Business (Maize)									Afrikaans

Wat word benodig om ‘n besigheid te bestuur?



Instructions: 

Folio strap: Bestuur

Byline: Inligting saamgestel vanuit die Plaasbestuur vir Wins Handleiding deur Marius Greyling



Wanneer jy ‘n lys saamstel van dit wat benodig word om ‘n besigheid te bestuur, kan dit lei tot ‘n lang en uitgebreide lys. Die behoeftes of hulpbronne word beïnvloed deur faktore soos die tipe besigheid, grootte, tyd, ensovoorts.



Vir ‘n boerderybesigheid word behoeftes soos grond, water, weiding, behuising, werkswinkel, melkstal, besproeiingstoerusting, voertuie, masjinerie, trekkers, gereedskap, arbeid of werknemers, finansies en bestuurders ingesluit. In breë terme word hierdie hulpbronne geklassifiseer as bestuur, grond, kapitaal en arbeid.



Hulpbronne waarna verwys word, is: (ook bekend as produksiefaktore)

Grond – sluit in die fisiese grond, veld, aangeplante weidings, geboue en ander permanente strukture soos krale, store, dierebehuising en omheining.

Kapitaal – verwys na fisiese geld en ander bates soos voertuie, trekkers, beeste en skape.

Arbeid – bedoelende die mense wat op die plaas werk onder instruksie van die bestuurder.

Bestuur – die persoon of persone wat die besluite neem met betrekking tot die bestuur van die besigheid.



Met die uitsondering van arbeid, wat nooit die besitting van die besigheid kan wees nie, behoort die ander produksiefaktore en alles ingesluit tot die besigheid. Dit mag uitgeleen of verhuur word aan ander entiteite. Wanneer grond, kapitaal en bestuur uitgeleen of verhuur word, staan die produksiefaktore bekend as vreemde faktore. Die faktor behoort aan ‘n ander entiteit. Die ander entiteit of eienaar moet dan vergoed word vir die gebruik van die faktor – met ander woorde, daar is kostes of uitgawes betrokke. Die kostes staan bekend as vreemde faktor-kostes en word meer spesifiek genoem:



Huur – vergoeding vir die gebruik van vreemde grond, sowel as ander bates;

Rente – vergoeding vir die gebruik van vreemde of geleende kapitaal; en

Salaris – vergoeding vir die gebruik van vreemde bestuur.


Let egter daarop dat alhoewel arbeid nooit tot ‘n besigheid kan behoort nie, dit nie as ‘n vreemde faktor bekend kan staan nie. Die koste betrokke as vergoeding vir arbeid, lone en alles daarby ingesluit, kan daarom nie as vreemde faktor-koste bekendstaan nie. Arbeid staan bekend as ‘n normale produksie en/of oorhoofse uitgawe. ‘n Werknemer stel sy fisiese vermoëns en/of kennis beskikbaar aan ‘n besigheid waarvoor hy/sy dan vergoed word.

		 



