Activities (Maize) 								Afrikaans



Boerdery aktiwiteite – wat probeer jy doen?



Instructions: 

Folio strap: Bestuur

Byline: Jane McPherson, programbestuurder van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir produsente 



Daar is baie moontlike redes waarvoor jy die grond tot jou beskikking wil gebruik. Jou begeerte om te boer kan die volgende redes insluit:



Om voedsel te produseer vir jou familie;

Om ‘n inkomste te genereer; of 

Vir die gebruik van beskikbare landbougrond.



Boerdery handel oor die produksie van voedsel en vesel. Om suksesvol te boer, is goeie kennis van plante, diere, meganisasie en bestuur nodig.



Plante

Verskeie dele van plante kan vir kommersiële doeleindes gebruik word – wortels (soos wortels), blare (soos kool), vrugte (soos perskes) of die saad (soos mielies). Hierdie plante kan direk deur mens en dier gebruik word of dit kan in ‘n ander vorm verwerk word.

Daar is verskeie tipes plantgewasse wat kommersieel verbou kan word:

Graangewasse, byvoorbeeld mielies, sonneblom, sorghum, grondbone en sojabone;

Groente, byvoorbeeld aartappels, tamaties, wortels, uie en beet;

Vrugte, byvoorbeeld sitrus – lemoene, suurlemoene en nartjies;

Bladwisselende vrugte – appels, kersies, perskes en appelkose;

Aangeplante weidings, byvoorbeeld Eragrostis, Smutsvingergras, Lusern en Seradella;

Drankies, byvoorbeeld tee en koffie;

Vesel byvoorbeeld katoen en vlas; en

Tabak. 



Plante benodig grond, water, hitte, lig en voedingstowwe om te groei. Gedurende die groeifase het plante wortels, stamme en blare. Dit funksioneer as ‘n fabriek om die plant te help om sy saad te produseer (reproduksie). 



Diere

Verskeie tipes plaasdiere dien as ‘n bron van:

Melk (melkbokke of melkkoeie);

Vleis (vleisbeeste, vleisskape en bokke, braaikuikens)

Vesel (wolskape en Angora bokke);

Huide en velle (Karakoel skape);

Eiers (lê-henne); en 

Trekdiere (perde, donkies en osse). 



Diere werk regtig soos ‘n mini fabriek, hulle skakel wat hulle eet (gewoonlik op die plaas geproduseer) om in dit waarvoor hulle aangehou word (melk, vleis, wol ensovoorts). Die meeste plaasaktiwiteite behoort gerig te word op die produksie van kos vir die diere (byvoorbeeld ‘n produsent met vleisbeeste kan ook as ‘n grasprodusent gesien word, omdat hy sonder gras geen vleis kan produseer nie). 



Die produsent moet ‘n besluit neem watter diere om aan te hou, afhangend van verskeie faktore soos die tipe plaas, die klimaat, plaaslike markte, ens. Keuses sluit in:

Beeste – melk, vleis of dubbeldoel;

Skape – vleis, wol of dubbeldoel;

Bokke – melk, Angora of Boerbok;

Pluimvee – lê-henne of braaikuikens; en

Perde en donkies – hoofsaaklik as trekdiere. 



Meganisasie

Arbeid op ‘n plaas kan baie stadig en duur wees. Die proses van meganisasie is gerig op verhoogde kapasiteit – om dinge vinniger en beter te doen. 



Die bron van energie vir trekdoeleindes kan osse, perde, donkies of trekkers wees. Hulle kan gebruik word om implemente te trek vir grondbewerking, gewasaanplanting, onkruidbeheer, stroop van gewasse of vervoer. Die keuse van bron van trekkrag sal afhang van die hulpbronne van die produsent, sowel as die grootte en tipe grond wat die produsent bewerk. 



