Competition (Maize) 									Afrikaans

		

Produsent van die Jaar-kompetisie steeds sterk aan die gang



Instructions: 

Folio strap: Produsent van die Jaar

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente



As ‘n beroep het boerdery ongelukkig gedurende die afgelope jare onder Suid-Afrikaanse jongmense ongewild geraak.  Daar is ook ‘n persepsie dat daar geen swart kommersiële produsente is wat goed presteer nie. Met hierdie kompetisie wys ons mense dat daar suksesvolle swart produsente is en dat mense wat hard werk kán presteer. 



Die gala-aand waar die Produsent van die Jaar aangekondig is, het gedurende hierdie periode plaasgevind, alhoewel die finaliste gedurende die vorige periode geïdentifiseer is. Mnr Samuel Moloi van Fouriesburg, mnr Isak Khuto van Ficksburg en mnr Labious Manoto van Mooifontein was die drie finaliste. Die wenner was mnr Labious Manoto van Mooifontein wat vir baie jare ‘n lid van hierdie ontwikkelingsprogram was (hy is ‘n 1 000 ton lid van die 250 ton klub en het vanuit ons program “gegradueer”). Ons het daarom hierdie jaar voortgegaan met die kompetisie soos in vorige jare. Daar was sewe genomineerdes vir die Ontwikkelende Produsent van die Jaar: mnr Philip Xaba van Bothaville, mnr Lungile Malo van Delareyville, mnr Simon Mazwi van Makouspan, mnr Shimi Mokoka van Vanderbijlpark, me Nolundi Msengana van Vanderbijlpark, mnr William Matasane van Senekal en mnr Samuel Moloi van Fouriesburg. 



Die lede van die paneel van beoordelaars wat die finaliste gedurende Junie hierdie jaar beoordeel het, was mnr Karabo Peele van die Mielie Trust, mnr André Smit van die Land Bank, mnr Dirk van Rensburg (afgetrede lid van die Graan SA Uitvoerende Komitee), mnr Jabulani Zitha en mev Jenny Mathews (lede van die Graan SA Uitvoerende Komitee en werkgroep vir produsente-ontwikkeling) en drie personeellede van die program (Jane McPherson, Willie Kotzé en Danie van den Berg). Die kandidate van die Vrystaat het veral beïndruk en die drie finaliste is van die Vrystaat. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat daar geen finalis van Noordwes af is nie. Soos in die Desember-uitgawe van Pula/Imvula berig is, is die 2009-wenner van Graan SA Ontwikkelende Produsent van die Jaar, Samuel Moloi van Fouriesburg.



Ons het hierdie jaar vir die eerste keer ‘n kompetisie vir die Mini-produsent van die Jaar aangebied – in Mpumalanga en die Oos-Kaap. Daar was vyf kandidate vir elke streek en hierdie kompetisie is gedurende dieselfde week as die ander kompetisie beoordeel. Ons het lank reeds die behoefte gesien om produsente wat presteer ten spyte van ‘n klein stukkie grond, te beloon. Ons hoop om baie mense te inspireer om klein te begin op watter grond hulle ook toegang kan verkry en hulle vaardighede te ontwikkel, sodat hulle in ‘n posisie kan wees om die grootte van hulle bedrywighede te vergroot.

. 



