap: Waardetoevoeging

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir produsente



Daar is baie produsente wat ons skakel met die versoek – “Help my asseblief, ek wil boer”. Sommige besit niks, terwyl ander oor grond en toerusting beskik. Boerdery is ‘n besigheid en om ‘n besigheid te bestuur, is moeilik – jy moet toegerus wees, toegewyd wees en oor die kennis beskik. 



Vir diegene met aspirasies om produsente te wees, maar nie toegang tot grond of masjinerie het nie, is die probleem meer ingewikkeld. Onthou egter dat dit nie noodsaaklik is om grond te besit om ‘n produsent te wees nie. In werklikheid is alle grond net aan ons geleen – ons moet die aarde versorg en grond sal steeds daar wees wanneer ons al dood is. Indien jy ernstig is oor boerdery, verkry toegang tot grond, al is dit klein, en begin. Jy kan grond huur (onthou dat privaatgrond gehuur kan word en baie munisipaliteite het ook dorpsgrond wat gehuur kan word). Jy moet begin oefen – jy kan nie ‘n produsent wees vanuit boekekennis nie, omdat die praktiese deel van boerdery baie meer ingewikkeld as die teoretiese deel is. 



Die volgende wat noodsaaklik is, is kennis – boerdery het baie fasette. Afhangende van die tipe boerdery wat jy beplan, mag dit noodsaaklik wees dat jy kennis moet dra van plante (alle graan en oliesade-gewasse, groente, voergewasse en vesel), diere (grootvee, kleinvee, pluimvee, wild en varke), masjinerie (trekkers, planters, spuite en bewerkingstoerusting) en die belangrikste moet jy kennis dra van die bestuur van die hulpbronne wat jy gaan gebruik (kapitaal, arbeid, masjinerie en grond).



Indien jy toegang tot ‘n klein stukkie grond het, selfs net ‘n hektaar of twee – kom aan die gang! Wanneer jy ‘n begin gemaak het, is jy reeds op pad om ‘n kommersiële produsent te word. Jy het die korrekte manier geleer om alles te doen – doen dit reg. Ongelukkig kom ons mense teë wat die regte metodes geleer het, maar aanhou om dinge op dieselfde ou manier te doen. Oprah Winfrey sê, “If people know better, they do better”. Indien jy geleer het hoe om grondmonsters te neem om die voedingstatus van jou grond te bepaal – doen dit! Wanneer jy kunsmisaanbevelings terug ontvang – gebruik die regte kunsmis (selfs al is dit op een hektaar). Koop die regte saad, maak seker dat jy die regte aantal plante in die ry plant en dat jou ry spasiëring reg is. Beheer jou onkruid – onkruid is die nommer een vyand by gewasverbouing, hulle steel van jou gewas! Hulle steel water, voeding, sonlig en lug – niemand kan dit bekostig nie, selfs nie eers jou gewasse kan bekostig dat iets van hulle steel nie.



Wanneer jy seker is dat jy verstaan wat boerdery behels, is dit tyd om die grootte van jou grond uit te brei. Ons hoor so baie mense sê dat hulle te min grond het om op te boer – gebruik jy die grond wat jy het optimaal? Is dit moontlik om meer te produseer op die klein stukkie wat jy het? Gebruik jy al die raad wat jy kan. Onthou dat daar altyd mense is wat meer weet as jy en hulle is gewoonlik bereid om jou te help. 





