Vaaldriehoekkampus beloon top navorsers en presteerders






Vaaldriehoekkampus beloon top navorsers en presteerders

VANDERBIJLPARK.  Tydens 'n onlangse glansgeleentheid by die Vaaldriehoekkampus is daar erkenning gegee aan die kampus se topnavorsers en -presteerders vir 2006.

Spesiale toekennings is gemaak aan prof Hans van Deventer (beste navorser vir 2006), dr Linda Theron (beste dosent, ITOU, 2006) en me Daleen Gerber (beste dosent, VERKA, 2005).

Die kernaktiwiteite van enige akademikus is, volgens prof Tinie Theron, Dekaan van die Fakulteit Vaaldriehoek, om kwaliteit leer-onderrig te bied wat geanker is en versterk word deur voortdurende navorsing.

Hierdie navorsing verskyn in geakkrediteerde publikasies en is vir beide akademiese kollegas en studente van belang.  Die Vaaldriehoekkampus spog met 'n groei van meer as 50% in die hoeveelheid artikelekwivalente gelewer sedert 2004. 'n Totaal van 32.96 artikelekwivalente het in 2006 die lig gesien teenoor die 12.5 in 2003; 17.16 in 2004 en 32.5 in 2005. Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak, is die feit dat die 33 artikelekwivalente in 2006 deur slegs 19 personeellede gelewer is.

Die personeel van die Fakulteit Vaaldriehoek het ook tydens vanjaar se Institusionele Toekennings vir Onderrig-uitnemendheid (ITOU) presteer en dr Linda Theron (Skool vir Opvoedingswetenskappe) is aangewys as die beste dosent op die kampus.

Personeel is aangemoedig om aan ITOU deel te neem en op hierdie manier hul onderrigvaardighede te ontwikkel en ten volle te voldoen aan goeie uitkomsgebaseerde onderrigbeginsels. Die Vaaldriehoekkampus se deelname aan ITOU het meer as verdubbel sedert di toekennings in 2003 tot stand gekom het. In 2006 het 6 voltydse akademiese personeel aan die evaluering deelgeneem.

Die akademiese personeel moet deur hul prestasies gemotiveer word om sodoende te verseker dat di Fakulteit sal groei tot 'n krag waarmee daar rekening gehou moet word meen prof Theron.




Van links is Me Daleen Gerber, beste dosent vir 2005, prof Tinie Theron, Dekaan van die Vaaldriehoekfakulteit en dr Linda Theron, beste dosent vir 2006. Prof Hans van Deventer, beste navorser vir 2006, was afwesig.

