







Navorsingsondersteuning

Beleid vir Navorsing en Innovasie 

Gedateer 24 Oktober 2007  

Aanhef

As ‘n toonaangewende universiteit in Afrika, gedryf deur die strewe na kennis en innovasie, met ‘n unieke institusionele kultuur gebaseer op die waardes wat deur die Universiteit voorgestaan word, het die Noordwes-Universiteit hierdie Beleid vir Navorsing en Innovasie op 24 Oktober 2007 aanvaar.

Doel van beleid

Die doel van die beleid vir navorsing en innovasie is om kwaliteit te verseker en om die raamwerk vir navorsing en innovasie asook vir navorsings- en innovasiebestuur aan die Noordwes-Universiteit daar te stel.

Omvang van beleid

Hierdie beleid moet in samehang met die Institusionele Strategie vir Navorsin- en Innovasie , goedgekeur deur Senaat op 24 Oktober 2007, gelees word. Die beleid moet ook gelees word in die lig van die missie van die NWU om tersaaklike en gefokusde navorsing van hoë gehalte, algemeen asook toegepas, te lewer, en om innoverende oplossings te bied vir uitdagings waarvoor die vakkundige gemeenskap, die land, die kontinent en die wêreld te staan kom.  Soos in die Institusionele Plan aangedui, streef die NWU verder daarna om ‘n gebalanseerde onderrig-navorsingsuniversiteit te word, met ‘n groeiende derde geldstroom inkomste uit kommersialisering, en om ‘n beduidende impak deur gemeenskapsbetrokkenheid te maak. 

Beleidstelling

Dit is die NWU se beleid dat navorsing gedoen word binne geïdentifiseerde navorsingsentiteite wat innoverende navorsing en innovasie vir die ekonomiese ontwikkeling van die land, die kontinent en die wêreld bevorder. 

Beginsels:

Die bestuursmodel wat vir navorsing en innovasie gebruik word, skep ‘n institusionele identiteit terwyl dit terselfdertyd voorsiening maak vir differensiasie binne die vermoëns en kapasiteit van kampusse.  Die navorsingsentiteitsmodel is gerig op die verhoging van die gehalte van navorsing en innovasie, navorsings- en innovasiedeelname en -produktiwiteit, navorsings- en innovasie-ontwikkeling en befondsing.  Die navorsings- en innovasiebestuursmodel ondersteun, fasiliteer en stimuleer navorsing en innovasie op al die kampusse.  Elke kampus sal sy eie navorsingsentiteite ontwikkel en bestuur.  Deelname sal primêr beperk word tot navorsers van ‘n spesifieke kampus, met die moontlikheid vir samewerking met ander kampusse.

Definisies

Navorsingsnisarea

‘n Navorsingsnisarea is ‘n klein navorsingsgroep met ‘n duidelike fokus deur die kampus geïdentifiseer, en is deel van die oorkoepelende strategiese plan van die universiteit en kampus met plaaslike navorsingsimpak.  Die kampus moet grade goedgekeur deur die Departement van Onderwys op minstens Meestersvlak aanbied in die studievelde wat die primêre fokus van die nisarea uitmaak.  Die spanlede van die nisarea moet bewys lewer van navorsingsuitsette.

Navorsingsfokusarea

‘n Navorsingsfokusarea is ‘n navorsingsgroep met ‘n duidelike fokus deur die kampus geïdentifiseer, en is deel van die oorkoepelende strategiese plan van die universiteit en kampus gekoppel aan nasionale prioriteite met streeksnavorsingsimpak.  Minstens 50% van die navorsingsinkomste van ‘n fokusarea behoort van eksterne befondsingsbronne afkomstig te wees.  Meester- en Doktorale studente moet deur middel van hulle betrokkenheid in die fokusarea opgelei word.  Die spanlede van die Fokusarea se navorsingsuitsette moet  toenemend ontwikkel.

