Finalist (OPOT) 									Afrikaans

Ontmoet die Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaarfinaliste 



Instructions: 

Folio strap: Finalis

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente 

Photos: Use the various photos



Ons kan uiteindelik die finaliste vir die Ontwikkelende Graanprodusent van 2009 aankondig. Baie geluk aan Samuel Moloi, William Matasane en Philip Xaba – mag die beste man wen. Die wenner sal op 9 Oktober tydens ‘n funksie in Midrand aangekondig word. 



Samuel Moloi – Fouriesburg

Samuel is gebore op 3 Maart 1969 op die plaas Magdalena, waar sy pa as plaaswerker gewerk het. Hy was een van agt kinders. Hy het skool gegaan op Mashaeng, net buite Fouriesburg, waar hy graad 12 voltooi het. 



As kind het Samuel soveel moontlik op die plaas gewerk en gedroom om eendag sy eie plaas te besit. Samuel is getroud met Diane, ‘n onderwyseres in Fouriesburg, en hulle het drie kinders. 



Samuel besit nie sy eie grond nie en was dit nie vir die Ontwikkelingspan vir Boere van Graan SA nie, sou hy nooit vandag geboer het nie. Hy het daarin geslaag om goeie, diep grond, vir ‘n termyn van vyf jaar, by die Fouriesburg Munisipaliteit te huur. 



Hy het ook daarin geslaag om addisionele grond by ‘n groep plaaswerkers, wat deel vorm van ‘n grond hervormingsprojek, en wat self nie die grond kon benut nie, te huur. Samuel produseer huidiglik gewasse op 375 hektaar. Hy maak gebruik van ‘n wisselboustelsel met mielies, sonneblom en koring. 



Samuel verstaan die noodsaaklikheid van diep grond by gewasproduksie. Hy is altyd op die uitkyk vir goeie grond om te huur en ry dus met sy grondboor oral saam met hom op die bakkie rond. Aangesien Samuel nie sy eie grond besit nie, het hy geen lewende hawe wat sy boerdery kan balanseer nie. Ten spyte van menige aansoeke by die Departement van Grondsake, het hulle nog geen hulp aan hom verleen nie. 



Samuel is ‘n lid van die Dishweshwe tsa Dikorong-studiegroep in Fouriesburg en hy het al die Graan SA-kursusse bygewoon: Inleiding tot mielie-/sonneblom-/koringproduksie; Gevorderde mielieproduksie en-bemarking; Basiese enjinherstelwerk;  Hulpbronassessering en Plaasbeplanning.



Samuel is ‘n man wat geleenthede raaksien en planne maak om addisionele inkomste te genereer. Het het ‘n werkswinkel in Fouriesburg waar hy sy eie toerusting onderhou en herstel, asook addisionele werk vir ander mense doen. Hy besit ook ‘n besigheid wat hout kap en verkoop.



Hy het in trekkers en masjinerie belê, maar sy mees waardevolle bate is sy vermoë om homself te omring met mense wat kennis het en wat bereid is om hom te ondersteun en raad te gee. OVK het Samuel gehelp met finansiering vir somergewasproduksie en VKB het hom bygestaan met produksiefinansiering vir sy koringoes.



Samuel het twee voltydse werknemers en is geregistreer vir WVF en Werknemersvergoeding. Samuel het ook ‘n regterhand, Piniki Hlaphu, wat dien as ‘n vaderfiguur en ook as steunpilaar. Samuel maak baie staat op Ntate Piniki deur gebruik te maak van sy jare se ondervinding.

Mielieproduksie in die Oos-Vrystaat was die afgelope twee seisoene baie goed, maar daar is egter nie baie produsente wat kan sê dat hulle ‘n opbrengs van oor die ses ton per hektaar vir die twee agtereenvolgende jare behaal het nie – iets om op trots te wees!



Dit was ongelooflik om hierdie man se ontwikkeling dop te hou – in drie kort jare staan hy uit as ‘n ware produsent wat ‘n aanvoeling het vir grond en gewasproduksie, asook goeie besigheidsvernuf.



William Matasane – Senekal

William is gebore in die Winburg-distrik en het skoolgegaan in ‘n plaasskool vir sy primêre skoolopleiding en het later die hoërskool in Winburg bygewoon. Na skool het hy gewerk as ‘n sjef by die Aventura Oord by Allemanskraal tot 2004.



