Business (Maize) 									Afrikaans

Watter tipe besigheidsentiteit moet jy kies?

Instructions: 

Folio strap: Waardetoevoeging

Byline: Inligting saamgestel vanuit die Plaasbestuur vir Wins handleiding deur Marius Greyling.



Die keuse van ‘n besigheidsentiteit is ‘n belangrike besluit wanneer ‘n nuwe besigheid gevestig word. Die rede hiervoor is dat die tipe besigheid verreikende implikasies vir die bestuur, die posisie van die eienaars en bestuurders, en die finansiële sake van die nuwe besigheid inhou.



Elkeen van die ses belangrike besigheidsentiteite word bespreek. Die bespreking is gebaseer op sewe belangrike kenmerke. Die alternatiewe besigheidsentiteite sluit in eenmansaak, vennootskap, maatskappy, beslote korporasie, besigheidstrust en ‘n koöperasie. Die sewe kenmerke sluit in, die aard van elke tipe besigheid, aspekte van korporatiewe bestaan, verantwoordbaarheid, vestigingsprosedures, bestuursverantwoordelikhede, winsdeling, belastingpligtigheid, finansieringsgeleenthede en kontinuïteit. In hierdie artikel sal ons nie maatskappye en koöperasies bespreek nie, omdat hulle groot entiteite is wat in latere artikels op hulle eie bespreek kan word. 



Eenmansaak



Aard

‘n Eenmansaak is belangrik vir kleiner besighede omdat dit minder kapitaal vereis en eenvoudiger is om te vestig en te bestuur. Die ekonomiese aktiwiteite van ‘n eenmansaak is egter gewoonlik beperk.



Korporatiewe bestaan en verantwoordbaarheid

Die eenmansaak het nie korporatiewe bestaan nie en is daarom afhanklik van die fisiese en geestelike denkwyse, asook die solvensie van die eienaar. Hierdie feit hou ook ‘n gevaar in vir die eienaar se persoonlike bates. Indien die besigheid faal, sal dit lei tot die likwidasie van die eienaar in sy of haar persoonlike kapasiteit.



Vestiging

Vestiging is relatief eenvoudig, in die sin dat daar van die eienaar verwag word om ‘n naam te registreer en ‘n handelslisensie te bekom. Daar is geen addisionele vereistes vir eenmansake nie, behalwe unieke regulasies waaraan individuele besighede onderworpe mag wees. Gesondheidsregulasies vir restaurante is ‘n voorbeeld hiervan.



Bestuur

Eenmansake word gewoonlik deur die eienaar self bestuur. Die eienaar mag verkies om ‘n bestuurder aan te stel. Onthou dat geleenthede vir bevordering beperk is by eenmansake.



Omdat eenmansake deur een persoon bestuur word, kan hulle gewoonlik relatief vinnig by veranderende omstandighede aanpas. ‘n Negatiewe aspek van die eienaar/bestuurder situasie is, dat die kennis van die individu wat die besigheid bestuur, beperk mag wees. Dit is moeilik vir een persoon om alle aspekte van finansiering, bemarking, operasies, aankope, administrasie en personeel optimaal te bestuur.



Winsdeling en belastingpligtigheid

Omdat daar geen onderskeid tussen die bates en laste van die eienaar en dié van die besigheid gemaak word nie, sal enige besigheidswins deel van die eienaar se persoonlike inkomste vorm. Geen direkte belasting word op die besigheid gehef nie, maar die eienaar word belas in sy persoonlike hoedanigheid op die winste van die besigheid. Die eienaar is egter geregtig op normale individuele belastingaftrekkings.



Finansieringsgeleenthede

‘n Eenmansaak het nie korporatiewe bestaan nie. Die eienaar is daarom grootliks verantwoordelik om die besigheid vanuit persoonlike bronne te finansier. Dit impliseer dat die finansiering en uitbreidingsgeleenthede van ‘n eenmansaak beperk is tot die kredietwaardigheid van die eienaar. Herinvestering van die winste vanaf die besigheid is daarom ‘n belangrike bron van kapitaal vir die eenmansaak.



