Congress (Maize)									Afrikaans
Bekommernisse wat by Kongres uitgelig is
Folio strap: Kongres 
Byline: Ilana Koegelenberg, Graan SA bydraer
Mnr Jan Botha van Thaba'Patchoa het 'n paar bekommernisse namens ontwikkelende produsente tydens die jaarlikse Graan SA Kongres op 9 Maart 2011 geopper. Hy fokus hoofsaaklik op die uitdagings wat ontwikkelende produsente het en die regering se onvermoë om hulle te help. 
"As swart produsente, staan ons ​​voor dieselfde uitdagings as die kommersiële produsente en in baie gevalle tref die uitdagings ons harder want ons het nie reserwes nie," het Jan gesê voordat hy voorbeelde van probleme gegee het en hoe die regering in gebreke gebly het om hulle te help.
Die eerste saak waaroor hy gepraat het, was die lae pH-vlak van grond. Hy het daarop gewys hoe die DAFF in die Vrystaat verlede jaar kalk aan produsente belowe het. GPS kaarte is gemaak, grondmonsters is geneem, aanbevelings gemaak, kalkhoeveelhede bepaal en die geld was beskikbaar in die begroting. Dit was al gedoen in Mei 2010 en nog steeds is die kalk nie op die lande uitgestrooi nie. "Dit het die somergewas verlede jaar beïnvloed en sal weer ‘n invloed op die koringoes hierdie jaar hê," het Jan gesê.
Die swak toestand van masjinerie en trekkers was sy tweede kommer. Hy het gepraat oor hoe Graan SA 'n deeglike evaluering van die trekkers en masjinerie van 42 produsente in die Vrystaat gedoen het en die DAFF versoek het om produsente te help met R2,5 miljoen vir die herstelwerk. Dit was gereed op 12 Maart 2010, maar tot op datum het niks gebeur nie.
Sy volgende bekommernis was beskadigde kontoere en waterbane. "Die DAFF het 'n Land Care program wat goed werk, maar hul begroting is te klein is en die grond spoel vinniger weg as wat hulle kan werk."
Hy het ook die swak toestand van ons land se paaie genoem en die negatiewe uitwerking daarvan op produsente, voordat hy na die probleem van oorbeweiding beweeg het. "Oorbeweiding moet deur die DAFF bestuur word deur 'n program wat bekend staan as bodem beskerming," het Jan voorgestel.
Die versuim van munisipaliteite om dorpsgrond te bestuur, het ook sy lys gehaal, sowel as die probleem om produksielenings te verkry. Jan verduidelik dat net 25% van lande van swart produsente geplant is, omdat die produsente nie toegang tot produksielenings kon kry nie. Winste is te klein om 'n lening te regverdig. Graan SA het besigheidsplanne vir 152 produsente in die program voorberei wat somergewasse wou aanplant. Die produsente het tydelike toelae benodig om ‘n sukses hiervan te maak, maar die regering het nooit 'n besluit oor die aangeleentheid geneem nie. "27 000 hektaar grond kon deur hierdie swart produsente aangeplant gewees het . Die regering het niks gedoen om hulle te help nie, maar hulle sê hulle is bekommerd oor voedselsekuriteit".
Jan het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat voorligters nie in staat is om produsente te help nie."Hulle het nie praktiese boerdery-ondervinding nie en die meeste kom nie eens op die plase nie."
Die laaste voorbeeld van die regering se versuim om die belange van ontwikkelende produsente aan te spreek, is die kwessie van die Departement van Grondsake om grond te gee aan mense wat nie produsente is nie. "Goeie produsente moet voortgaan met die stryd sonder grond van hul eie, terwyl grond gegee word aan ander wat dit nie kan gebruik nie."
Mnr Jan Botha het sy toespraak geëindig deur ‘n pleidooi aan die voorsitter van die Kongres om hul boodskap aan die hoogste vlak van regering oor te dra. "Hulle faal die swart produsente en ons sal nooit die sektor transformeer, tensy hulle begin om die mense te help nie," het hy afgesluit.
