

Graanprodusent								Afrikaans



Ontmoet die genomineerdes – Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar



Instructions: 

Folio strap: Graanprodusent van die Jaar

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelings program vir produsente


Die ses genomineerdes wat sal meeding om die titel, Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar, is onlangs aangewys. Die wenner sal op 17 Oktober tydens ‘n glansgeleentheid van Graan SA aangekondig word. Die genomineerdes is:

 
Deliwe Ntebele Mutlwane
Deliwe is gebore in 1961 in Krugersdorp Kagiso as die oudste kind van mnr en mev Ntebele. Haar pa was ‘n produsent en haar ma ‘n verpleegster. Deliwe is getroud met mnr Olebogeng Mutlwane en hulle het twee kinders. Sy kry haar motivering en ondersteuning van haar skoonma en haar man.

Deliwe was in Laerskool Aobakwe op Itsoseng in die Noord-Wes Provinsie en in Hoërskool Reeitumetse, waar sy Graad 12 voltooi het. Sy sit haar studies voort by Bethal seminaar waar sy ‘n onderwyskursus doen asook ‘n N6-boukursus. Sy doen daarna bouwerk vir die plaaslike Regering en Behuising. 

In 1991 gee Deliwe haar beroep prys en begin deeltyds boer. In 2002 word sy voltyds produsent. Sy huur ‘n plaas, Marotse, (Delareyville-omgewing) en boer ook saam met haar skoonma. Sy is ‘n lid van die Frischgewaagd studiegroep in die Delareyville-omgewing; het kursusse bygewoon en woon steeds kort kursusse by soos trekker-en-plaasimplement instandhoudingskursus, inleiding tot mielieproduksie, gevorderde mielieproduksie en bemarking, Agri-besigheidsbestuur en projekbestuur van Graan SA, NWK en “Promise Farmer” en “Business Today”. 


Deliwe is ‘n onafhanklike sonneblom- en mielieprodusent vir die afgelope vier jaar en besit ook lewende hawe, soos beeste, varke, bokke en skape. 

Isaac Khuto

Isaac Khuto is in 1944 in Boksburg gebore, waar sy pa as ‘n klerk in ‘n winkel gewerk het. Op tweejarige ouderdom het sy ouers hom Ficksburg toe gestuur om op ‘n plaas saam met sy oom en tante te bly, waar hy sy kinderjare deurgebring het. Vanaf sewejarige ouderdom kan hy onthou hoedat hy skape opgepas het en kan vandag nog die reuk van gras vroegoggend ruik, toe die lig so skoon was dat hy die berge in Lesotho kon sien. Terwyl hulle die trekkers in die lande van Lesotho dopgehou het, het hy altyd gewonder hoe dit sou wees om een te bestuur. 

Isaac het ‘n plaasskool bygewoon en ook later ‘n hoërskool in Ficksburg, waar hy Graad 8 geslaag het. Hy het vir twaalf jaar vir Frasers in Ficksburg gewerk. Sy belangstelling in handel het daartoe gelei dat hy op sy eie begin het met die koop en verkoop van groente en vrugte. Omdat die besigheid gegroei het, kon hy sy eerste taxi koop en het hierdie besigheid tussen 1978 en 1998 ontwikkel. In 1983 het hy ‘n geleentheid gesien in die gasvryheidsbedryf en ‘n hotel/gastehuis gekoop. Hy besit steeds die hotel en het ‘n dranklisensie. 

Isaac was ook ‘n professionele bokser. Hy het in 1960 as ‘n amateur begin en later ‘n beroepsbokser geword. Hy sê: “In die bokskryt is dit net jy en jou vermoëns”, en dit is waar hy geleer het om op homself staat te maak. “Jy kan nêrens wegkruip of weghardloop nie en jy leer om die lewe in die oë te kyk”, het Isaac gesê. Isaac rig steeds die Fickburg boksklub af, was die voorsitter van die Vrystaat boksklub en is huidiglik die provinsiale voorsitter van die Vrystaat Boks Federasie. Hy is ook voorsitter van die Imperani studiegroep van Graan SA op Ficksburg. 

Isaac koop die plaas, Diyatalana, van 230 ha, in 1998 en begin sy beroep as ‘n produsent. Hy wou die hele plaas van 460 ha koop, maar was bang vir te veel skuld – die plaas is verdeel in twee en hy het een helfte gekoop. In 2006 was hy in staat om ‘n addisionele 65 ha hoëpotensiaal bewerkbare grond naby hom te huur. 

In 2007/2008 oes hy gemiddeld 3,5 ton per ha koring op 79 ha en ten spyte van haelskade op sy mielies is die oes tans op die land nog goed. 

Isaac is getroud met Lerato en hulle het ‘n seun en twee dogters.

Maphale Samuel Moloi
Maphale is gebore op die plaas, Magdalena waar sy pa ‘n plaaswerker was in die Fouriesburg-distrik. Hulle was agt kinders: twee seuns en ses dogters. Hy gaan skool in die Mashaeng area buite Fouriesburg, waar hy Graad 12 slaag. Oor naweke het hy uitgehelp op die plaas van mnr Linde du Plessis, waar hy trekker bestuur het. Maphale het gesien hoe mnr du Plessis die grond bewerk het en het altyd daarvan gedroom om sy eie plaas te besit. “Mnr du Plessis het baie gehelp om my belangstelling te prikkel en ek het ook geluister na mev Jane McPherson oor Lesedi FM wanneer sy oor graanboerdery praat . Sy het my geïnspireer om my droom waar te maak,” het Maphale gesê.

