Crop (Maize)										English

Oesversekering – risikobestuur in landbou

Instructions: 

Folio strap: Versekering

Byline: Inligting verkry vanaf die Graan SA Gevorderde Mielieproduksie en Bemarkings handleiding



90% van die grond in Suid-Afrika is geklassifiseer as woestyn of semi-woestyn. Behalwe waar besproeiing moontlik is, is die boerdery blootgestel aan elemente soos reën, sonskyn, ryp, sneeu, hael en winde. Dit is belangrik dat elke produsent die klimaat en ander risiko’s vir sy boerdery se fisiese produksie in ag neem. 



Boerdery is ‘n besigheid en die besigheid sal slegs oor die langtermyn oorleef, indien elke jaar winsgewend is en die reserwes van die besigheid opbou. Wins is nie gewaarborg nie en ‘n besluit om in ‘n landboubesigheid te belê, is gebaseer op die evaluering van al die produksie-risiko’s betrokke. 



Produksierisiko’s om in ag te neem 

Volhoubaarheid van beskikbare grond en infrastruktuur;

Die aard van belegging in toerusting om tydige produksie te verseker;

Klimaatstoestande, met inagneming van die gemiddelde verwagte reënval, droogtes, te veel reën, koue, ryp, voorkoms van hael in ‘n spesifieke landbou-area, brandgevaar en ook ander;

Beskikbaarheid van kapitaal vir volhoubare produksie;

Bestuursondervinding van die plaas-eienaar of -bestuurder;

Siekte of besering van die plaas operateur;

Risiko geassosieer met diefstal, brand, verlies of skade aan toerusting of infrastruktuur;

Voorspelbaarheid van opbrengs; 

Voorspelbaarheid van produk pryse; en 

Persepsie van die produksiekapasiteit van hulpbronne.



Basiese maniere om risiko te hanteer

Verminder die kanse van slegte gebeure. Die kanse vir ‘n slegte gebeurtenis kan verminder word deur die keuse van meer as een kultivar, meer as een gewas, die geografiese verspreiding van produksie en prysvasstelling vir jou gewas. 

Versprei die risiko deur versekering uit te neem en kontrakte vooruit te verseker.

Verminder die risiko deur die impak van ongunstige gebeure te verminder.



Versekering as ‘n risiko-verdelingsmeganisme

Die beginsel van versekering as ‘n risikoverdelingsmeganisme is die aanvaarding van geskikte premies vanaf ‘n groot aantal kliënte, wat die versekeringsmaatskappy in staat stel om die risiko saam te voeg. Die versekeringmaatskappy sal inligting oor die herhaling en graad van eise gebruik om premies vas te stel, op vlakke wat die maatskappy in staat sal stel om eise uit te betaal vanaf die premies wat bygedra is, en steeds ‘n marge te laat vir bedryfsuitgawes en wins. In kort sal die versekeringsmaatskappy dus premies van al die kliënte neem, wat hulle in staat sal stel om  uitbetalings te doen vir die skade wat in sekere gebiede plaasgevind het.



Versekering is egter slegs aanloklik vir produsente wat risiko’s dra wat ernstig genoeg is om ‘n premie te vereis wat gelykstaande aan of meer is as die verwagte verlies sonder versekering. Klein risiko’s word normaalweg nie verseker nie, terwyl groot risiko’s wat die voortbestaan van die plaas of die bestaan van die eienaars kan beïnvloed, gewoonlik verseker word. ‘n Omvattende reeks van produkte is beskikbaar om die verskillende risiko’s en gevare wat in die landbou as ‘n geheel ervaar word, te dek. 



Versekering kan uitgeneem word om die volgende gebeure te dek:



Hael

Gewasverliese as ‘n resultaat van die sigbare en direkte fisiese beskadiging van dele van die plant of die plant as ‘n geheel. Verliese wat gedek word sluit in, saad of pitte wat uitgeslaan word, groeipunte wat beskadig word, blare wat beskadig word deur gedeeltelike of totale afsnyding en haelskade aan stamme wat gekneus is, geknak is of afgebreek is. Haelversekering is veral belangrik vir koring produksie, sowel as sonneblom in ‘n vroeë stadium. 



Wind 

Hierdie skade is dieselfde as diévan hael, soos saad of pitte wat uitgeslaan word en blare en stamme wat afgebreek word. Soos by haelskade, word die sigbare skade van wind op dele van die plant of die plant as geheel, gedek. 



Vervoer

Die beskadiging van skade aan produkte terwyl dit vervoer word, nadat dit geoes is, deur byvoorbeeld vuur, ‘n botsing of voertuie wat omgegooi word, word gedek. Dekking is egter beperk tot ‘n 100 km radius vanaf die plaas waar die produkte geproduseer is. 



Oortollige reën

Slegs sekere gewasse soos koring en druiwe, word teen graadverlies gedek as ‘n gevolg van te veel reën gedurende die fisiologiese rypwording-stadium van hierdie gewasse. 



Brand

Skade wat deur onbeheerbare brande aan sekere gewasse veroorsaak word, word gedek. Die versekerde moet egter die nasionale regulasies rondom die voorsiening van voorbrande nakom, om vir hierdie dekking te kwalifiseer. 



Ryp

Verliese as gevolg van ryp (koue skade), insluitende swak bestuiwing, word gedek. Die impak van die skade word beoordeel deur die sigbare ondersoek van die plantstruktuur. Onsigbare skade, soos vertraagde groei, word nie gedek nie.



Insette

Risiko’s wat nie altyd sigbaar en verantwoordbaar is nie, val onder hierdie dekking. Risiko’s sluit, droogte in, behalwe gewasse onder besproeiing, onbeheerbare insekte, peste, hael, wind, ryp ens. Met ander woorde, die produsent word met hierdie tipe dekking beskerm teen die onbeheerbare elemente van die natuur. 



Waar kan ek om hulp aanklop?

Die meeste kommersiële banke, sowel as die agri-besighede, is agente vir oesversekering – kry advies van ‘n persoon wat jy kan vertrou. MAAK SEKER DAT JY DIE FYNSKRIF IN DIE KONTRAK LEES SODAT JY NIE LATER VERRAS WORD NIE. 



