

Beleid ten opsigte van die Verantwoordelike Gebruik van Inligtings- en Kommunikasietegnologie, Netwerke en Inligtingshulpbronne aan die Noordwes-Universiteit

Aanhef

As ‘n toonaangewende universiteit in Afrika, gedryf deur die strewe na kennis en innovasie, met ‘n unieke institusionele kultuur gebaseer op die waardes wat deur die Universiteit voorgestaan word, het die Noordwes-Universiteit hierdie Beleid ten opsigte van die verantwoordelike gebruik van inligtings- en kommunikasietegnologie, netwerke en inligtingshulpbronne op 16 Maart 2007 aanvaar.

Agtergrond en Inleiding

Hierdie beleid vervang die vorige beleidsmaatreëls ten opsigte van die verantwoordelike gebruik van die IKT- infrastruktuur en -stelsels. Die oogmerk is dat die aard van die beleid meer algemeen sal wees as vorige beleidsmaatreëls, aangesien die voortdurende veranderinge in tegnologieë, stelsels en toepassings voortdurende veranderinge aan die beleid sou vereis. Dit is ook die eerste IKT-beleid wat op institusionele vlak geïmplementeer word met die oog daarop om ‘n algemene grondslag daar te stel vir die formulering van reëls en prosedures op al die kampusse. 

Aangesien die beleid betrekking het op verantwoordelike gebruik, is dit primêr gemik op elke gebruiker of potensiële gebruiker van die IKT hulpbronne van die Noordwes universiteit.

Beleidsdoelstellings

Om die verantwoordelike gebruik van Inligtings- en Kommunikasietegnologie, netwerke en inligtingshulpbronne te verseker

Om ‘n beleidsraamwerk daar te stel vir reëls en prosedures wat met IKT verband hou en wat deur die verantwoordelike IKT-ondersteuningstrukture geformuleer sal word, sowel op institusionele as op kampusvlak.

Beleidsverklaring en vereistes

Hulpbronne en sisteme gebaseer op inligtings- en kommunikasietegnologie vir universiteisverwante doeleindes

Dit is die beleid van die Universiteit om vir sy gemeenskap toegang tot plaaslike, nasionale en internasionale inligtingsbronne te verseker en om ‘n atmosfeer te skep wat toegang tot kennis en die uitruil van inligting bevorder. As deel van die fisiese en sosiale infrastruktuur van leer, verkry die Noordwes-Universiteit inligtings- en kommunikasietegnologie en -sisteme, en ontwikkel en onderhou dit. Hierdie hulpbronne en sisteme wat gebaseer is op inligtings- en kommunikasietegnologie, het universiteitsverwante oogmerke en bied direkte en indirekte ondersteuning aan die Universiteit se aktiwiteite van onderrig en leer, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid; aan die Universiteit se administratiewe funksies; aan aktiwiteite wat met die studente- en kampuslewe verband hou; en aan die vrye uitruil van idees onder lede van die Universiteitsgemeenskap en tussen die Universiteitsgemeenskap en die wyer plaaslike, nasionale en wêreldgemeenskappe. 

Hulpbronne en sisteme wat gebaseer is op informasie- en kommunikasietegnologie moet met verantwoordelikheid teenoor die publiek en in ooreenstemming met toepaslike reëls gebruik word.

Dit is die beleid van die Universiteit dat die gebruik van inligtingshulpbronne deur die lede van sy gemeenskap gepaard sal gaan met die nodige respek vir die openbare vertroue waardeur hulle voorsien is en in ooreenstemming met die beleid en reëls soos van tyd tot tyd deur die Universiteit en sy funksionele eenhede vasgestel.

Bevordering van vryheid van verantwoordelike beywering en die beskerming van intellektuele eiendom

Ooreenkomstig hierdie beleid, werk die Universiteit daaraan om ‘n intellektuele omgewing te skep waarin studente en personeel vry kan voel om te skep en met kollegas by die Noordwes-Universiteit en by ander instellings saam te werk sonder die vrees dat die produkte van hulle intellektuele pogings deur wanvoorstellings, vervalsing, vernietiging en/of diefstal geskend sal word. 

Toegang tot die infrastruktuur van die inligtingshulpbronne sowel binne die Universiteit as buite die kampus, die deel van inligting en die sekuriteit van die gemeenskap se intellektuele produkte, vereis dat elke gebruiker mede-verantwoordelikheid aanvaar om die regte van die gemeenskap te beskerm. 