Kontinuïteit

‘n Eenmansaak vorm deel van die eienaar se boedel. Dood of insolvensie van die eienaar beëindig die besigheid. Wanneer die besigheid verkoop word, bestaan dit nie meer in die naam van die verkoper nie, maar in die naam van die koper. Indien die eienaar die besigheid wil verkoop, moet sekere kennisgewings gegee word om sodoende die krediteure van die besigheid te beskerm.



Indien die eienaar die besigheid wil beëindig, word geen formele prosedure benodig nie. Omdat die laste van die besigheid die eienaar se verantwoordelikheid bly, sal die beëindiging van enige operasies lei tot die einde van die besigheid.



Vennootskap



Aard

Vennootskappe word oor die algemeen gebruik deur professionele mense, soos dokters en prokureurs. Vennootskappe is ook ideaal in omstandighede waar gematigde hoeveelheid kapitaal benodig word of waar die bestuursvaardighede van meer as een persoon gebruik word. ‘n Vennootskap is ‘n kontraktuele ooreenkoms tussen twee of meer individue. Die hoeveelheid vennote mag nie 20 oorskry nie.



Die onderskeie vennote is:

Natuurlike persone;

Korporatiewe persoonlikhede;

Senior en junior vennote;

Aktiewe en passiewe vennote; en

Stil en geheime vennote.



Korporatiewe persoonlikhede is geregtig om lede van ‘n vennootskap te word op dieselfde wyse as natuurlike persone. ‘n Voorbeeld hiervan is wanneer ‘n aantal maatskappye ‘n konsortium stig. Senior vennote word onderskei van junior vennote deur die aantal jare in die vennootskap, of die hoeveelheid kapitaal in die vennootskap belê. Aktiewe vennote neem deel aan die bestuur van die vennootskap, terwyl passiewe vennote nie deel het nie. Stil vennote is bekend aan partye wat handel met die vennootskap, maar tree nie op namens die vennootskap nie. ‘n Geheime vennoot se identiteit word egter weerhou.



Die doel van ‘n vennootskap is om wins te genereer deur ekonomiese aktiwiteite. Sonder hierdie doel kan ‘n groep mense of persoonlikhede nie ‘n vennootskap stig nie. Elke vennoot is verplig om by te dra tot die kapitale basis van die vennootskap. So ‘n bydra kan die vorm van geld, dienste, ander bydraes of ‘n kombinasie van al drie aanneem.



Korporatiewe bestaan en verantwoordbaarheid

Terwyl die vennootskap bestaan, is alle vennote gesamentlik verantwoordelik vir die laste, maar na ontbinding is hulle gesamentlik en individueel verantwoordelik vir enige laste.



Vestiging

‘n Vennootskap word gestig deur ‘n vennootskapsooreenkoms tussen voornemende vennote. So ‘n ooreenkoms beteken die sluit van ‘n kontrak tussen vennote en om geldig te wees moet dit voldoen aan die minimum vereistes vir ‘n kontrak. Ander vereistes wat spesifiek verwant is aan die vennootskapsooreenkoms sluit in:

‘n Beskrywing van elke vennoot se bydra tot die vennootskap;

‘n Skriftelike ooreenkoms oor hoe bates aangewend sal word tot voordeel van alle vennote;

‘n Verklaring waarin vennote hulle verbind tot winsgenerering.



Bestuur

Bestuursverantwoordelikhede en funksies word gereguleer deur die vennootskapsooreenkoms. Die ooreenkoms kan daarom aandui dat bestuursverantwoordelikhede aan ‘n sekere vennoot, sommige vennote of al die vennote gegee word.



Winsdeling en belastingpligtigheid

‘n Winsdelingsverhouding moet in elke vennootskapsooreenkoms ingesluit word. Indien ‘n verhouding nie aangedui word nie, is die algemene reël dat winste gedeel word in dieselfde verhouding as bydraes tot die vennootskap. Indien die waarde van bydraes nie bepaal kan word nie, moet vennote gelyke aandeel in winste hê.



Die vennootskap self is nie belasbaar nie, maar vennote in hulle persoonlike hoedanigheid is wel. Alle betalings aan vennote word gesien as deel van hul persoonlike inkomste en hulle word dienooreenkomstig belas. Belastingaftrekkings vir individue word daarom toegepas.



