CHEMIKALIEE

Dink voor jy chemikalieë aanwend



INSTRUKSIES:

Folio strap: Chemiese beheer

Byline: Corné Louw, Landbou-ekonoom: Produksie/Insette, Graan SA



Landbou-chemikalieë kan in plaas van jou oes beskerm, jou oes vernietig indien dit nie volgens die voorgeskrewe aanbeveling en met die nodige sorg gebruik word nie. Deur die basiese beginsels van chemikalieë-aankope en -toediening te volg, kan ‘n produsent groot skade aan sy oes voorkom. 



Wanneer produsente chemikalieë toedien, moet op die volgende gelet word:

Is die landboumiddel geregistreer vir die betrokke gewas (in Suid-Afrika) en teen die spesifieke onkruid, swam of plaag?

Word die aanbevole dosis van die middel toegedien soos voorgeskryf?

Stem die weerstoestande tydens en ná die toediening ooreen met die toestande voorgeskryf?

Word die tyd van toediening nagekom, byvoorbeeld vroeg in die oggend of laat in die middag?

Val die toestand en aard van die grond waarop die gewas verbou word binne die raamwerk van die voorskrifte, byvoorbeeld tipe grond en grondvog?

Word die beheermaatreëls teen die plaag toegepas op die groeistadium soos deur gebruiksaanwysings voorgeskryf?

Nawerking – hou die landboumiddel ‘n gevaar in vir ‘n wisselboustelsel, met ander woorde vir die daaropvolgende gewas? 

Is die landboumiddel mengbaar met ander middels - spesifieke onkruiddoder met ander onkruiddoders en/of met ander insek- en swamdoders?



Om verdere risiko’s verbonde aan die aanwending van chemikalieë te verminder, beveel Graan SA aan dat produsente hul van die volgende vergewis tydens die aankoop van chemikalieë:

die agent moet bewys lewer dat die maatskappy wat hy verteenwoordig ŉ lid van CropLife SA is;

die verspreidingsmaatskappy moet ŉ lid van ACDASA wees;

die agent moet kan bewys dat hy gekwalifiseer is (dat hy/sy die AVCASA-eksamen suksesvol voltooi het); en

aanbevelings moet skriftelik wees en deur die agent onderteken wees.



Produsente moet ook let op die “drift” (drywing) wat kan plaasvind tydens die aanwending van chemikalieë, veral met lugbespuiting, en dit minimaliseer. Groot skade kan veroorsaak word indien dié chemikalieë op aangrensende lande, met vatbare gewasse, beland. 



Voedselveiligheid is van kardinale belang. Deur chemikalieë reg aan te wend en rekord te hou van hierdie aanwendings het ŉ produsent reeds die ergste voedselveiligheidsvereistes oorbrug.