Bestuur

Bestuur kan beskryf word as die samevoeging van alle aspekte van die beskikbare hulpbronne (grond, plante, diere, meganisasie) om sodoende die doelwitte van voedselproduksie, inkomsteskepping of die beskikbare grond te bereik. 



Indien boerdery suksesvol is, moet al die verskillende hulpbronne optimaal gebruik word – dit sluit in finansies, mense, grond, plante, diere, masjinerie en markte. 



Finansiële bestuur en rekordhouding is ‘n baie belangrike deel van plaasbestuur en dit behoort gereeld en met groot sorg gedoen te word. As jy nie ‘n wins uit die boerdery maak nie, sal jy nie baie lank kan aanhou boer nie, behalwe as jy ‘n ander vorm van inkomste het om jou boerdery te subsidieer.



Gebruik asseblief jou tyd om die vrae hieronder te hersien – vra jouself elke vraag en dink eerlik na oor die antwoord. As jy nie duidelikheid het wat jy probeer bereik nie, is die kanse goed dat jy sal misluk – as jy nie weet waarheen jy oppad is nie, is dit onwaarskynlik dat jy jou eindbestemming sal bereik! 	



Faktore om in ag te neem

Die volgende faktore behoort in ag geneem te word voor ‘n besluit geneem word oor watter gewasse om aan te plant, watter lewende hawe om aan te hou of watter kombinasies om te maak.



Verwagtinge van die produsent

Hoekom boer jy?

Is die plaas die enigste bron van inkomste?

Hoeveel mense is van die plaas afhanklik vir oorlewing?

Gaan jy al die werk self doen?

Gaan produksie vir eie gebruik wees of gaan dit verkoop word?

Het jy ‘n natuurlike voorkeur vir enige kommoditeit?

Watter wins kan jy van jou boerdery verwag?

Benodig jy enige opleiding om jou kennis en vaardighede te verbeter?



Toegang tot grond

Hoekom is gewaarborgde toegang tot grond belangrik?

Het jy wetlike toegang tot grond?

Hoe kan jy toegang tot grond verkry?

Is dit jou eie grond?

Is jy ‘n lid van ‘n groep wat die grond besit?

Indien jy ‘n lid van ‘n groep is, deur watter wetlike entiteit is die groep geregistreer?

Het jy ‘n konstitusie/trustakte of iets soortgelyks wat die verhouding tussen lede van die groep bestuur?

Is daar sommige lede van die groep wat nie meer betrokke by die boerdery is nie?

Wat sal gebeur indien daardie onaktiewe lede van die groep terugkeer plaas toe?

Het jy toestemming om stamgrond te beset?

Het jy ‘n wettige huurooreenkoms?

Wat is die huurtermyn?



Grootte van die grond

Tot hoeveel hektaar het jy toegang?

Hoeveel hektaar natuurlike weiveld?

Hoeveel hektaar aangeplante weiding?

Hoeveel hektaar bewerkbare grond?

Hoeveel hektaar besproeiingsgrond?

Wat is die totale drakapasiteit van die plaas?



Toeganklikheid van die grond

Is die grond maklik padlangs toeganklik?

Indien jy swaar goedere produseer (graan of groot hoeveelhede groente), sal die vragmotors dit kan vervoer?

Is die grond naby ‘n residensiële area waar diefstal ‘n probleem kan wees?

Word die grond beskerm deur goeie omheining?



Grondtipes

Watter tipe grond het jy?

Wat is die klei-inhoud van die grond?

Wat is die gronddiepte?

Wat is die helling van die grond?



Reënval

Wat is jou verwagte jaarlikse reënval?

Wanneer verwag jy om reën te kry?

Watter maande is gewoonlik droogtemaande?



Temperatuur 

Kry jou area ryp in die winter?

Wanneer verwag jy die eerste ryp van die jaar?

Wanneer kan jy die laaste ryp van die jaar verwag?



Toegang tot meganisasie

Het jy jou eie trekkers en implemente?

