

Heart (Maize) 									Afrikaans

		

Graan SA – die hart van die graanindustrie



Instructions: 

Folio strap: Waardetoevoeging

Byline: Jenny Mathews, voorsitter van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente



Graan SA bestuur ‘n Ontwikkelingsprogram vir Produsente wat deur die Mielie Trust, die Olie en Proteïnesade Ontwikkelingstrust, Sorghum Trust en die Wintergraan Trust befonds word, met die doel om die produsente van Suid-Afrika met kennis te bemagtig deur opleiding en diens met praktiese ondersteuningstrukture wat maklik toeganklik is. 



Omdat Graan SA ‘n span kundiges het wat ideaal geposisioneer is om top kwaliteit vaardighede en kennis aan die nuwe produsente van Suid-Afrika te lewer, is dit baie vinnig besig om erkenning te verdien as ‘n leier op die gebied van produsente-ontwikkeling in die land. Die lede van Graan SA glo dat hierdie program sal help met die transformasieproses, deur voorheen benadeelde individue te bemagtig om in die graanindustrie op ‘n billike vlak te kompeteer. Dit is egter belangrik dat dit duidelik verstaan moet word wie Graan SA is en watter rol die organisasie in die breër konteks van landbou in Suid-Afrika speel.



Wie is Graan SA?

Graan SA is ‘n vrywillige organisasie met ‘n gespesialiseerde fokus op die nasionale en internasionale graanindustrie. Die fokus is om die belange van al die graanprodusente van Suid-Afrika te bevorder.



Enige aktiewe graanprodusent wat die doelwitte van Graan SA onderskryf, mag by die organisasie aansluit en word aangemoedig om dit te doen nadat die vereiste ledegelde betaal is.



Watter rol speel Graan SA in die Suid-Afrikaanse landbou omgewing?

Graan SA is kundig oor die nasionale en globale graanindustrie en sy doel is om op te tree as ‘n mondstuk vir al die graanprodusente in Suid-Afrika op so ‘n wyse dat dit die belange van graanprodusente en die breër netwerk van die graanindustrie bevorder.



Graan SA tree as ‘n waghond vir die industrie op en raak namens sy lede betrokke by die beleid en besluitnemingsprosesse wat die belange van graanprodusente beïnvloed. Graan SA is aktief besig om die siening en opinies van graanprodusente aan die regering voor te lê, probleme op te los en wetgewing, in samewerking met die regering, daar te stel.



Die primêre fokus van Graan SA is om te streef na effektiewe produksie en ‘n billike bemarkingsomgewing vir graan. Die organisasie is ook diep betrokke by alle ander rolspelers in die waardeketting, om die wedywering van die groter graanindustrie – in kompetisie met groot internasionale rolspelers, soos die VSA en Brasilië – te verbeter.



Graan SA funksioneer deur gespesialiseerde werkgroepe

Hierdie groepe bestaan uit Graan SA personeel, gespesialiseerde kundiges en produsente op die uitvoerende komitee. Te midde van ander funksies, doen hulle die volgende:



Maak dit ‘n prioriteit om die transformasie van die landbou-omgewing te ondersoek en aktief betrokke te raak by ministeriële advieskomitees om ‘n billike proses en gelyke geleenthede vir alle graanprodusente in die land te verseker;

Monitor die inset en produksiekoste vir alle graan; 

Tree op as ‘n waghond vir kwaliteit dienste en produkte gelewer aan graanprodusente;

Onderhandel, namens produsente, met agri-besighede regoor die waardeketting;

Bestudeer die globale handelsomgewing en beding vir regeringsbeskerming vir die graanprodusent om ‘n gelyke speelveld te verseker;

Verseker dat relevante navorsing gedoen word sodat Suid-Afrikaanse graanprodusente met kennis en tegnologie toegerus kan word, wat hul kompeterend sal hou; en

Ondersoek die omgewing namens nuwe produsente en streef daarna om toegang tot die graanproduksie en bemarkingsarenas te bevorder. Hierdie groep monitor ook die werk van die Ontwikkelingsprogram vir Produsente.



Dit is duidelik dat, alhoewel Graan SA nie enige finansiële bystand aan lede verleen nie, dit die nodige ondersteuning en kundigheid aan elke graanprodusent in die land voorsien. Die aktiwiteite van hierdie organisasie maak dit moontlik vir produsente om te fokus op dit wat hulle die beste kan doen – om graan te verbou en te bemark! Dit is nodig dat alle graanprodusente verstaan dat Graan SA baie meer bied as net kennis en opleiding!



Elke graanprodusent van Suid-Afrika moet daarna streef om ‘n volle lid van Graan SA, met volle stemreg, te word. Graan SA is die graanprodusent se oë, ore en mond in ‘n toenemend, ingewikkelde landbou-omgewing, wat toenemende druk van eksterne kragte, soos globale kompetisie, ervaar. Indien dit ‘n uitdaging vir goed gevestigde graanprodusente is om in hierdie markte te kompeteer, hoeveel moeiliker is dit vir nuwe produsente om hulself as suksesvolle, volhoubare kommersiële produsente te vestig? Sonder die ondersteuning van ‘n kundige, gevestigde struktuur in die vorm van Graan SA, sal die bedinging en beskerming van die belange van alle graanprodusente in hierdie land op die spel geplaas word.







