Harvest



Dis oestyd!



Instructions:

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram

Die meegaande foto’s dui aan watter rampe produsente kan oorval indien sy/haar reëlings vir stropers nie in plek is nie. Hierdie foto’s is geneem in Februarie in lande in die Oos-Kaap – hierdie koring is nooit geoes nie en die lande moes afgebrand word! 



Dit is ‘n groot jammerte om na ‘n jaar se harde werk nie die graan in die silo te kry nie en baie moeite moet gedoen word om te verhoed dat dit gebeur. 



Ongelukkig is koring ‘n gewas wat meganies geoes moet word om optimale opbrengs en graad te verseker en wat daarmee gepaard gaan, is die feit dat koringstropers self-aangedrewe is wat dit betreklik duur masjinerie maak. Die gradering van koring is krities vir die prys en koring se graad verlaag baie vinnig as dit nie op die korrekte tyd geoes word nie. Die koring moet so gou as moontlik geoes word, want slegs ‘n klein hoeveelheid reën kan die graad van die koring beskadig en dan tot produksieverlies lei. 



Die meeste klein produsente maak egter staat op stroperkontrakteurs om hulle graan te oes. Daar is egter ‘n paar probleme en uitdagings wat hiermee gepaard gaan: 

Die stroperkontrakteur 

Gaan gewoonlik vroeg in die seisoen ‘n ooreenkoms aan met die produsent.

Hy is gedrewe om soveel as moontlik hektare te oes, omdat dit ‘n groter inkomste beteken.

Hy kan nie voorspel wanneer en waar dit gaan reën nie en dit kan vertraging tot gevolg hê.

Verkies om groot lande sonder kontoerwalle te oes aangesien die masjien meer hektaar per dag kan stroop as gevolg van minder draaie in die land.

Wil nie wag vir sleepwaens nie. 

Word betaal volgens die hoeveelheid hektaar geoes en nie volgens die graad van die produsent se graan nie.

Staar vertraging in die gesig – omdat masjiene hard werk, kan masjinerie breek wat nie vooruit voorspel kan word nie.

Kan nie altyd onderdele in die hande kry nie, want al hierdie dinge gebeur tydens Kersfees en Nuwe Jaar wanneer meeste mense op vakansie is.



Al hierdie dinge klink baie negatief, maar dit is noodsaaklik om die struikelblokke raak te sien en om voldoende te beplan om die probleme te oorkom. 

Die produsent moet:

Vroegtydig reëlings tref met kontrakteurs.

Probeer om te verseker dat die kontrakteur homself nie oorbelas het met werk nie.

Seker maak dat daar so min as moontlik klippe op die landerye is wat die stropertafel kan beskadig.

Reëlings tref dat genoeg sleepwaens beskikbaar is en sodoende vertragings verhoed.

Reëlings tref vir berging van koring indien dit nie dadelik gelewer kan word nie.

Reëlings tref met die plaaslike silo’s vir die droog van die koring, want daar bestaan ‘n kans dat dit gedoen sal moet word. 



Daar is twee opwindende dinge omtrent die oesseisoen – die voltooiing van een oessiklus en ook die begin van ‘n volgende seisoen. Vir die produsente wat koring in die Vrystaat produseer, is die hele aspek van die behoud van voginhoud in die grond seker die belangrikste aspek van die hele koringproduksie proses op ‘n somer braakland. 



Die belangrikheid in die behoud van grondvog inhoud kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die proses moet onmiddellik begin na die oes van die vorige gewas. Daar bestaan drie vyande in die behoud van grondvog:

Afloop wat gebeur as gevolg van ‘n te harde oppervlakte waar water nie kan penetreer nie of swaar reën wat nie penetrasie toelaat nie.

Die beweging van grondvog na die oppervlakte waar dit dan verdamp en verlore gaan in die atmosfeer. Dit gebeur wanneer die oppervlakte gekompakteer en hard is. 

Die kompetisie van onkruid. Onkruid op die landerye gebruik die vog wat jy as produsent probeer behou vir die volgende gewas. 



Jy moet jou lande vanaf die tyd wat die vorige gewas geoes is bestuur tot wanneer jy die volgende oes wil plant om te verseker dat jy soveel water as moontlik in die grondprofiel behou. Die sukses van die volgende oes hang grootliks van jouself af. 