Tydens sy kinderjare op die plaas, het hy ‘n liefde vir die boerdery ontwikkel deur sy pa te help. William het deur middel van ‘n bietjie spaargeld, tesame met ‘n lening van Landbank, daarin geslaag om die plaas Verblyden in die Senekal distrik te koop. William, sy vrou Alina en hulle vier kinders bly tans op die plaas. 



William is ‘n lid van die Senekal studiegroep en het die meeste van die Graan SA-opleidingskursusse bygewoon. Hy het daarin geslaag om sy plaas van 397 hektaar volledig af te betaal. 253 hektaar is bewerkbare grond en William huur ook ‘n addisionele 380 hektaar vir sy beeste en skape. Hy glo in gemengde boerdery om so sy risiko te versprei. 



William het 84 hektaar koring gedurende 2008 geplant, maar dit was ongelukkig nie ‘n goeie jaar vir koring nie. Die somergewasseisoen is gelukkig beter en sy mielies en sonneblom op die lande lyk goed. William sê hy plant mielies, want dit word deur mense, beeste, skape en pluimvee verbruik! William het egter gesukkel om produksiefinansiering te kry, aangesien hy in ‘n kategorie val wat nie goed deur agribesighede gediens word nie.



Wanneer daar met William gepraat word, is dit duidelik dat hy ‘n persoon is wat sukses wil behaal. Hy is vinnig om nuwe en beter tegnologie aan te leer en het oorgeskakel na BT mielies en gebruik ook tande in plaas van ‘n ploeg. Onkruidbeheer in gewasse word goed bestuur en dit is duidelik dat William weet wat volhoubare en winsgewende boerdery is.



Hy het ‘n goeie verhouding met die omliggende produsente en verwys spesifiek na vier kommersiële produsente wat hom tydens sy jare op die plaas ondersteun het. 



Philip Xaba – Bothaville

Philip is ‘n gebore produsent – hy is gebore op ‘n plaas in 1952 en sy eerste herinneringe is dié van lewende hawe boerdery en gewasproduksie.



In 1973 het Philip begin werk as trekkerbestuurder op ‘n plaas, waarna hy later vir Senwes gewerk het vir tien jaar. Philip is met Julia getroud en alhoewel Julia haar eie beroep as onderwyseres op Kgotsong net buite Bothaville volg, is sy baie betrokke by die boerdery en ondersteun Philip ten volle op die plaas.



Philip besit die plaas Tweespruit, ongeveer 5 km vanaf Kgotsong. Hy bly egter nie op die plaas nie, maar twee van sy voltydse werknemers bly daar om om te sien na die lewende hawe.



Philip het slegs graad 3 behaal, maar dit is duidelik dat die man nie teruggehou word deur sy gebrek aan hoëronderwys nie – hy weet waaroor boerdery gaan en sy boerdery is winsgewend. Philip het ‘n liefde vir masjinerie en sy trekkers en implemente word baie goed instand gehou. 



Hy is ‘n lid van die Kgotsong-studiegroep en het verskeie kursusse bygewoon soos Mielie-en sonneblomproduksie; Trekker- en plaasimplementinstandhouding; Gevorderde mielie- en sonneblomproduksie; Hulpbronassessering en Plaasbeplanning. Philip het ‘n produksielening by Senwes. 



Philip se plaas is 197 hektaar en is ten volle betaal. Hy het voorheen ‘n paar taxi’s besit, wat hy verkoop het om die grond en toerusting te bekom. Hy weet egter dat die grond te klein is om hom te onderhou as voltydse produsent en het daarom ‘n addisionele 100 hektaar goeie, bewerkbare grond bygehuur.



Vir die komende seisoen is hy besig om te onderhandel met ‘n buurman vir ‘n addisionele 500 hektaar grond. Philip maak planne en boer baie goed – en hy is op goeie voet met die plaaslike kommersiële produsente, wat hom ondersteun indien nodig. 



Philip is ‘n produsent wat getoon het dat dit moontlik is om volhoubare winste op ‘n klein stukkie grond te genereer. Begin klein en groei stelselmatig soos jou kennis en hulpbronne verbeter. 



