Farmer of the year (Maize)								Afrikaans
Nominasies vir ons 2011 Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar
Folio strap: Graanprodusent van die jaar
Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente
Photos:
Judges: Die lede van die paneel was Karabo Peele, Jane McPherson, Gerhard Mamabolo, Jenny Mathews, Dirk van Rensburg en Willie Kotzé.
Koos: Koos en Lydia Mthimkhulu in hulle kombuis.
Thando: Thando Lolwane staan gereed om te begin werk op sy land.
Malefane: Malefane Makubo verduidelik sy liefde vir boerdery.
John: John Dipane op sy lande.
Boy: Boy Mokoena wys sy sonneblomoes aan die paneel.
David: David Motswene op sy lande.
Dit is byna onmoontlik om te dink dat ons weer by hierdie tyd van die jaar is. Ons het besluit om die produsente vanjaar vroeër te besoek, sodat ons die gewasse kan sien terwyl hulle nog groen is.
Ons besoek was van 11 - 14 April en die lede van die paneel was Karabo Peele (Mielietrust), Gerhard Mamabolo (AgriSETA), Jenny Mathews (werkgroep), Dirk van Rensburg (werkgroep), Willie Kotzé en Jane McPherson (personeel in die program).
Ons is baie dankbaar dat Volkswagen in Klerksdorp ons geborg het met ‘n voertuig om te gebruik tydens die toer en dus kon ons almal saam reis. Die genomineerdes vir die Ontwikkelende Graanprodusent van 2011 is as volg:
Koos Mthimkhulu
Koos is gebore in Paul Roux, op die plaas van Julius Bobbert. Hy het die plaaslike plaasskool bygewoon tot Standerd 1. Van hierdie vroeë ouderdom af speel hy met die produsent se seuns totdat hy verskillende take op die plaas begin verrig het. Hy het begin in die melkery met koeie melk, toe met beeste en ander vee gewerk, later met trekkers en verskillende implemente. Dit het hy vir vyf jaar gedoen. Koos was die vragmotorbestuurder op die plaas en begin sweis in die plaas werkswinkel waar hy implemente bou en herstel. Op die ouderdom van 26 het hy verhuis na die plaas Mieliebult van Frikkie du Preez, waar hy baie geleer het oor implemente, sweiswerk en oesaanplanting.
Frikkie het 'n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van Koos, van 'n plaaswerker tot 'n kommersiële produsent. Hy het 'n baie ondervinding opgedoen terwyl hy vir Frikkie gewerk het. Frikkie het ook aan hom 'n aantal implemente verkoop, wat Koos betaal het soos geld beskikbaar geword het. Met behulp van die implemente wat Koos gekoop het van Frikkie, het hy kontrakteurswerk begin doen vir ander ontwikkelende produsente in die Senekal area. Die kontrakteurswerk het die inkomste gegenereer wat hy gebruik het om die toerusting mee af te betaal.
Koos het 'n John Deere 3140 en 265 Massey Ferguson trekkers en 'n paar implemente bekom om die kontrakteurswerk te doen. Hy het ‘n deel van die inkomste van die kontrakteursbesigheid in beeste belê. Later huur hy 55 hektaar bewerkbare grond waar hy mielies plant en 'n gemiddeld van drie ton per hektaar gedurende die eerste jaar ge-oes het. Die Departement van Grondsake het die plaas Astoria in 2007 vir hom aangebied, waar hy tans 'n opsigter produsent is. Koos is 'n uiters bekwame produsent en sê hy is dankbaar vir die ondersteuning wat hy kry van Graan SA en die Departement van Grondsake en wat hulle gedoen het vir hom, maar hy besef dat die produksie van kontantgewasse op marginale grond nie volhoubaar op die lang termyn is nie. Die kontrakte loop van jaar tot jaar en die huidige getekende kontrak tussen die Departement van Grondsake strek vanaf 10 November 2008 tot November 2009 met die opsie van Grondsake om die jaarlikse kontrak te hernu indien die plaas goed onderhou en bewerk is. In die verlede was dit vir produsente moontlik om die titelakte van grond te verkry, maar die beleid is verander en dit is nie duidelik of Koos ooit titelakte van hierdie grond sal kry nie. Grondsake is baie tevrede met die prestasie tot dusver en het aangedui dat die opsigter ooreenkoms hernu sal word.
Omdat Koos bekommerd is oor die winsgewendheid van graanproduksie op laer potensiaal gronde in die Senekal-distrik, wil hy sy kontrakteursbesigheid verhoog. Hy is ook op soek na hoër potensiaal gronde wat hy kan huur vir mielies en sonneblom produksie. Hulle wil ook die getal vleisbeeste verhoog op die plaas. Van sy grootste bekommernisse sluit wanpraktyke in die Departement van Landbou in, wanneer dit kom by die uitreiking van implemente aan produsente. Koos wil graag die watertoevoer uitbrei na al die kampe op sy plaas, meer beeste koop en aangeplante weiding op die vlakker gronde aanplant.
