

Farmer											Afrikaans



Hoe om ‘n produsente-groep in jou gemeenskap te stig



Instructions: 

Folio strap: Produsente-groepe

Byline: Saamgestel deur A.P.N. du Toit (LNR-Graangewas Instituut), S.J. Terrblanche (Universiteit van Pretoria) en J. Stevens (Universiteit van Pretoria) 

Photos: 

Twee koppe is beter as een.

Produsente leer nuwe idees in groepe. 

Produsente kan van mekaar leer.

Groepe voorsien bedingingsmag.



Dit is tyd dat ontwikkelende produsente in Suid-Afrika minder afhanklik moet wees van formele staatinstansies en beheer moet neem van hulle eie toekoms. 



Die sleutel tot selfbemagtiging lê in die mobilisasie van plaaslike produsente aksie. Die uitdaging vir produsente is om doelmatig te werk om die totstandkoming van onafhanklike produsente-groepe te verseker, met eienaarskap geheel en al in die hande van die lede. Produsente-groepe voorsien die ideale organisatoriese struktuur (werktuig) om gesamentlik te werk aan verandering op plaasvlak en aan landbousisteem in die algemeen. 



Dit is egter duidelik dat die mobilisasie van produsente in effektiewe groepe ‘n proses is wat tyd sal neem. Die doel met hierdie riglyne is om leiers in die landbou te motiveer en rigting te gee om die meeste voordeel te trek uit spanwerk tussen produsente.



Hoekom plaaslike produsente-groepe?

Die belangrikste voordele van groepe in landbou is die volgende:

Produsente kan leer van mekaar. Op hierdie manier verkry hulle nuwe kennis, ondervinding en vaardighede. 

Individuele produsente kan beter besluite in ‘n groep maak. Omdat meer kennis tot die groep bygevoeg word, word die moontlikheid van foute verminder. “Twee koppe is beter as een”.

In groepe leer produsente om nuut te dink en nuwe horisonne te verken. Lede in ‘n groep word aangemoedig om te kyk na alternatiewe. 

Groepe voorsien skakeling met dienste soos navorsing, voorligting, insetverskaffing en bemarking. Diensverskaffers wil graag van ‘n geleentheid gebruik van maak om te onderhandel met goed georganiseerde groepe, asook in grootmaat te koop of verkoop. 

Groepe help om produktiwiteit op plaasvlak te verhoog. Dit gebeur as gevolg van ‘n kombinasie van kennis, vaardighede en ondervinding tussen groeplede. 

Groepe stel produsente in staat om hulle bedingingsmag te versterk. Produsente in die ontwikkelende sektor benodig ‘n sterk stem. ‘n Effektiewe studiegroep dien as die mondstuk vir die lede. 



Wat is die eienskappe van ‘n effektiewe studiegroep?

Effektiewe studiegroepe word gekenmerk deur die volgende definitiewe eienskappe:

Sterk leierskap – “Leiers moet dien en nie gedien word nie”.

Word nie gedomineer deur die leier of enige van die lede nie.

Duidelike visie, doelwitte, ‘n plan van aksie en dringendheid vir prestasie. 

Lede is op dieselfde vlak van vordering en deel gemeenskaplike belange en behoeftes. Hoe meer homogeen ‘n groep is, hoe groter samehorigheid is daar tussen die lede.

Lede moet ‘n duidelike begrip van sy of haar taak en doelwitte binne die studiegroep hê.

Beskik oor sy eie finansiële kapasiteit en hulpbronne. Finansies word hoofsaaklik bygedra en gekontroleer deur die lede self.

Lede het verantwoordelikheid vir die uitkoms van die aksieplan geneem; hulle is verbind tot die groep en vind bevrediging deur deelname in die groep se aktiwiteite. 

Alle lede is angstig om te leer en lede is gewillig om hulle kennis en ondervinding te deel. 

Selfonderhoudend in die beplanning en bestuur van hulle eie sake en in staat om hul eie maniere te vind om effektiewe dienste te bekom. 

Moet buigsaam wees in die keuse van prosedures en metodes in die nastreef van groepdoelwitte eb doelstellings.

Gebruik verskillende vaardighede en vermoëns van individuele groeplede op ‘n effektiewe wyse.

Oop kommunikasie. Lede moet vry voel om hulle gevoelens te lug oor ‘n taak, sowel as oor die groep se bedrywe.

Gereelde self-evaluering. Die span moet gereeld stop en ondersoek hoe goed hulle funksioneer en hoe effektiwiteit verbeter kan word.

Verbind aan hoër vlakke van georganiseerde landbou. Sulke groepe is geaffilieer met organisasies met ‘n wyer verteenwoordiging. 

Is objektief oor sy eie funksionering en kan probleme en tekortkominge hanteer. Om effektiwiteit te verbeter sal die nodige veranderinge gemaak word.

Groepe bied aanmoediging aan hulle lede – alhoewel elkeen ‘n verantwoordelikheid het om in die groep te dien, moet lede weet dat dit tot hulle voordeel sal wees om deel van ‘n groep te wees.