Navorsingseenheid

‘n Navorsingseenheid is ‘n beduidende, landswyd erkende, langer-termyn multidissiplinêre en trans-dissiplinêre navorsingsaktiwiteit.  ‘n Duidelike fokus is deur die kampus geïdentifiseer en vorm deel van die oorkoepelende strategiese plan van die universiteit en kampus, gekoppel aan nasionale prioriteite met nasionale navorsingsimpak.  Die eenheid verteenwoordig ‘n beduidende organisasie-groepering en die vlak van aktiwiteit binne die eenheid weerspieël ‘n beduidende krities-belangrike konsentrasie.  Meester- en Doktorale studente behoort direk aan die sentrum gekoppel te wees.  Navorsingsinkomste (minstens 60%) word uit ‘n verskeidenheid bronne verkry, insluitend kompeterende, industriële en internasionale bronne.  Bewyse van beduidende navorsingsuitsette en deelname van Nadoktorale studente binne die Navorsingseenheid moet aangetoon kan word.

Navorsingsentrum van Uitnemendheid

‘n Navorsingsentrum van Uitnemendheid is ‘n internasionaal erkende, langer-termyn multidissiplinêre en trans-dissiplinêre navorsingsaktiwiteit.  Die sentrum behoort ‘n duidelike fokus soos deur die kampus geïdentifiseer te hê, en vorm deel van die oorkoepelende strategiese plan van die universiteit en kampus, gekoppel aan nasionale prioriteite met internasionale navorsingsimpak.  Minstens 75% van die navorsingsinkomste behoort uit eksterne befondsingsbronne verhaal te word.  Die sentrum moet omvangryke navorsingsuitsette hê met diepgaande nadoktorale studentebetrokkenheid.  Daar moet ‘n geskiedenis wees van nagraadse studente-opleiding (M en D) deur individuele lede asook gesamentlik.

Navorsings- en Innovasie-uitsette word as die volgende gedefinieer:

Navorsingsuitsette vir subsidie doeleindes deur die Departement van Onderwys erken (insluitend boeke en/of hoofstukke in boeke en eweknie-beoordeelde konferensieverrigtinge);

Verbetering van bekwaamheid van personeel op nagraadse vlak;

Nagraadse kwalifikasies aan studente toegeken;

Artikels in nasionale en internasionale tudskrifte gebubliseer (nie-geakkrediteerde en eweknie-beoordeelde tydskrifte); 

Aanbiedinge gelewer by nasionale en internasionale konferensies, en daarom onderhewig aan eweknie-oorsig;

Patente geregistreer op nasionale of internasionale vlak;

H&O-verwante verder verwerkte aktiwiteite, gekenmerk deur suksesvolle oordrag van tegnologie; 

NRF gradering van navorsers;

Die aantal navorsingsleerstoele, sentrums van uitnemendheid, sentrums van doeltreffendheid, navorsings- of innovasiebeleidprojekte, nisareas toegeken aan die NWU deur befondsingsagentskappe (namens staatsdepartemente), staatsdepartemente, die privaatsektor.

Navorsingsuitsette vir subsidie-doeleindes erken deur die Department van Wetenskap en Tegnologie;

DWT subsidieer tot 50% van die patenteringskoste van gekeurde patente deur die NWU ingedien; en 

DWT beloon uitvinders met bedrae wisselend tussen R18 000 en R25 000 vir geselekteerde Suid- Afrikaanse goedgekeurde patente.  

Kreatiewe uitsettegedefinieer as deelname aan gekeurde uitvoerings / uitstallings en lewering van artistieke produkte

Reëls

Die reëls waardeur navorsing en innovasie gerig word, word binne die volgende kategorieë gedefinieer :

Beheer van Navorsing en Innovasie

Raad oefen beheer uit oor en keur beleide ten opsigte van navorsing en innnovasie goed.

Senaat oefen beheer uit oor akademiese kwaliteit.

Die Institusionele Komitee vir Navorsing en Innovasie (IKNI) adviseer Senaat aangaande die strategie, planne en kwaliteit van Navorsing en Innovasie van die Universiteit.

Institusionele Navorsingsteunkommissie het die verantwoordelikheid om die navorsing wat binne die navorsingsentiteite van die NWU onderneem word, te evalueer en om aanbevelings aan Senaat en Bestuur te maak. 

Strategie vir Navorsing en Innovasie 

Die Uitvoerende Direkteur:  Navorsing en Innovasie aanvaar in alle opsigte verantwoordelikheid vir die beleid en strategie van Navorsing en Innovasie aan die Universiteit.  Kampusrektore en kampus vise-rektore verantwoordelik vir navorsing en innovasie aanvaar volle verantwoordelikheid vir die bestuur van navorsing en innovasie op die kampusse.

