Challenges (Maize) 									Afrikaans

		

Uitdagings wat ontwikkelende produsente die hoof moet bied



Instructions: 

Folio strap: Produsente ontwikkeling

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente



Boerdery het nog altyd harde werk behels. Dit kan van produsente gesê word dat hulle nie bang is vir harde werk nie. Dit is egter so dat graanboerdery deesdae baie meer as net harde werk vereis. 



Ons het sekere faktore geïdentifiseer wat die proses van ontwikkeling vertraag. Hulle is soos volg:



Die nie-winsgewendheid van graanboerdery

Wanneer jy enigiets nuuts begin, is daar ‘n tydperk waarin jy nie optimaal funksioneer nie – dit is ook die geval met produsente. Foute is onvermydelik. Tans is daar geen marge vir foute as jy hoë insetkoste in ag neem, gekoppel aan lae pryse vir graan nie. Produsente, indien hulle ooit wins maak, se wins is klein en dus kan hulle nie in trekkers en implemente belê nie. Hulle gaan voort om met geleende kapitaal te werk. Dit is beide riskant en duur. Om lenings te verseker, moet produsente omvattende versekering uitneem, wat die winste verder verswak. 



Die gebrek aan kennis, vaardigheid en ondervinding

Boerdery is ‘n baie wye veld en ‘n groot verskeidenheid van sake moet hanteer word. Teoretiese kennis is nie genoeg nie – produsente leer uit jare en jare se ondervinding. In die Suid-Afrikaanse konteks is die ontwikkelende produsente merendeels nuwe toetreders tot die spel en die reëls van die spel is ingewikkeld – goeie prestasie vereis uitstekende fiksheid! Met die winsmarge onder uitermatige druk, is daar geen ruimte vir foute nie. Hoe doen jy ondervinding op en wie sal jou “vang” as jy val? 



Tekort aan produksiekrediet

Ontwikkelende produsente vind dit toenemend moeilik om tot produksielenings toegang te verkry. Dit is die resultaat van die vorige besprekingspunte hierbo genoem; winsmarges is klein en die risiko is hoog. Dit is te verstane dat finansierders nie geld kan verloor nie – hulle moet beleggers se kapitaal verstandig belê. Op hierdie stadium steun ons swaar op die Landbank vir produksiekrediet – dit is hulle mandaat om geld vir ontwikkelende produsente te leen. Die Landbank moet egter hulle risiko verminder – daarom dat daar ‘n goeie vennootskap tussen ons en die Landbank is. 



Tekort aan voldoende trekkers en implemente

Jare van klein winste het tot gevolg dat die toestand van trekkers en implemente afgeneem het – jy moet geld maak om jou in staat te stel om in implemente te belê.



Probleme met grond en toegang tot grond 

Daar is produsente wat toegang tot grond vir gewasproduksie het, wat nie meer vandag winsgewend is vir die aanplant van gewasse nie (as ‘n resultaat van die hoë insetkoste/produkteprys/potensiaal van die grond). Daar is ander wat goeie grond het wat nie afgekamp is nie en dus nie suksesvol op geboer kan word nie. Ander vereis groot hoeveelhede kalk en fosfate om die grond reg te stel. Ander bekwame produsente kan ook nie toegang tot grond deur Grondsake verkry nie (‘n debat vir ‘n ander geleentheid). Daar is dus ‘n aantal probleme verwant aan grond – dit alles maak produsente-ontwikkeling ‘n bietjie moeiliker. 



In die lig van die bogenoemde probleme het ons die ontwikkeling van produsente benader vanuit verskillende projekte en programme. Ons diens die produsente op die volgende wyses: 

Deur persoonlike kontak – studiegroepe, demonstrasieproewe, produsentedae, Produsent van die Jaar-kompetisie en die ontwikkelingsprogram;

Opleidingskursusse;

Geskrewe media; en 

Radio.