Vorming van ‘n studiegroep

Groepe moet gestig word binne konteks met bestaande gemeenskap- en sosiale strukture. Indien nodig, is skakeling met die stamowerhede belangrik. Daar moet goedkeuring wees by die stamhoofde en ander plaaslike organisasies wees oor die vraag na ‘n produsentegroep. 

Produsente behoort self groeplede te kies.

Groepe kan informeel begin en ontwikkel na formele status teen hulle eie pas (Sien die “Werk eerste en organiseer later” benadering). Hierdie benadering word aanbeveel omdat dit meer buigsaam is en produsente toelaat om te groei in die proses van groepvestiging.

Bestaande groepe kan herorganiseer of nuwe lewe gegee word. Groepe wat stagneer moet egter ten alle koste vermy word.

In gevalle waar mense nog nie aan groepe behoort nie, sal organiseerders of groep promotors benodig word om die proses te inisieer en te fasiliteer.

Waar organiseerders/fasiliteerders nie lede van die gemeenskap is nie, moet kontakpersone met goeie kredietwaardigheid uit die gemeenskap optree as sleutelrolspelers om met die landbougemeenskap te skakel.

Deursigtigheid vanaf organiseerders en leiers is krities belangrik vir die suksesvolle vorming van ‘n groep. 

Die behoeftes en probleme van die spesifieke groep produsente moet bekend wees aangesien dit ‘n voorvereiste is vir toekomstige beplanning en doelwitte.



Die “Werk eerste en organiseer later” benadering:

Hierdie benadering help produsente om onmiddellik te begin. ‘n Klein informele groep begin deur te fokus op ‘n spesifieke probleem en werk saam om dit op te los. Groeplede is verbind om die groep se doelwitte te bereik. Gevolglik sal spangees sterker word en groeplede nader aan mekaar beweeg op ‘n natuurlike wyse. Op hierdie wyse kan vorming van groepe vergelyk word met lewende organismes wat van binne af groei. Die voordele van hierdie benadering is duidelik:

Groepe ontwikkel spontaan sonder inmenging van buite.

Dit skep ‘n atmosfeer vir goeie leierskap in ‘n proses van natuurlike seleksie.

Die doelwitte van die groep is die dryfkrag en nie die aspirasies van groepleiers of buite-organisasies nie.



Riglyne vir die vorming van ‘n studiegroep

Die vorming van ‘n effektiewe studiegroep sal die resultaat wees van gemotiveerde produsente in ‘n gemeenskap met ‘n gemeenskaplike behoefte om te werk na die vervulling van hulle behoeftes en oplossings van hulle probleme. Geen produsentegroep kan geforseer word nie, nie van binne en ook nie van iemand buite nie. Die proses van groepvorming sal definitief verskil in elke spesifieke situasie. Die volgende is voorgestelde idees en prosedures wat leiers kan volg in die reuse taak om groepe te stig:



Die voor-groep vergadering

Omdat die behoefte vir die vorming van ‘n studiegroep tussen produsente in ‘n gemeenskap ontstaan, kan leiers begin deur ‘n voor-groep vergadering by ‘n neutrale plek te reël. Hierdie vergadering sal bestaan uit ‘n klein aantal sleutelpersone wat entoesiasties is oor die idee van ‘n studiegroep wat hulle boerdery sal bevoordeel. Die doel van hierdie vergadering is om ‘n deeglike evaluasie van die huidige boerdery-situasie te maak. Terselfdertyd is dit ook ‘n geleentheid om die behoeftes vir die stigting van die groep te bepaal en om die doelwitte en verwagtings van potensiële lede te bespreek. Potensiële lede moet weet wat die voordele is wat hulle gaan geniet. ‘n Voor-groep sessie is ‘n uitstekende manier om lede voor te berei en aan mekaar voor te stel. Hierdie vergadering sal produsente in staat stel om seker te maak of hulle aan so ‘n groep verbind wil wees. Op hierdie stadium is dit nodig dat sommige breë riglyne met betrekking tot groepdoelwitte neergelê word.



Die grondslag vergadering 

Die volgende stap is om ‘n datum vas te stel vir die stigting van die groep. Dit word aanbeveel dat die organiseerders die vergadering op ‘n informele basis benader. Gedurende die vergadering moet die teenwoordige potensiële lede besluit of dit die geskikte tyd is om ‘n formele groep te vorm. Indien die beginsel goedgekeur word, kan leiers voortgaan om struktuur aan die groep te gee. 



Organiseerders/fasiliteerders dien as aanvanklike leiers van die groep in ‘n tydelike hoedanigheid. Produsente wat geïdentifiseer word as potensiële lede, word uitgenooi na hierdie vergadering.