Strukture vir Navorsing en Innovasie

Navorsing en innovasie word uitgevoer binne die gedefinieerde navorsingsentiteite soos gekategoriseer in die Navorsing- en Innovasiestrategie.  Alle navorsingsentiteite is aan fakulteite gekoppel. 

Interne Korporatiewe Ondernemings (IKO), gekoppel aan navorsingsentiteite, is die verantwoordelikheid van die direkteure of hoofde van navorsingsentiteite.  Sodanige IKO’s word binne afgebakende kostesentrums binne die beleide van die NWU bestuur.

Die betrokke Uitvoerende Direkteur mag, na konsultasie met die Innovasiekantoor en die betrokke lynhoofde, die oprigting van voortspruitende maatskappye  by IB aanbeveel.

Bestuur van Navorsing en Innovasie

Navorsing word bestuur volgens die voorgeskrewe riglyne vervat in die Institusionele Navorsing- en Innovasiestrategie.

Navorsing en Innovasie word befonds in ooreenstemming met die Navorsing- en Innovasiestrategie.

Die Fakulteitshoërgraad-/Navorsingskomitees is rigtinggewend vir fakulteitsnavorsing en –innovasie binne die NWU strategie.  Die Fakulteitshoërgraadkomitee ontwerp die strategieë wat nodig is om nagraadse werksaamhede binne die Fakulteit te vestig, te bevorder, te monitor en te hersien. 

Ondersteuning van Navorsing en Innovasie

Die Institusionele Innovasiekantoor adviseer kampusse en fakulteite aangaande die beskerming van intellektuele goedereregte, patentaansoeke en professionele vrywaring, met betrekking tot navorsings- en innovasie aktiwiteite.

Die Institusionele kantoor vir Navorsingsondersteuning fasiliteer en evalueer alle projekvoorstelle voorgelê aan navorsingsbefondsingsagentskappe; ondersteun die effektiewe en optimale aanwending van die Universiteit se fondse, insluitend aansoeke en toewysing van fondse, asook die deurlopende monitering en rapportering van alle navorsingsfondse van die Universiteit; bestuur die administrasie van alle staatsgesubsidieerde navorsing en die hantering van al sodanige eise en fasiliteer die effektiewe evaluering van navorsing, intern deur die Institusionele Navorsingsteunkommissie en ekstern deur gereelde eweknie-beoordeling op internasionale vlak.

Navorsings- en innovasieprestasie word geëvalueer of geassesseer deur middel van indikatore vir navorsings- en innovasieprestasie en ‘n jaarlikse Navorsings- en Innovasieverslag.  Maatstawwe sal insluit:

Meting en normering van die uitsette gedefinieer in 4.5.

Die mate waartoe die universiteit befondsing vir navorsings- en innovasie aktiwiteite kan verwerf en beïnvloed, insluitend die kategorieë:

eerste geldstroom befondsing (DvO); 

tweede geldstroom befondsing (bv NRF basisbefondsing, befondsing deur THRIP en die Innovasiefonds, patent subsidies en toekennings);   

derde geldstroom befondsing (van Wetenskaplike Rade, Staatsdepartemente en die privaatsektor);

vyfde geldstroom befondsing (van internasionale bronne).

‘n Navorsingsetiekkomitee (NEK) as ‘n staande komitee van Senaat.  Die doel van die Hoofkomitee van die NEK is om te verseker dat navorsing wat mense, diere en die omgewing insluit of affekteer, uitgevoer word volgens betroubare navorsingsetiekbeginsels.  Die doel van die NEK is om die welstand van mense, diere en die omgewing te beskerm en verder om te verseker dat die regte van mense tydens ‘n navorsingsprojek beskerm word. Die belangrikste funksie van die subkomitees van die NEK is die aanbevole goedkeuring van navorsingsprotokol vir etiese klaring aan die NEK.

Prosedures

Die NWU wil, deur middel van die Navorsingsbestuurstrukture, die voorsiening van effektiewe, doeltreffende en billike ondersteuning aan navorsers verseker.

The oorkoepelende proses vir navorsing en innovasie is vervat in die dokument “Quality Assurance process for Research at NWU”.

Original details:  DNVCM  c:\documents and settings\administrator\my documents\policies\research and innovation policy_rev#1.doc
2007-09-03

