

Beleid oor Gelyke Indiensneming

Aanhef

As ‘n toonaangewende universiteit in Afrika, gedryf deur die strewe na kennis en innovasie, met ‘n unieke institusionele kultuur gebaseer op die waardes wat deur die Universiteit voorgestaan word, het die Noordwes-Universiteit hierdie beleid oor Gelyke Indiensneming op 22 September 2006 aanvaar.

Doelwitte

Om te verseker dat die Universiteit gelyke geleenthede vir al sy werknemers en voornemende werknemers skep en om alle hindernisse te verwyder sodat: 

“die grondwetlike reg op gelykheid en die toepassing van ware demokrasie bevorder word;

onregverdige diskriminasie in indiensneming uitgeskakel word;

die implementasie van gelyke indiensneming verseker word om die gevolge van diskriminasie reg te stel;

‘n diverse werkerskorps oral in die Universiteit bereik word;

ekonomiese ontwikkeling en doeltreffendheid in die werkplek bevorder word”: 

(Wet op Gelyke Indiensneming 55 van 1998 soos van tyd tot tyd gewysig).

Om ‘n raamwerk van institusionele riglyne te voorsien sodat ‘n bekwame, doeltreffende, toegewyde en gemotiveerde werkerskorps gelok, ontwikkel en behou kan word. 

Toepassingsomvang

Hierdie beleid is van toepassing op al die Universiteit se personeellede (voornemend en huidig), soos gep;as vir die behoeftes van die Universiteit. 

Rigtinggewende beginsels

Met verwysing na bogenoemde, ontwikkel die Universiteit deurlopend ‘n gelyke indiensnemings-program (GIP) in ooreenstemming met die Wet op Gelyke Indiensneming wat bevestig dat die Universiteit in hierdie verband die volgende rigtinggewende beginsels navolg:

Die implementering van hierdie program binne die beleidsvoorskrifte en beplanningsraamwerk vir die hoër opvoedingsisteem;

Die verbod op onregverdige diskriminasie in die werkplek;

Die implementering van positiewe maatreëls met betrekking tot persone uit die aangewese groepe met die oog op indiensnemings-gelykheid;

Die identifisering, ontwikkeling en aanwending van persone wat ‘n relevante bydrae kan maak om die visie en doelwitte van die Universiteit te realiseer.

Beleid

Die Universiteit verbind hom daartoe om die bepalings van die Wet op Gelyke Indiensneming te bevorder. 

Die Universiteit verwerp onregverdige diskriminasie, hetsy regstreeks of indirek, op alle genoemde gronde, wat die volgende insluit, maar nie daartoe beperk is nie: ras, geslag, huwelikstatus, geloof of oortuiging, ouderdom, HIV-status, kultuur, swangerskap, taal, seksuele voorkeur, kleur, etniese of sosiale oorsprong en gestremdheid. 

Die Universiteit streef daarna om ‘n werknemersprofiel te hê wat die nasionale, streeks- en sektorale demografiese samestelling in aanmerking neem. 

Keurings- en aanstellingsprosesse moet verseker dat voorkeur gegee sal word aan kandidate uit die aangewese groepe op grond van meriete soos in die Wet gedefinieer, in terme van die werwingsbeleid en soos vervat in die Gelyke Indiensnemingsplan. 

Die Gelyke Indiensnemingsprogram sal verseker dat daar voldoende verteenwoordiging is van die aangewese groepe in die verskillende beroepskategorieë en –vlakke. 

Geen gedwonge afleggings sal plaasvind om posisies te skep vir kandidate van gelyke indiensneming nie. 

Beheer, bestuursrolle en verantwoordbaarheid

Die Raad (deur die Transformasie- en Gelykheidskomitee) is verantwoordelik vir die bestaan en monitering van die implementering van die Gelyke Indiensnemingsbeleid. 

Die Institusionele Bestuur is verantwoordelik vir die implementering van hierdie beleid ten opsigte van die nodige prosessisteme en prosedures. 

Lynbestuurders is, as deel van hulle KPAs, verantwoordelik vir die uitvoer van die beleid en prosedures. 

Die Institusionele Menslike Hulpbronne-departement is verantwoordelik vir die administrasie en die verskaffing van bestuursinligting. 





Goedgekeur deur die Raad op 22 September 2006

Huidige gegewens:    h:\3. human resources\3p  policy\employment equity policy.doc
2007-11-01