Koos is 'n baie goeie voorbeeld van iemand wat met niks begin het nie en homself opgewerk het tot waar hy vandag is. Dit gee ‘n mens baie plesier om hom op sy plaas te besoek, want alles word goed onderhou en netjies gehou. Al sy toerusting is goed versorg en word in 'n skuur gestoor. Hy is getroud met Lydia en het drie kinders, twee dogters wat albei getroud is en 'n seun Clifford. Petunia, een van sy dogters, het ‘n graad in landbou en werk as 'n voorligtingsbeampte in die Ficksburg omgewing. Clifford het 'n tweejaar-kursus in bemarking en landbou, het in die polisiemag vir twee jaar gewerk en is permanent op die plaas, waar hy saam met sy pa boer. Hy is baie sterk meganies en dit word in die uitstekende toestand van sy eie implemente weerspieël. Koos en sy familie woon op die plaas en is 'n goeie voorbeeld van die transformasie wat in die sektor nodig is.
Thando Love Lolwane
Thando is gebore in1957 op Gelukspan (Bapong). Hy is die negende seun van Stention en Francinah Lolwane se 12 kinders. Hy begin skoolgaan in 1966 by Motswenyane Primêre Skool en verlaat skool in 1971 net na Standerd 5 (graad 7).
In1997 het hy begin werk by Stilfontein Paneelkloppers as 'n algemene werker en daarna by die Marico Foodstar as 'n masjienoperateur vir 'n paar maande. Daarna het by die Stilfontein goudmyn as 'n ondergrondse treinbestuurder gaan werk.
Hy is getroud met Atholia Lolwane en hulle is geseën met vyf kinders, twee dogters en drie seuns. Sy oudste kind Jakob (32), is tans werksaam by die Departement van Gesondheid op Schweizer-Reineke. Progress (30) werk vir Maatskaplike Ontwikkeling. Gladwin (28) werk vir die weermag en werk tans saam met sy pa op die plaas. Primrose (24) is besig met Landboustudies by Talese VOO, terwyl Nomvalo (16) besig is met haar graad 10 by Bethel Hoërskool. Gladwin is baie geïnteresseerd in landbou en help sy pa op die plaas.
Thando begin boer in1982 deur sy pa te help. In 1983 het hy daarin geslaag om ŉ lening te kry van Agribank (Bophuthatswana) en begin sy 75 hektaar met een trekker bewerk. In 1989 koop hy 'n ander 6010 Ford trekker. Hy koop ‘n plaas van 400 hektaar in Klippan, huur 'n ander plaas van 249 hektaar by Lareystryd en huur ook kommunale grond by Gelukspan. In 2008 was Thando dieToyota New Harvest Boer van die Jaar. Volgens Thando is landbou die lewe!
MalefaneMakubo
Malefane is gebore in Petrus Steyn op 25 September 1949. Hy het grootgeword op die plaas van mnr CA Claasen in die Petrus Steyn area. Hy begin skool en voltooi Graad 4 op Danielsrus Primêre Skool naby Petrus Steyn. Malefane is lief vir die plaas en begin werk op die ouderdom van twaalf. Hy was voltyds in diens op die ouderdom van 15. Malefane sê dat hy op daardie stadium 50 sent per maand verdien het en het die volle salaris (R2 per maand) eers verdien toe hy in staat was om 'n 200 pond sak mielies op sy kop te dra!
Malefane het die plaas verlaat en vir VKB gewerk – hy sê hy het goed verdien en dit het dit moontlik gemaak om te trou (dit was R10 per maand). Na 'n paar jaar het die kommersiële produsent hom gevra om terug te keer plaas toe. Hy sê hulle het goed geleef en 'n bonus ontvang na die oes van 20 sakke mielies – dit was goeie geld.
Malefane wou in stede op konstruksieterreine werk en daarom verhuis hy na QwaQwa sodat sy pasboek hom kon toelaat om die gebied te verlaat. In 1990 besluit Malefane om die stede te verlaat en huis toe te gaan om in QwaQwa 'n plaas te koop. Aanvanklik is die plaas net aan hom verhuur (R3 500 elke ses maande), maar hy is later in staat om die plaas met 'n Landbank lening te koop, wat hy ten volle terugbetaal het. Hy koop die plaas van 560 hektaar waarvan 200 hektaar bewerkbare grond is.
Malefane sê dat dit sy beleid is om lenings terug te betaal wanneer hy 'n inkomste uit die plaas kry – sy eie behoeftes moet wag totdat die terugbetaling nagekom is. Hy het al sy lenings terugbetaal en boer nou met koring, mielies, sojabone, droëbone, vleisbeeste en ook 'n klein melkery. Malefane is positief oor die toekoms en geniet boerdery.