Die volgende aspekte moet tydens hierdie vergadering aangespreek word:

Verkiesing van die leierskap, sowel as duidelikheid oor die ampstermyn. Watter tipe voorsitter benodig die groep? Die groep promotor of fasiliteerder self behoort nie die groep te lei nie – die groep behoort verantwoordelikheid daarvoor te neem.

Langtermyn doelwitte van die groep moet deeglik bespreek, verwoord, herhaal en nagesien word. Lede moet dit duidelik maak wat hulle van die doelwitte verstaan en enige misverstand uit die weg ruim.

Lede behoort in staat  te wees om hulle doelwitte en prioriteite vir die volgende ses maande of ‘n jaar te stel. Bepaal take en verantwoordelikhede benodig om hierdie doelwitte te bereik. Evalueer die take en doelwitte in terme van prioriteit in die groep.

‘n Besluit behoort geneem te word wanneer, hoe dikwels en waar hulle sal vergader om al die behoeftes van hulle lede te akkommodeer.



Aangesien hierdie gebeure gesien kan word as die geboorte van die groep moet daar genoeg tyd spandeer word om sterk leierskap te verseker, asook duidelike en goed gedefinieerde doelwitte en oogmerke daar te stel.



Opvolg vergadering

Die groepvorming proses moet met ‘n opvolg vergadering na die fondasie vergadering opgevolg  word. Die doel van hierdie vergadering sal wees:

Om doelwitte en oogmerke te finaliseer. 

‘n Plan van aksie te ontwikkel en ‘n tyd- en datumskedule vir ‘n gepaste tydperk saam te stel.

Formuleer die konstitusie deur spesifieke groep reëls of norms neer te lê aangaande lidmaatskap, lidmaatskapsfooie, bywoning van vergaderings, groep dissipline en belangegroepe.



Bestuur van ‘n studiegroep

Die bestuurskomitee

In die meeste gevalle sal die komitee bestaan uit vyf lede, naamlik, ‘n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en twee addisionele lede. Sommige groepe verkies om ‘n assistent-sekretaris, sowel as ‘n tesourier aan te stel om deeglike beheer oor finansies te verseker. Hierdie twee lede van die groep kan verkies word in plaas van twee addisionele lede, of bykomend. Dit word aanbeveel dat die geslag van verkose lede verteenwoordigend sal wees van die verspreiding van mans en vrouens in die groep. ‘n Goeie benadering is om twee mans en twee vroue te hê om die liggaam van die komitee te vorm en die vyfde lid, die voorsitter, manlik of vroulik. Hierdie komitee verteenwoordig die lede in alles wat hulle doen. Die komitee is verantwoordelik vir dissipline en orde in die groep, wat krities is vir die sukses van die doelwitte van die groep.



Grootte van die groep

Oor die algemeen lyk dit asof klein groepe meer effektief is. Die ideale grootte sal afhang van die fokus of mandaat van die groep, die unieke interne dinamika van die groep en die vermoë van die bestuurskomitee om die groep te bestuur, dissipline te handhaaf en om doelwitte te verseker. Dit is belangrik om te konsulteer met tradisionele owerhede en/of gemeenskapsleiers. Om effektief in die gemeenskap te funksioneer moet die bestuur van ‘n studiegroep konflik vermy oor sake van eksklusiwiteit. Sommige groepe verhoed dit deur ‘n oop uitnodiging aan alle produsente in die gemeenskap na hul jaarlikse boeredag te rig. 



Lidmaatskapsfooie en finansies

Lidmaatskapsfooie kan bepaal word deur die volgende:

Die oogmerke van die groep;

Finansiële vermoëns van die lede;

Tipes aktiwiteite wat deur die studiegroep onderneem word; en 

Borgskapgeleenthede.



Vergaderings

Vergaderings moet gereeld plaasvind om kontinuiteit van groepaktiwiteite te verseker. Gedurende die vroeë stadium van die groep word maandelikse vergaderings aanbeveel. Op die lang duur lyk dit asof vergaderings elke twee maande ‘n praktiese opsie kan wees, maar aktiwiteite gebaseer op seisoenale gebeure in die landbou sal egter die kalender van elke spesifieke studiegroep dikteer. Gassprekers en spesialiste speel ‘n belangrike rol om ‘n studiegroep op datum te hou met kennis en inligting. Dit is die voorreg van elke groep om hierdie spesialiste selektief te kies en te nooi na hulle vergaderings. Dieselfde beginsel is van toepassing op ander diensverskaffers en insetverskaffers. Studiegroepe bied ‘n uitstekende geleentheid aan produsente om die vlak van vaardigheid en dienste wat hulle wil bekom, te bereik.



Ten slotte

Effektiewe produsentegroepe is ‘n voorvereiste vir landbou-ontwikkeling in Suid-Afrika. “Sonder leierskap en organisasie sal ‘n gemeenskap stagneer en selfs talentvolle individue binne die gemeenskap sukkel om te ontsnap van die kettings van onderontwikkeling,” sê Japie Grobler, president van AgriSA. Die sleutel tot selfbemagtiging lê in die mobilisering van produsente-aksie!





