Food



Wees veilig met voedsel 



Instructions:

Folio strap: Voedselveiligheid

Byline: Aangepas vanaf www.health24.com



Die eet en drink van voedsel en water wat besmet is, kan tot verskeie infeksies lei.

 

Voedselvergiftiging is ŉ algemene term vir infeksies wat deur voedsel veroorsaak is. Tipiese simptome van voedselvergiftiging sluit die volgende in: maagkrampe, diarree, naarheid en braking. Bakterieë is die algemeenste oorsaak van voedselvergiftiging, gevolg deur virusse en parasiete. 



‘n Mens kan nie altyd vasstel of voedsel of water besmet is deur hoe dit lyk, ruik of proe nie, maar jy kan egter die risiko grootliks verminder deur die volgende basiese stappe te volg. 



Persoonlike higiëne

Was jou hande gereeld en deeglik met seep en water, veral, 

nadat jy by die toilet was; 

nadat jy aan diere gevat het; 

nadat jy genies het of jou neus geblaas het; 

voor en na voedselvoorbereiding; 

nadat jy vleis, vis of pluimvee hanteer het.

Verbind wonde op jou hande om besmetting te verhoed wanneer daar met voedsel gewerk word. Maak seker dat verbande en pleisters skoon is. 



Drinkwater

Kook drinkwater voordat dit gedrink word as jy onseker is oor die suiwerheid daarvan. Kraanwater is gewoonlik skoon, maar water van ander bronne, soos riviere en putte, is nie. 

Stoor veilige water in ŉ skoon, bedekte houer – verkieslik in ŉ yskas. 

Maak seker dat koeldranke en ysblokkies met skoon water gemaak word. 

Onthou om nie onveilige water in te sluk terwyl daar gebad of geswem word nie. 



Kombuis higiëne

Was oppervlaktes soos die kombuistafel, werkoppervlak of wasbak voor en na voedselvoorbereiding. Hou voedselstoorplekke (soos rakke en yskaste) skoon. 

Maak onmiddellik skoon nadat daar gemors is. 

Gebruik verskillende lappe vir die kombuis en die res van die huis. 

Ontsmet kombuislappe, sponse en skuurders met bleikmiddels en laat dit in die son (wat help om die kieme dood te maak) droog word. Indien jy oor ŉ mikrogolfoond beskik, plaas lappe, sponse en skuurders in die mikrogolf vir 60 sekondes om kieme dood te maak. 

Was die kombuisvloer ten minste een keer per week met lappe wat slegs vir dié doel gebruik word. 

Was borde, eetgerei en snyborde baie goed – verkieslik in warm seepwater wat jy vervang wanneer dit te vuil word. Spoel borde, indien moontlik, met skoon water af. 

Vervang gekraakte of erg gekrapte eetgerei. Kieme woon in krake in koppies en borde en in die krapmerke op plastiese houers en snyborde. 

Gebruik ŉ snybord vir rou voedsel. Gebruik verkieslik een snybord vir vleis, vis en pluimvee en een vir ander voedsel of was die snybord goed met warm seepwater vir gebruik met ander voedselsoorte. Plastiek of klip borde is die veiligste om vir rou vleis te gebruik. 

Moet nie gerei weer gebruik nadat dit met rou vleis, vis of hoender in aanraking gekom het nie, tensy dit ordentlik gewas is nie. 

Hou vullis in ŉ bedekte drom wat jy gereeld uitgooi en skoonmaak. 

Hou die kombuisdeur en vensters soveel as moontlik oop om goeie ventilasie te verskaf – dit help in die voorkoming van skimmel en fungusse. 