John Dipali
John is gebore op die plaas Vaalbank in die Senekal distrik. Hy gaan skool op Vaalbank plaasskool tot graad 6. Na vier jaar op die plaas het hy by die Paaie Departement in 1970 aangesluit as 'n skraperoperateur. Hy het 23 jaar lank skrapers vir die Departement van Paaie en Openbare Werke bestuur. John is getroud met Jeanette (wat skoolgehou het by 'n primêre skool in Senekal vir 30 jaar) en hul kinders is getroud.
John en vier vriende het die plaas Rooikoppies gekoop, maar hulle verkoop dit in 2005 aan mnr Mohapi. John het die plaas Concordia met die hulp van Grondsake in 2005 gekoop. Hy het reeds 'n titelakte vir die plaas. Hy is gelukkig met die hulp wat hy tot dusver ontvang het vanaf die Departement van Landbou, Grondsake en Graan SA. Hy is 'n baie konserwatiewe produsent. Sy plaas beslaan 'n totaal van 277 hektaar en hy huur ook 'n bykomende 114 huur hektaar bewerkbare grond.
Sommige van die uitdagings wat veroorsaak dat hy bekommerd is, is die hoë insetkoste en lae graanpryse. Sy boerderypraktyke is goed en hy werk met goeie toerusting op die plaas. Omdat John nie meer 'n jong man is nie, beplan en organiseer hy baie goed om al die werk binne 'n goeie tyd klaar te kry.
Boy Mokoena
Boy is gebore in Middelburg in 1948 op die plaas waar sy ouers werksaam was. Hy is getroud en het vier kinders. Hy het nooit skoolgegaan nie en het as 'n jong seuntjie liefde vir die landbou ontwikkel as 'n veewagter. In daardie dae was dit nie verpligtend om skool te gaan nie en sodoende het hy sy liefde vir die natuur ontwikkel.
Hy begin werk op die plase van kommersiële produsente en werk homself op van 'n gewone arbeider na 'n trekkerbestuurder en uiteindelik as 'n voorman. As 'n voormalige veewagter het hy ook 'n passie vir beesboerdery. Hy besit tans twee honderd kommersiële beeste op sy plaas.
Ongeveer vyftien jaar gelede het Boy ongeveer agthonderd kommersiële vleisbeeste besit en een van die grootste foute wat hy ooit gemaak het, was om die beeste te verkoop om toerusting te finansier en akkerbougewasse te plant. Boy het ook 'n spilpunt van ongeveer 40 hektaar op sy plaas wat vyf jaar gelede opgerig is. Ongelukkig is die kabels op die spilpunt en die pompstasie gesteel.
Omdat hy nie geletterd is nie, het Boy nie sy kinders benadeel deur nie aan hulle geleerdheid te gee nie. Sy drie kinders het die platteland verlaat en doen goed in die stad. Sy dogter help hom met die administrasie en ander finansiële sake op die plaas.
Ongelukkig is Boy baie negatief oor die komende seisoen. Dit sal uiters tragies wees om so 'n uitstekende produsent te verloor wat alles op sy eie doen.
David Motsweni
David is gebore in Middelburg in 1949 op die plaas Patatfontein. Hy help sy pa en oupa op die plaas, vandaar sy liefde vir boerdery vanaf 'n jong ouderdom. Hulle het volgens die ou metode, “derde deel” geboer, waar hulle die lande met osse bewerk en die insette voorsien het, maar wanneer oestyd gekom het, het hulle slegs ‘n derde van die oes ontvang.
David het self sy finansiering gedoen, want hy het ander besighede soos die Naga varkboerdery, wat 'n goed ontwikkelde en volhoubare boerdery is. Hy glo dat elke boerdery-onderneming 'n entiteit op sy eie is en indien nie suksesvol is nie, beëindig hy dit. Hy koop sy saad by Monsanto en gebruik nie GM’s nie. Die chemikalieë koop hy by Quemico en die kunsmis van Sasol Nitro. Hy is tevrede met sy insetverskaffers, omdat hulle nie verdwyn na die bestellings afgelewer is nie.
David wou nie kommentaar lewer op die rol wat die regering speel in landbou en in die ontwikkeling van produsente nie. Hy glo dat sy sukses in homself en sy finansies lê en 'n deel van sy sukses is dat hy nie glo aan kortpaaie nie – daar is net een manier en dis die regte manier. 
Die grootste bedreiging vir sy vordering is natuurrampe, byvoorbeeld droogte, hael, of enige ander natuurramp. Die ander gevaar is die skommelinge in die mark, waar insettekoste nie tred hou met opbrengs nie en daar geen beheer is oor pryse is as gevolg van oorproduksie nie.
David sou graag wou uitbrei en meer hektare plant en hy het die meganisasievermoë om dit te doen. Oorlewing in die komende jaar sal wees om die mark korrek te ontleed en kommoditeite wat in aanvraag is, aan te plant om te oorleef. 
Hierdie kompetisie is baie kompeterend, maar ons is verheug om die drie finaliste, Thando Lolwane, Malefane Makubo en Koos Mthimkhulu aan te kondig. Ons wens hulle alle sukses toe.
