Factors (Maize)										Afrikaans



Faktore wat opkomende produsente beïnvloed

	

Instructions:

Folio strap: Ontwikkelingsprogram vir produsente

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir

Produsente



Navorsing deur die Ontwikkelingsprogram vir Produsente het verskeie faktore geïdentifiseer wat dit moeilik maak vir opkomende produsente om na kommersiële graanproduksie oor te skakel.



Die volgende probleme sorteer onder die moeilikste van die wat geïdentifiseer is: 



Die trekkers en toerusting in gebruik is in ‘n swak toestand en hulle is nie in ‘n finansiële posisie om die situasie te verbeter nie. Die winsmarges van graanproduksie is laag en daar is min of geen marge toegelaat vir foute nie. 

Baie van die produsente ondervind probleme met moderne toerusting bv. die Departement van Landbou het aan sekere groepe produsente in Mpumalanga trekkers en moderne toerusting geskenk en hulle is nie instaat om dit te gebruik of te kalibreer nie. 

Baie produsente het nie die nodige toerusting soos onkruidspuite nie, wat beteken dat hulle nie onkruid en plae chemies kan beheer nie. Instansies is nie bereid om tweedehandse landboutoerusting te finansier nie en nuwe toerusting is so duur dat baie produsente nie in ‘n posisie is om dit aan te koop nie.

Die huidige rentekoerse is hoog en indien hierdie koste by die alreeds hoë produksiekoste gevoeg word, is die produksie van graan in baie dele nie meer winsgewend nie. 

Baie produsente het grond vanaf die herverdeling van grond ontvang wat nie geskik is vir gewasverbouing nie – hierdie produsente wil baie graag gewasse verbou, maar ons kan nie aanbeveel dat produsente mielies aanplant in grond wat vlakker is as 700 mm nie – die risiko vir mislukking is net te hoog. 

‘n Ander probleem wat aandag vereis, is die arm entiteite en/of die swak bestuursisteme wat ontwikkel het vanuit die herverdeling van grond. In baie gevalle is grond gegee aan ‘n Trust bestaande uit begunstigdes en trustees (baie dikwels meer as 30 persone). Dit is net aanvaar dat almal betrokke sou wees by die boerdery, maar met verloop van tyd het dit baie problematies geword. Daar is nou slegs ‘n paar begunstigdes oor op die plaas wat die werk moet doen, maar hulle posisies is nie verseker nie. 

Toegang tot insette (produksie krediet) is vir baie produsente ‘n probleem en dit is goed dat daar oplossings gevind kan word, bv. die loodsprojek wat ons met die Departement van Landbou in die Vrystaat en OVK tot stand gebring het – waar sekere geïdentifiseerde produsente ondersteun word – OVK het die volle produksie krediet aan hierdie produsente verskaf, sodat die gewas op die regte tyd aangeplant kan word, en die DvA het ‘n subsidie van 50% van die insette terug gegee aan OVK om die rekeninge van hierdie produsente te krediteer. Hierdie loodsprojek het baie goed gefunksioneer en almal was instaat om hulle lenings af te los en ‘n wins te toon, maar toe ons probeer om hierdie projek uit te brei soos ooreengekom, het die Departement net gesê dat hulle nie vir hierdie projek begroot het nie!

Indien die produsente suksesvol is in hulle lenings aansoek, is finansiële instansies onwillig om finansiering te verskaf vir meganiese herstelwerk en onderhoud – sonder werkbare toerusting kan hulle nie kommersiële produsente word nie. 

In die Bronkhorstspruit area, en ook nou in die Lichtenburg area, boer AFGRI vir die ontwikkelende produsente – hulle maak gebruik van groot wit kontrakteurs wat die werk doen en aan die einde van die seisoen kry produsente ‘n deel van dit wat oor is (AFGRI vat die insetkoste en 50% van die wins). Ons bekommernis daaroor is:

Die produsente leer nie om te boer nie, omdat daar geen oordrag van vaardighede is nie. 

Daar is geen voordele vir produsente wat probeer om betrokke te wees nie – dit blyk dat al die grond saam bewerk word en dat produsente ‘n pro-rata aandeel kry van die oppervlakte en nie ten opsigte van die opbrengs wat op hulle grond gerealiseer is nie. 

Indien die winsgewendheid van hierdie praktyk afneem, word aanvaar dat AFGRI boerdery sal stop, wat die produsente in ‘n slegte posisie sal plaas, en sal hulle nie in staat wees om op hulle eie te boer nie..

Die hoë pryse van kunsmis beteken dat produsente nie die korrekte hoeveelhede gebruik nie. Die resultaat is laer opbrengs, asook die uiteindelike degradering van die grond. 

Die Mielietrust beskik oor ‘n wonderlike betalingsondersteuning stelsel vir bekalking, primêre grondbewerking, mentorskap en insetversekering. Hierdie ondersteuning word egter slegs gekanaliseer deur agri-besighede. In baie gevalle is ‘n produsent nie lid van ‘n agri-besigheid nie, of hy kan nie ‘n lening deur die agri-besigheid bekom nie of in sommige gevalle is daar geen agribesighede nie (soos bv. in die Oos-Kaap) – dit beteken dat die produsent nie gebruik kan maak van die ondersteuning van die Mielietrust nie. 

Die voorligtingsdiens van die Departement van Landbou is nie op standaard nie – die voorligtingsbeamptes beskik nie oor die kennis nie en in baie gevalle stel hulle nie belang om die produsente by te staan nie. 

Toegang tot bewerkbare grond is ‘n probleem in sommige provinsies – veral waar daar kommunale grond is, soos in die Vrystaat. Die Departement van Grondsake is nie effektief nie – hulle is onwillig om ‘n aanvaarbare prys vir goeie grond te betaal, en waar hulle wel grond koop, sien hulle nie toe dat produsente oor die nodige toerusting beskik om te boer nie – om ‘n produsent te wees, vereis baie meer as net kaal grond. 