Kan jy ‘n trekker en implemente huur indien jy nie jou eie besit nie?

Sal die implemente wat jy beoog om te huur beskikbaar wees wanneer jy dit nodig het of gaan jy in ‘n ry staan soos die seisoen ontwikkel?

Wat gaan dit kos om implemente te huur?



Toegang tot markte

Het jy ‘n mark vir die produk wat jy beplan om te produseer?

Wie is die kopers van die produk wat jy wil produseer?

Het jy kontak met die kopers?

Wat is die huidige prys van die produk wat jy wil produseer?

Hoe gaan jy jou produk by die mark kry?

Verstaan jy die kwaliteitstandaarde van die produk wat jy wil produseer?

Het jy enige ondervinding met bemarkingskontrakte?



Toegang tot besproeiing

Het jy toegang tot water vir besproeiing?

Het jy geregistreer by die plaaslike waterraad om die water te kan gebruik?

Hoeveel water mag jy gebruik?

Hoeveel grond is geregistreer om te besproei?

Indien jy boorgatwater gebruik, is jou boorgat geregistreer?

Wat is die kapasiteit van die boorgat?

Wat is die watervereistes van die gewas wat jy produseer?





Finansiële hulpbronne

Wat beplan jy om te plant?

Weet jy wat die direkte koste (diesel, saad, kunsmis, onkruiddoders, plaagdoders en gewasversekering) per hektaar sal wees?

Weet jy wat jou oorhoofse koste (elektrisiteit, rente, salarisse en lone, instandhouding ensovoorts) per jaar beloop?

Het jy die nodige geld beskikbaar? 

Het jy aansoek gedoen vir ‘n lening?

Watter rentekoers gaan jy op die lening betaal?

Wanneer gaan die geld beskikbaar wees?

Teen gemiddelde opbrengs, sal jy in staat wees om ‘n wins op die gewas te maak?

Hoe gaan jy oorleef totdat die gewas geoes word?



Vervoer

Het jy vervoer om jou insette op die plaas te kry?

Het jy vervoer om die produk van die plaas na die mark te kry?

Wat is die koste van vervoer?

Het jy hierdie koste in jou beplanning ingesluit?



Toegang tot insette

Weet jy watter insette jy benodig om die oes te produseer?

Waar kan jy insette koop?

Hoe gaan jy hierdie insette vervoer?

Wat is die prys van hierdie insette en hoe vergelyk dit met dié van ander verskaffers?

Weet jy hoeveel van elke inset jy gaan benodig?

Het jy genoegsame beplanning gedoen?



Afstand van jou huis

Hoe ver bly jy van die grond waarop jy boer?

Hoe dikwels kan jy op die plaas kom?

Sal daar te alle tye ‘n verantwoordelike persoon op die plaas wees?

Wat gaan dit kos om heen en weer te reis?



Beskikbaarheid van stoorruimte vir graan

Wanneer die graan geoes is, waar gaan jy dit stoor? 

Wat is die stoorkoste?

Teen watter voginhoud kan die graan gestoor word?

Waar gaan jy die gewas droog tot die korrekte voginhoud?

Gaan jy die gewas onmiddellik verkoop of beplan jy om dit te stoor en te wag vir ‘n beter prys?



Toegang tot ondersteuningsdienste

Het jy toegang tot ondersteuning van die plaaslike voorligtingsbeamptes van die Departement van Landbou?

Watter ander mense kan jou ondersteun?

Het jy kontak met plaaslike kommersiële produsente wat gewillig sal wees om jou te ondersteun en by te staan?



Algemene plaaslike boerderyaktiwiteite

Watter tipes boerdery beoefen die plaaslike kommersiële produsente?

Het jy kontak met plaaslike produsente met wie jy belangrike aspekte kan bespreek?



Moontlikhede vir waardetoevoeging

Is daar enige moontlikheid dat jy waarde kan toevoeg tot die gewas wat jy produseer?

