Beef (Maize)										Afrikaans
Beplanning en voorbereiding van jou beeskudde
Folio strap: Lewendehawebestuur
Byline: Jenny Mathews, voorsitter van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente
Die voorbereiding van jou beeskudde vir 'n droë seisoen vereis deeglike beplanning. Produsente moet versigtig beplan en voorberei vir die seisoen om te verseker dat die beste resultate bereik word en dit vereis 'n gesonde en volhoubare besigheidsplan in aksie.
Natuurlike weiding is die hoofbron van voer vir huishoudelike vee in Suid-Afrika. Terwyl die winter naderkom, begin hierdie natuurlike gras droog word en gevolglik daal die hoeveelheid beskikbare voer vinnig, en so ook die gehalte van die voer.
Gedurende die winter is die proteïen-inhoud van grasse laag en die lignien-inhoud hoog. Vee verloor vinnig kondisie wanneer die natuurlike weiding nie goeie kwaliteit is en nie meer aan die diere geskikte voeding in die vorm van proteïen kan voorsien nie en terselfdertyd veroorsaak die hoër vlakke van lignien dat die beeste minder gras vreet, omdat hulle dit toenemend onsmaaklik vind. Die veeprodusent kan 'n verskeidenheid strategieë volg:
Veeverkope
Oorweeg die verkoop van diere wat nie presies pas in die langtermyn sakeplan nie. Hierdie diere vreet voervoorrade wat deur die meer lewensvatbare lede van die trop verbruik kan word. Hierdie strategie sal vereis dat die produsent moet bereken hoeveel addisionele winter voervoorraad aangekoop moet word en wat hy kan bekostig om te bestee. Hierdie inligting stel die produsent in staat om te besluit hoeveel diere hy kan bekostig om volhoubaar te voer deur die winter. Dan vereis dit dat teeldiere met die beste genetika geïdentifiseer moet word om waarde tot die kudde in die toekoms by te voeg. Dit is die beste om diere wat geïdentifiseer is vir verkoop, te verkoop voordat hulle ‘n gebrek aan voer het en wanneer hulle steeds aantreklik genoeg vir die koper is om billike pryse te betaal. Hierdie diere sal dan geen verdere koste vir die produsent beteken nie en geen verdere druk op die beskikbare weiding plaas soos die seisoen verander nie. Hou die mark dop wanneer pryse geneig is om te daal as gevolg van groot getalle diere wat verkoop word net voor die winter. Die inkomste wat verkry word uit die verkoop van sommige diere in die kudde sal ook 'n belangrike rol speel sodat die produsent die nodige wintervoer kan bekostig en die beste toestande vir die oorblywende kernkudde kan skep om die droë wintermaande te oorleef.
Veevermindering kan tyd, geld, weiding en grond hulpbronne bespaar en is beslis die moeite werd om te oorweeg as 'n bestuursmetode. Jy kan altyd die diere vervang aan die einde van die droë periode indien die begroting versigtig bestuur is.
Aanvullende voeding
Aanvullende voeding is 'n fundamentele deel van lewendehawe bestuur vir oorwintering.
Gedurende uitgebreide droë tydperke, wanneer die weiding nie meer voedingswaarde het nie, sal diere hulle vetreserwes gebruik, wat sal lei tot 'n verlies aan gewig en kondisie. Energie, proteïen en vesel is noodsaaklike elemente in voer vir diere dwarsdeur die jaar en aanvullende voeding kan aan hierdie vereistes voldoen indien die produsent gebruik maak van voerbronne soos hooi, graan, geformuleerde voermengsels en natuurlike lekke as aanvulling tot natuurlike weiding.
Indien vleisbeesprodusente nie hul wintervoeding strategieë vroegtydig beplan nie, sal swaar finansiële verliese ervaar word indien voer gekoop word op 'n laat stadium wanneer voerkoste op hul hoogste is. Bereken jou koste vroegtydig en sluit jou vervoerkoste in by jou begroting. Besluit of dit beter sou wees om grootmaat of per sak te koop. Brandstofkoste sal jou begroting beïnvloed.
Nog 'n onvoorsienbare verlies is die onnodige verlies as gevolg van swak konsepsie van die kudde en daarna die verlies aan inkomste uit kalwers wat vroeg die volgende somer gebore kon word. In werklikheid is dit bewys dat selfs indien koeie maer is gedurende kalftyd, konsepsie 60 tot 90 dae later sal plaasvind en so die volgende kalfsiklus negatief sal beïnvloed.
Wanneer diere bekendgestel moet word aan nuwe rantsoene ter voorbereiding vir die droë seisoen, moet dit geleidelik gedoen word, omdat 'n oorgangstydperk van tot vier weke nodig is. Byvoeding moet begin wanneer daar nog redelik gras op die veld is en voor die diere te veel kondisie verloor. Bring nuwe voer geleidelik in omdat skielike veranderinge in die voer swak gesondheid by die kudde veroorsaak. Graanvoorraad veral moet baie versigtig ingebring word, omdat diere dit gulsig kan vreet en asidose kan kry. Die onderliggende oorsaak van asidose is te veel stysel en te min verteerbare vesel in die rantsoen. Hooi en ruvoer is 'n belangrike element in die mengsel, omdat dit die dieet balanseer en siektes help voorkom. Kommersiële rantsoene is baie gerieflik en wetenskaplik gebalanseerd, maar hulle is ook duur. 'n Goed georganiseerde produsent moet in staat wees om sy eie mengsels te meng deur gebruik te maak van wat hy beskikbaar het of wat hy plaaslik kan kry. Dit is altyd wys om raad vanaf plaaslike diere voedingkundiges te kry oor ideale resepte, omdat elke klas vee verskillende voedingsbehoeftes het.
Ander oorwegings
Selfs tydens die droë seisoen moet die produsent die veld bestuur. Dit moet nooit gebeur dat oorbeweiding plaasvind nie, omdat kaal grond die risiko verhoog dat waardevolle grond weggewaai of weggespoel kan word tydens donderstorms en die meeste van die voedingstowwe kom in die bogrond voor. Indien die droë seisoen uitgestel word, kan produsente oorweeg om diere op kleiner areas aan te hou om die skade wat hulle aan die natuurlike plantegroei veroorsaak, te beperk.
Die gesondheid van die diere moet noukeurig gemonitor word, omdat die effek van parasiete of siektes by die kudde dikwels toeneem gedurende die droë maande as gevolg van diere wat swakker is.
Gevolgtrekking
Die duurste aspek van die bestuur van 'n vleisbeeskudde, is die wintervoerperiode, daarom moet dit oordeelkundig bestuur word om te verseker dat die winsgrens gesond is. Elke produsent sal besluit watter plan van aksie die beste sal pas by sy unieke kombinasie van omstandighede, beide op die plaas en sy sak. Soms sal hy aanvullende voeding gebruik slegs om die gewig van sy diere instand te hou gedurende die wintermaande, terwyl 'n gesonde bankbalans hom in staat kan stel om te verseker dat sy speenkalwers daagliks toeneem in gewig. 'n Suksesvolle beesvleisprodusent moet die weiding reg bestuur, die korrekte veelading toepas en die somer so lank as moontlik maak!