Maphale het vanaf 1993 tot 2007 vir Binnelandse Sake gewerk op die Fouriesburg grenspos. In 1996 begin hy boer met beeste en skape op gemeenskapsgrond by Fouriesburg. In 2004 huur hy 30 ha vanaf ‘n kommersiële produsent, mnr Osborne, en plant mielies. In 2006 huur hy 179 ha vanaf Fouriesburg munisipaliteit en dit is waar hy tans boer. “Ek mag moontlik vanjaar 400 ha hoëpotensiaal grond huur, maar Graan SA moet eers kom en kyk na die grond,” sê Maphale. 

Maphale is getroud met Dianne en hulle woon in Mashaeng met hulle drie kinders.

Boy Mokoena
Boy is in 1948 gebore op ‘n plaas in die Middelburg-distrik waar sy pa ‘n plaaswerker was.  Hy het skoolgegaan by die plaaslike plaasskool, waar hy Graad 5 geslaag het. Gedurende hierdie tyd was sy pa ‘n deeltydse produsent op gemeenskapsgrond in die Vlaklaagte-area. Boy vertel hoe hy onthou dat hy saam met sy pa geboer het, en hoe hulle nog osse gebruik het om die ploegwerk te doen. 
 
In 1981 het Boy op sy eie begin boer op 10 ha staatsgrond, wat hy huur. Hy verkry later toegang tot 50 ha grond in die Vaalspruit area (naby Bronkhorstspruit). Tans boer hy op 545 ha wat hy huur van die staat en huur ook 300 ha goeie bewerkbare grond vanaf aangrensende produsente. Hy het vanjaar mielies op al sy lande geplant. Boy besit ook 300 beeste wat hy laat wei op gemeenskaplike grond in die somermaande en dan op die mielielande gedurende die winter. 

Boy is getroud met Linah, sy skoolliefde. Hulle het vier kinders. Hy is ‘n aktiewe lid van ‘n Graan SA studiegroep en het ‘n Mielieproduksiekursus, asook ‘n Trekker en Plaasimplement Instandhoudingskursus bygewoon. Gedurende die volgende paar maande sal hy ‘n Gevorderde Mielieproduksie- en Bemarkingskursus, asook die Agri Besigheids Bestuurskursus bywoon. 

Labious Manoto
Labious se pa is van Koppies in die Vrystaat. Hy vestig hom op Lombaardslaagte waar Labious in 1948 as een van twaalf kinders gebore is. Sy pa het besef dat hulle goeie bewerkbare grond besit en het begin ploeg deur van osse gebruik te maak. “My liefde vir boerdery is iets wat ek van my pa geërf het,” sê Labious.

Labious slaag Graad 8 in 1966, waarna hy ‘n boukursus in 1969 voltooi. Hy het skole gebou vanaf 1970 in die Mafikeng omgewing en ook gewerk aan die eerste dubbelverdiepinggebou in Mafikeng. Daarna het hy vir die Departement van Openbare Werke gewerk. 

“Omdat ek ‘n liefde vir boerdery het, het ek in 1975 deeltyds begin boer. Ek het 15 ha van my eie grond (in die gemeenskapsomgewing) en ek huur nog 30 ha,” sê Labious. Gedurende die tyd toe hy vir die Departement Openbare Werke gewerk het, was hy geregtig op 30 dae verlof per jaar. Hy het seker gemaak dat hy hierdie verlof neem gedurende die plantseisoen, sodat hy ‘n oog kon hou op die aanplant van sy gewasse. Labious het een werker gehad en hulle het dag en nag gewerk gedurende die plantseisoen – op sy Massey Ferguson 65. “Gedurende die week het ek in die dorp gewerk en naweke huis toe gekom om na die boerdery om te sien,” sê Labious. 

Sy boerdery het vergroot en vanaf 1991 woon hy op die plaas en ry elke dag werk toe. Labious het deeltyds geboer tot 1996 en het op daardie stadium 500 ha bewerk. Sedert 1997 boer hy voltyds en plant tans in die omgewing van 1 000 ha. 

Samuel Nyambose
Samuel is gebore op ‘n plaas in die Reitz-distrik, waar sy pa ‘n plaaswerker in 1944 was. Hy is een van vyf seuns. Hy woon ‘n skool in Reitz by en slaag Graad 8. Na skool gaan hy Johannesburg toe waar hy vir ses jaar as ‘n nutsman by ‘n ingenieursmaatskappy werk. Daarna is hy na Phuthaditjhaba, waar hy ‘n klein kruidenierswinkel geopen het. “Omdat ek op ‘n plaas gebore is, wou ek altyd ‘n produsent wees en toe ek in 1997 die kans kry om ‘n plaas te huur in die Kaallaagte-distrik, het ek die geleentheid aangegryp,” sê Samuel. Hy woon vir drie jaar op hierdie eiendom. In 2000 koop hy die plaas, Lorelei, in die Paul Roux-distrik met ‘n skenking van R30 000 en ‘n lening van die Land Bank. 

“Daar was moeilike tye, maar met die hulp van Graan SA en OVK was ek in staat om vanjaar my produksielening by OVK en die Land Bank af te betaal en ek het nog geld oor om 30 ha koring te plant,” sê Samuel.