Aanvaarding van die burgerlike plig van samewerking om die misbruik van die Inligtings- en Kommunikasietegnologie-omgewing te beperk

Om die bestaan van hierdie omgewing van die inligtingshulpbronne te verseker, sal lede van die Universiteitsgemeenskap in samewerking met regeringsagentskappe en ander belanghebbende groepe, optree om tegniese en prosedure-meganismes te identifiseer en op te stel om die inligtingstegnologie-omgewing by die Noordwes-Universiteit saam met sy interne en eksterne netwerke, teen ontwrigting en/of wangebruik te beskerm. Omdat die voorsiening van inligtingshulpbronne nie onbeperk is nie, mag die Universiteit boonop redelike maatreëls instel om die gebruik van daardie hulpbronne te beperk sodat daar nie ‘n oormatige hoeveelheid van daardie hulpbronne verbruik word of daar onredelik met die aktiwiteite van ander gebruikers ingemeng word nie. 

Beperking op die gebruik en outoriteit om gebruik te monitor en teen wangebruik op te tree 

Gebruikers word verbied om die inligtings- en kommunikasiehulpbronne vir enige doel te gebruik wat mag bots met die Universiteit se Missie en Waardestelling, vir persoonlike kommersiële doeleindes of vir persoonlike of ander wins. Persoonlike gebruik van die Universiteit se rekenaar-hulpbronne vir ander doeleindes word toegelaat as sodanige gebruik nie meeding met hulpbronne wat nodig is vir amptelike Universiteitswerk nie, nie inmeng met die uitvoering van die gebruiker se werk of ander verantwoordelikhede teenoor die Universiteit nie en andersins in ooreenstemming met hierdie beleid is. Die Universiteit mag te enige tyd en volgens sy eie diskresie verdere beperkings op persoonlike gebruik instel. 

Wanneer die gebruiker van hierdie hulpbronne gebruik maak, erken hy/sy die Universiteit se reg om sodanige gebruik te monitor en dat regstellende stappe deur die bestuur geneem kan word in gevalle waar sy beleid, reëls en prosedures oortree word. Sodanige monitering en bestuursoptrede moet egter vooraf deur die Institusionele IT-direkteur of sy/haar benoemde gemagtig word. 

Verantwoordelikheid vir implementering, bestuur en monitering

Die IKT-departemente vir Ondersteuningsdienste is gesamentlik daarvoor verantwoordelik om die beleid te implementeer en af te dwing. Dit is ook die verantwoordelikheid van elke gebruiker van hierdie hulpbronne om die gees van die beleid te bevorder en te verseker dat die beleid gerespekteer en die reëls nagevolg word.

Reëls 

Geen lid van die Universiteitsgemeenskap mag ‘n ander persoon se identiteit om watter rede ook al aanneem nie. 

Geen gebruiker mag onder die skyn, naam, identifikasie, e-posadres, handtekening of indicia van ‘n ander persoon kommunikeer of optree nie, of onder die titel van ‘n organisasie, entiteit of eenheid kommunikeer sonder die magtiging om so ‘n liggaam te verteenwoordig nie. 

Waar die gebruiker se werk vereis dat so ‘n gebruiker iemand anders se rol vervul, mag dit net gedoen word as die gebruiker sy/haar eie identiteit gebruik. 

Enige lid van die Universiteitsgemeenskap wat sonder magtiging toegang verkry tot die Universiteit se inligtingstegnologieë, -eiendomme of -fasiliteite, insluitende dié wat aan derde partye behoort, dit gebruik, vernietig, verander, aftakel of beskadig en daardeur die atmosfeer van uitgebreide toegang en die deel van inligting bedreig, of wat die sekuriteit waarbinne lede van die gemeenskap intellektuele produkte mag skep en rekords hou, bedreig, sal, in die lig van die Universiteit se beleid in hierdie verband, geag word om hom/haar aan onetiese en onaanvaarbare gedrag skuldig te maak. 

Toegang tot die netwerke en tot die inligtingstegnologie-omgewing by die Noordwes-Universiteit is ‘n voorreg en moet deur alle gebruikers van hierdie stelsels as sodanig beskou word. 

Die vermoë om toegang tot die rekenaarbronne te verkry impliseer nie op sigself magtiging om dit te doen nie en daarom moet gebruikers vasstel watter magtiging vereis word en moet hulle sodanige magtiging verkry voordat hulle voortgaan. 

Rekenings en toegangskodes en ander identifikasiemeganismes mag onder geen omstandighede gedeel word met, of gebruik word deur, ander persone as diegene aan wie die Universiteit dit toegeken het nie. 

Die gebruiker aanvaar, in medewerking met alle ander gebruikers, mede-verantwoordelikheid vir die gesondheid en welsyn van hierdie hulpbron, en moet spesifiek waak teen misbruike wat die langtermyn-lewensvatbaarheid van die stelsels aan die Noordwes-Universiteit en daardie stelsels buite die Universiteit ontwrig en/of bedreig. 

Navrae

Afdeling: Institusionele Inligtingstegnologie

Telefoonnommer:  018 299 2130





