Cultivation (Maize) (410 words)							Afrikaans
Dis tyd om te kyk na grondverdigting
Instructions:
Folio strap: Waardetoevoeging
Byline: Artikel voorsien deur 'n afgetrede produsent
Ongeveer 600 mm tot 2 000 mm reën is in die somer mielieproduksie gebiede ontvang en tydens 'n paar geleenthede het 50 mm tot 75 mm reën per dag gedurende ‘n wolkbreuk geval. Hierdie swaar gewig van die water per hektaar in 'n kort tydperk lei tot 'n gekompakteerde en versadigde grondprofiel. 
Die addisionele effek van die gewig van stropers, trekkers en grootmaat sleepwaens en vastrap van die bande tydens oes, sal met die versadigde grondtoestande wat hierdie jaar ervaar word, tot meer gekompakteerde grond as die normale lei.
Beeste wat die oesreste op mielielande bewei, sal ook onder baie nat of versadigde toestande die grond kompakteer. In uiterste gevalle van versadiging sal diepbewerking net voor of met planttyd die enigste manier wees om te verseker dat gewasse betyds geplant kan word.
Die baie koue winter en reën in sommige gebiede het ook bygedra tot 'n stadige afdroog van die versadigde grondtoestande. Dit sal wys wees om die grondprofiel van mielielande wat geplant word te evalueer en geskikte tandimplemente te gebruik om die grondprofiel onder die verdigtingslae los te maak. Hierdie operasie sal ook die grond deurlug, wat die belangrikste is. Die grondbakterieë en mikrobes leef slegs aktief in aërobiese toestande in die boonste 150 mm tot 180 mm van die grond.
Die term aërobies verwys na die teenwoordigheid van lug, suurstof, stikstof en koolstofdioksied gasse in die losgemaakte grond en waterdeeltjies. Die tandimplement bewerking is van kritiese belang sodat bakterieë geaktiveer kan word om die reste van die vorige gewas af te breek voor die aanplant van die nuwe oes. Dit bakteriële proses sal begin as die grondtemperatuur begin styg gedurende die laaste week in Augustus, dwarsdeur September, tot in Oktober.
Dit word sterk aanbeveel dat tandimplement bewerking plaasvind so gou as moontlik nadat die grond veldkapasiteit bereik het. 'n Bewerking uitgevoer bo veldkapasiteit sal waarskynlik lei tot meer kompaksie. Die produsent sal sy implemente moet aanpas by die spesifieke bewerking indien verkeer beheer of minimum bewerking verbouingspraktyke gevolg word.
Onderhoud van planters en meganiese aanpassings wat vereis word en nog nie voltooi is nie, moet gedurende vroeë Oktober uitgevoer word.