Finansieringsgeleenthede

Die finansiële en ander vermoë van twee of meer mense word binne ‘n vennootskap gekombineer. Die resultaat hiervan is meer aantreklike finansieringsgeleenthede as in ‘n eenmansaak. Die gekombineerde kredietwaardigheid van die vennote word in ag geneem deur finansieringsinstansies wanneer vennote aansoek doen vir krediet of lenings. Krediet is vrylik beskikbaar, maar langtermyn kapitaal bly moeilik, omdat vennootskappe nie korporatiewe persoonlikhede is nie en daarom nie oor kontinuïteit beskik nie.



Kontinuïteit

Die kontinuïteit, soos by ‘n eenmansaak, word bedreig deur die gesondheid of insolvensie van die vennootskap. Enige verandering in ‘n vennoot se omstandighede kan die vennootskap beëindig. ‘n Nuwe vennootskap moet dan tot stand gebring word. Die dood van een vennoot beëindig die ooreenkoms tussen daardie spesifieke vennote. 



Beslote Korporasie (BK)



Aard

Die Beslote Korporasie Wet van 1984 het ‘n vorm van besigheid geskep wat geregtig is op wetlike persoonlikheid, maar nie onderworpe is aan al die formele reëls en regulasies vir maatskappye nie.



‘n Beslote Korporasie is daarom ‘n ekonomiese eenheid met ‘n wetlike persoonlikheid, geïnkorporeer in terme van die Beslote Korporasie Wet (1984). Dit bestaan uit nie meer as tien lede nie, waar elkeen bydra tot die kapitale basis. Dit is nie uitsluitlik verbind aan winsskepping nie.



‘n Beslote korporasie bestaan uit lede, nie aandeelhouers nie. Lede moet natuurlike persone wees, maar onder sekere omstandighede mag ‘n testamentêre trust deur die trustee, ook ‘n lid word. Die verhouding tussen ‘n lid en die beslote korporasie is dieselfde as die verhouding tussen ‘n direkteur en sy maatskappy.



Bydraes deur lede kan die vorm aanneem van geld, bates of dienste. Bydraes kan verminder of vermeerder word gedurende die lewensduur van die beslote korporasie. Verminderde bydraes kan beïnvloed word deur die beslote korporasie wat sy belange terugkoop (dit beteken eenhede van eienaarskap in ‘n beslote korporasie, soos aandele in ‘n maatskappy). In teenstelling met ‘n maatskappy hoef ‘n beslote korporasie nie sy kapitale basis onaangeroer te laat nie. Lede se belange hoef nie proporsioneel tot hulle bydraes te wees nie. Belange word gedeel in terme van ‘n samewerkingsooreenkoms tussen lede en vorm gewoonlik die basis van winsdeling.



Korporatiewe bestaan en verantwoordbaarheid

Al die bates, laste, regte en skuld is die verantwoordelikheid van ‘n beslote korporasie. ‘n Lid kan verantwoordelik gehou word wanneer die ooreenkoms vir vertroulikheid verbreek word of wanneer besigheidsake onverantwoordelik bestuur word.





Vestiging

Om ‘n beslote korporasie te stig moet ‘n stigtingsbrief, tesame met ‘n fooi, aan die Registrateur van Beslote Korporasies oorhandig word. Dit dien as ‘n publieke dokument en bevat die naam, adres en besigheid van die beslote korporasie, sowel as name van lede en inligting oor hulle bydraes en belange. Wanneer die registrateur tevrede is met die inligting, sal hy die beslote korporasie registreer en ‘n sertifikaat van inkorporasie uitreik. ‘n Samewerkingsooreenkoms word deur lede van die beslote korporasie geteken om interne verhoudings te reguleer. Die samewerkingsooreenkoms is ‘n privaat dokument van die beslote korporasie en bevat aspekte aangaande die bestuur en prosedure van die besigheid, asook die verantwoordelikhede en verpligtinge van lede.



Bestuur

Die samewerkingsooreenkoms spel die bestuur van die beslote korporasie uit. Die ooreenkoms tussen lede kan die regulasies van die Beslote Korporasie Wet van 1984 vervang. Sekere regulasies mag egter nie vervang word deur die ooreenkoms nie. Dit sluit die reg in van enige lid om ‘n ledevergadering saam te roep of om sekere mense deelname in die bestuur van die besigheid te weier.



