Farmer 1 (Maize)									Afrikaans



Mpumalanga Kleinskaalprodusent van die jaar – ontmoet die genomineerdes

Instructions: 

Folio strap: Kleinskaalprodusent van die jaar

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Produsent Ontwikkelingsprogram

Photos: Alpheos Masina, Nkomisheni Mhlongo, Nyosi Mhlanga and Vincent Mdluli



Die Mpumalanga Kleinskaalprodusent van die jaar genomineerdes, sowel as die finaliste, is aangekondig. Die aankondiging van die wenner sal plaasvind by die 250 Ton Klubfunksie op 26 Augustus 2010. Hulle is soos volg:



Alpheos Masina 

Alpheos Masina is gebore in 1948 op Badplaas. Hy is getroud met Christina Ncongwane en hulle het ses kinders. Hy het grootgeword op Badplaas en het nooit skool gegaan nie. In 1965 het hy by ‘n bosboubesigheid begin werk in Newtown en het ook as ‘n kontrakteur gewerk vir Kruger konstruksie wat die pad van Baberton na Badplaas gebou het. In 1968 het hy op ‘n plaas begin werk waar verskillende tipes graan en verskeie groente geplant is. Tans boer hy met mielies, boontjies en verskeie groente op vier hektaar bewerkbare grond.



Hy is een van die Ndwandwa Trust begunstigdes wat ‘n plaas ontvang het in Badplaas wat hulle geëis het onder Grondhervorming. Hy is vol energie en is altyd gewillig om te leer.



Nkomisheni Mhlongo – finalis

Nkomisheni Mhlongo is gebore in 1953 in ‘n klein dorpie in die Nkomazi-streek, genaamd Langeloop. Hy het grootgeword in hierdie dorpie en het in 1959 by Driekoppies LP skool begin skoolgaan. Hy is toe verplaas na Lomati Dry skool in standerd 1 (graad 3) en het standerd 6 (graad 8) geslaag in 1971. In 1974 het hy sy ouers se klein kafee oorgeneem en dit bestuur. Hy is in 1975 met Nomasonto Ngwenya getroud en hulle is geseën met 7 kinders, 2 seuns en 5 dogters. Sommige van sy kinders werk terwyl die jongste nog op skool is. 



Nadat hy die besigheid oorgeneem het, het hy dit uitgebrei in 1975 tot ‘n veel grootter winkel. Hy het twee lounges gekoop, ‘n slaghuis gebou en ook lewende hawe aangekoop. Hy het tans 345 beeste.



In 1997 het hy besluit om na die boerdery terug te keer omdat sy ouers nog altyd geboer het. Hy het begin boer met mielies, grondboontjies, suikerriet en ander gewasse. Tans boer hy met suikerriet op 7 hektaar, sowel as mielies en ander graansoorte soos grondboontjies, botterskorsies, okra en veselperskes – wat alles verbou word op ongeveer 20 hektaar grond. Die mielies is onder besproeiing op ongeveer ses hektaar grond. Hy het ongeveer 40 ton mielies, 15 ton grondboontjies en 20 ton botterskorsies geoes. Hy is tans besig om akkerbone te oes. 



Nyosi Mhlanga – finalis

Nyosi Mhlanga is gebore op Gutshwa in 1941 en het grootgeword op Gutshwa, onder die Khumalo tradisionele gesag. Dit is ‘n baie klein dorpie, ongeveer 20 km vanaf Witrivier in Mpumalanga. Hy het in 1952 by Gutshwa skool begin skoolgaan. Hy het skool verlaat nadat hy in 1959 standerd 5 geslaag het. In 1960 begin hy werk op Plaston as ‘n huishulp. Hy het ‘n groot deel van sy lewe in hotelle gewerk as ‘n sjef en as ‘n kelner. Hy is getroud met Evah Khumalo in 1964. Hulle is geseën met twee kinders, ‘n seun en ‘n dogter. Sy vrou is in 2009 oorlede. Hy bly tans alleen.



Hy het in ‘n dorpie grootgeword waar hulle op gemeenskapsgrond geboer het. Hulle het met mielies, grondboontjies en jugoboontjies geboer. Terwyl hy grootgeword het, het hy ook na sy pa se lewende hawe omgesien. Hy het op sy eie begin boer in 1978 tot en met 1982 toe ‘n droogte hom geforseer het om op te hou boer. Hy het toe in Ngodwana gewerk as arbeider. In 2003 het hy na boerdery teruggekeer waar hy toe met groente, mielies, jugoboontjies en grondboontjies geboer het. Hy het sy groente op een hektaar grond geplant en sy ander gewasse op vier hektaar bewerkbare grond. ‘n Mielieproef is vir twee agtereenvolgende jare op sy plaas geplant. 



Vincent Mdluli – finalis

Vincent Mdluli is gebore in 1941 op Mahukhube (Spelanyane), naby Nelspruit, onder die Mpakeni tradisionele gesag. Dit is ‘n klein dorpie, ongeveer 50 km vanaf Nelspruit in Mpumalanga. Hy het begin skoolgaan by die Rooms Katolieke skool op Daantjie Trust in 1949. Hy het die skool verlaat in 1957, nadat hy standerd 7 geslaag het. Hy het as arbeider begin werk by die Nelspruit Meule in 1960. In 1964 is hy bevorder na toesighouer en het die maatskappy verlaat in 1972. In 1976 was hy in diens van Ellerines Meubelwinkel as verkoopsman en is in 1980 bevorder tot toesighouer. Hy het Ellerines in 1999 verlaat. 



Hy is in 1964 met Josphinah Mndawe getroud – sy is oorlede in 2003. Hulle het ses kinders, twee seuns en vier dogters. Hulle eerste kind is in 1966 gebore en die laaste in 1985. Hy is in 2007 met Nonhlanhla Mavuso getroud en hulle het geen kinders saam nie. 



Vincent het grootgeword op die plaas waar sy ouers geboer het. Hulle het beeste gebruik om hulle bewerkbare grond te bewerk. Tydens sy grootworddae, het hy dit geniet om met lewende hawe te boer en gewasse te plant. In 2003 het hy self begin boer.



Hy het in 2003 op ongeveer 10 hektaar tot 15 hektaar begin boer met mielies, grondboontjies en jugoboontjies. Onlangs het hy met mnr. Eros Mazibuko, ‘n advokaat wat hom finansieel ondersteun, ‘n vennootskap gesluit om meer winsgewend te boer. Hulle plant tans ongeveer 30 hektaar mielies, ses hektaar grondboontjies en twee hektaar jugoboontjies. Hulle het agt arbeiders en drie trekkerdrywers in diens. Hulle het vier trekkers, een hamermeule, drie ploeë, twee snyploeë, een planter, twee skoffels en een tandbewerker. Vincent het ook elf beeste en 15 bokke. 



