

Beleid oor Menseregte

Aanhef

As ‘n toonaangewende universiteit in Afrika, gedryf deur die strewe na kennis en innovasie, met ‘n unieke institusionele kultuur gebaseer op die waardes wat deur die Universiteit voorgestaan word, het die Noordwes-Universiteit hierdie Beleid oor Menseregte op 22 September 2006 aanvaar.

Vertrekpunt

Die Noordwes-Universiteit erken die fundamentele regte en waardes vervat in die Verklaring van Regte van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 108 van 1996 (hierna die Grondwet genoem);

Die Noordwes-Universiteit erken dat hierdie fundamentele waardes en regte  binne die Universiteitsgemeenskap gerespekteer en gehandhaaf moet word; en 

Die Noordwes-Universiteit erken dat hierdie fundamentele regte en waardes nie in isolasie beskou moet word nie, maar toegepas moet word as ‘n integrale deel van al die Universiteit se praktyk- en beleidsmaatreëls. 

Doelwitte

Doelwitte van die Beleid oor Menseregte:

2.1	bevorder die onderhouding van menseregte;

2.2	bevorder ‘n kultuur van menseregte;

2.3	bevorder respek vir en beskerming van menseregte; 

2.4	ontwikkel ‘n bewustheid van menseregte onder die Universiteitsgemeenskap en sy eksterne omgewing;

2.5	moniteer en beoordeel die nakoming van menseregte in die Universiteitsgemeenskap;

2.6	maak aanbevelings aan die Raad oor die bevordering van menseregte binne die raamwerk van die reg en die Grondwet; 

2.7	ondersoek enige beweerde skending van menseregte binne die Universiteitsgemeenskap en ondersteun enige persoon wat nadelig daardeur geraak is om regstelling te verseker; en

2.8	bied (nie-akademiese) opvoedingsprogramme oor menseregte binne die Universiteits-gemeenskap aan. 

Omvang en toepassing

Die beleid is van toepassing op die lede van die Universiteit (insluitende personeel en studente) asook op diensverskaffers aan die Universiteit. 

Rigtinggewende beginsels

Die beleid op Menseregte sal deur die volgende dokumente, waardes en beginsels gerig word: 

4.1	Die Verklaring van Regte in Hoofstuk 2 van die Grondwet, bv. die interpretasie-klousule in Afdeling 39 en die beperkingsklousule in Afdeling 36; 

4.2	Die Waardes vervat in die Grondwet, bv. die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid;

4.3	Wetgewing wat in terme van die Grondwet uitgevaardig is, bv. die Wet op die Bevordering van Toegang tot Informasie Wet 2 van 2000, die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid Wet 3 van 2000 en die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onregverdige Diskriminasie Wet 4 van 2000;

4.4	Die Grondwetlike Hof en ander relevante jurisprudensie oor menseregte;

4.5	beslissings, publikasies en beleidsdokumente van die Suid-Afrikaanse Menseregte-Kommissie; en

4.6	Internasionale, streeks- en buitelandse dokumente en -kommentaar oor menseregte. 

Beheer, bestuursrolle en verantwoordbaarheid

Die Raad is verantwoordelik daarvoor om die implementering van die Beleid oor Menseregte te vestig en te moniteer.

Die Raad is verantwoordelik vir die daarstelling van ‘n onafhanklike Menseregtekommissie van die Noorwes-Universiteit. 

Die Menseregtekommissie van die Noordwes-Universiteit sal onafhanklik en onpartydig funksioneer en sy aktiwiteite te goedertrou verrig sonder vrees, voorkeur, partydigheid of vooroordeel. 

Die lede van die Menseregtekommissie van die Noordwes-Universiteit sal verteenwoordigend van die Universiteitsgemeenskap wees met in agneming van ras, geslag en gestremdheid. 

Die Menseregtekommissie van die Noordwes-Universiteit sal aan die Raad verantwoording doen.





Huidige gegewens:    h:\3. human resources\3p  policy\human rights policy.doc
2007-11-01