‘n Geregshof mag op versoek van die beslote korporasie of van ‘n lid, betrokke raak by die bestuur van die besigheid. Dit beskerm beide die beslote korporasie van sy lede en lede van mekaar. Hierdie vertrouensposisie bepaal dat geen lid se eie belange in konflik met die van die beslote korporasie mag wees nie. Die beslote korporasie se belange geniet voorkeur. Dit is ook duidelik van die term “beslote korporasie”, waar “beslote” impliseer dat lede nou betrokke by die besigheid is. Lidmaatskap en bestuur word daarom nie geskei soos by ‘n maatskappy nie.



Winsdeling en belastingpligtigheid

‘n Beslote korporasie betaal sy lede vir dienste gelewer. Netto inkomste na belasting kan verdeel word tussen lede deur middel van dividende. As dit by salarisse kom, word lede belas volgens persoonlike belastingstrukture en sluit dividende uit. Dubbele belasting word dus vermy, omdat beslote korporasies belas word volgens maatskappybelasting. Dividende wat ontvang word deur ‘n beslote korporasie, word egter gesien as deel van die inkomste en word daarom proporsioneel belas in terme van maatskappybelasting. Onverdeelde wins wat in ‘n reserwefonds gestoor word, is nie belasbaar nie.



Finansieringsgeleenthede

Die beslote korporasie se eienaarsbelang is beperk tot die bydraes van ‘n maksimum van tien lede. Dit is daarom moeiliker vir ‘n beslote korporasie as vir ‘n maatskappy om kapitaal te bekom. Lede van ‘n beslote korporasie geniet ook beperkte verantwoordelikheid in terme van die skuld van die besigheid. Dit, tesame met die feit dat die finansiële state van ‘n beslote korporasie private dokumente is, bemoeilik die bekombaarheid van krediet. Lede mag skuld waarborg, maar enige aansoeke om beperkte verantwoordelikheid, sal weggewys word.



Kontinuïteit

‘n Beslote korporasie het ‘n wetlike persoonlikheid. Kontinuïteit word daarom nie beïnvloed deur die dood of aftrede van enige lid nie. Belange in ‘n beslote korporasie kan bekom word en ‘n beslote korporasie kan ook belange terugkoop. Die insolvensie van ‘n lid bedreig nie die beslote korporasie nie, omdat belange verkoop of teruggekoop word deur die besigheid.



‘n Beslote korporasie word beëindig deur likwidasie wat deur lede of krediteure gedoen word. Vrywillige likwidasie is onderworpe aan die goedkeuring van alle lede. Likwidasie vind plaas deur die indiening van spesifieke dokumente aan ‘n geregshof.



Besigheidstrusts



Aard

Die beginsel van ‘n trust is dat ‘n stigter spesifieke bates onder beheer van ‘n trustee plaas, wat die trust-kapitaal namens hom hanteer tot voordeel van ‘n begunstigde. In Suid-Afrika is daar verskillende vorms van trusts. ‘n Testamentêre trust word gestig om te voorsien vir die testateur se naasbestaandes. Die naasbestaandes is dus die begunstigdes. Die kontraktuele trust word gestig by wyse van ‘n kontrak en dien as ‘n vorm van besigheid. Sorg moet egter gedra word dat daar onderskei word tussen besigheidstrusts en die name van sekere maatskappye wat misleidend kan wees, byvoorbeeld beleggings of unit trusts.



Kontraktuele trusts word gebruik om statutêre en ander beperkings te omseil. Hierdie beperkings sluit statutêre beheermaatreëls in, wat geld vir maatskappye of belasting verwante sake. Trusts beperk nie die aantal stigterslede of begunstigdes nie en weerhou ook nie die identiteit van trustees nie.



Korporatiewe bestaan en verantwoordbaarheid

‘n Trust het unieke bates. Dit bestaan ook apart van die trustees, begunstigdes of stigters, bedryf besigheid in sy eie naam en word onafhanklik bestuur. Dit geniet egter nie wetlike persoonlikheid nie. Begunstigdes, trustees en stigters geniet beperkte verantwoordbaarheid.



Vestiging

Die kontraktuele trust word gestig in terme van ‘n kontrak of trust-akte wat spesifieke bates namens die trust skei. Hierdie bates word onder beheer van die trustee geplaas wat dit bestuur namens die begunstigdes. Die trust-akte bevat die name en doelwitte van die trust, verantwoordelikheid van trustees, besonderhede van begunstigdes en voorwaardes verwant aan die bestuur van die trust. ‘n Afskrif van die trust-akte moet ingehandig word by die Meester van die Hooggeregshof. Die Meester tree as ‘n waghond vir die administrasie van die trust deur die trustee op. 



Die trust-akte moet aan die voorwaardes van die Trust Eiendoms Beheer Wet van 1988 voldoen. Enige ander statutêre vereistes wat ‘n invloed het op die aktiwiteite van die trust, moet ook nagekom word, byvoorbeeld: wanneer vaste eiendom na die trust oorgedra word, moet alle statutêre vereistes verwant aan die oordrag nagekom word.



Veranderinge aan die voorwaardes van die trust-akte kan slegs ingestel word met die toestemming van alle trustees, stigters en begunstigdes. ‘n Geregshof kan hierdie verandering bekragtig indien een van die partye onredelik is deur sy toestemming te weier.



Bestuur

Die trustee bestuur die trust in terme van die vereistes van die trust-akte en die Trust Eiendoms Beheer Wet van 1988. Dit is die Meester van die Hooggeregshof wat egter ‘n sertifikaat uitreik wat die trustees in staat stel om die trust te bestuur.



Vereistes rakende die bestuur van die trust se bates moet ook nagekom word. Hierdie vereistes sluit die deeglike bestuur van trustbates in, die instandhouding van ‘n posisie van vertroue met betrekking tot begunstigdes en skeiding van trustbates van persoonlike bates. Enige wangedrag of nalatigheid deur trustees kan lei tot hulle ontslag as trustees en die instelling van siviele of publieke aksies teen hulle.



Winsdeling en belastingpligtigheid

‘n Trust word bestuur om die belange van die begunstigdes te dien. Winste van die aktiwiteite van die trust moet aan begunstigdes toegedeel word in terme van die trustakte. Trustees moet egter proporsioneel vergoed word volgens hul verantwoordelikhede teenoor die trust.



Vir belastingdoeleindes word die trust gesien as ‘n ongetroude individu. Persoonlike inkomstebelasting word gehef. Die trust word bestuur as ‘n ongetroude individu wat geregtig is op sekere belastingsaftrekkings. Onthou egter dat slegs die gedeelte van die trust-inkomste wat nie aan begunstigdes toegedeel word nie, op hierdie manier belas word. Inkomste vanaf die trust aan begunstigdes word gesien as rente-inkomste en dienooreenkomstig belas. Op hierdie manier word dubbele belasting vermy. Indien trust-inkomste tussen meer begunstigdes verdeel word en indien hierdie begunstigdes nie ‘n alternatiewe bron van inkomste het nie, kan dit laer belasting-tariewe vir die wins van die trust meebring.



Finansieringsgeleenthede

Gesonde finansiering ontstaan vanuit die bates wat deur die stigter in die trust-akte geïdentifiseer word. Addisionele kapitaal word moeilik bekom, omdat nie die trustees, of die begunstigdes, verantwoordelik is vir die skuld van die trust nie. Trustees of begunstigdes kan die skuld van die trust waarborg, maar dit neem nie die beperkte verantwoordelikheid van hierdie partye in ag nie. Die vraag kan ontstaan oor ondernemingskapitaal deur die trust. Dit kan beantwoord word deur te kyk na die vereistes van die trust-akte of die doelwitte van die trust.



Kontinuïteit

Kontinuïteit van die trust word bepaal deur die vereistes van die trust akte.



Opsomming

Die keuse van ‘n besigheidsentiteit verteenwoordig een van die mees belangrike sake van ‘n nuwe besigheid. Ons het verskillende besigheidsentiteite in Suid-Afrika in hierdie artikel bespreek. Elke keuse het verreikende gevolge vir die bestuur en beheer van die besigheid. Versigtige oorweging is daarom uiters belangrik om te verseker dat die besigheidsentiteit wat gekies word, voldoen aan die persoonlike omstandighede van die entrepreneur en die nuwe besigheid.

 









