NWU-navorsers skitter






NWU-navorsers skitter

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs tydens 'n glansdinee erkenning gegee aan 16 van sy akademici wat 'n evaluering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) verwerf het. Navorsers met die hoogste geakkrediteerde artikelekwivalent in 2005 het ook erkenning ontvang.  Die algehele wenner van die NWU was  prof BJ van der Walt, Skool vir Filosofie in die Fokusarea Volhoubare Sosiale Ontwikkeling op die  Potchefstroomkampus.

Een navorser van die Mafikengkampus en nege van die Potchefstroomkampus is herevalueer. Twee navorsers van die Vaaldriehoekkampus, een van die Mafikengkampus en drie van die Potchefstoomkampus is vir die eerste keer gevalueer.

Volgens prof Amanda Lourens, Institusionele Direkteur: Navorsing en Innovasie, is die verkryging van 'n NNS-evalueringstatus 'n uitmuntende prestasie, aangesien ongeveer slegs 10% van akademici aan Suid-Afrikaanse universiteite hierdie evaluering verkry het.

Die kandidate wat aansoek doen vir evaluering word aan 'n internasionale evaluering onderwerp, waartydens deskundiges op die betrokke vakgebied uitspraak moet gee oor die kwaliteit van die navorsingsuitsette gelewer oor die afgelope sewe jaar en ook 'n mening moet gee oor die statuur van die kandidaat in die betrokke navorsingsgebied, nasionaal sowel as internasionaal.  Hierdie eksterne verslae word dan deur panele van die NNS gekonsolideer tot 'n evalueringsuitslag.

Volgens dr Theuns Eloff, Visekanselier van die NWU, is een van die Universiteit se strategiese prioriteite om navorsing en inovasie te optimaliseer en om die Universiteit teen 2010 te vestig as 'n gebalanseerde onderrig-navorsingsinstelling.

Volgens dr Eloff het die Universiteit sy navorsingsuitsette die afgelope vier jaar feitlik verdubbel, en word verwag dat die uitsette vorentoe steeds beduidend sal groei.

Die NWU beoog ook om voor Junie vanjaar 'n stel prestasienorme (benchmarks) daar te stel, waaraan onder meer sy onderrig-leer, navorsing, implementering van kundigheid en innovasie gemeet kan word.

Volgens prof Frikkie van Niekerk, Uitvoerende Direkteur: Navorsing en Innovasie, het die aantal meestersgraad- en doktersgraadstudente die afgelope vyf jaar merkwaardig toegeneem.  Dit Universiteit stel hom ten doel om ook die aantal na-doktorale studente onder die akademiese personeel tot 10 persent te verhoog.

Kapasiteitsontwikkeling is baie belangrik en die NWU streef daarna om jonger navorsers aan te moedig en te besiel ten einde die gemiddelde ouderdom van sy navorsers af te bring.




Die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs tydens 'n glansdinee erkenning gegee aan n aantal akademici wat 'n evaluering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) verwerf het. Agter is prof Michael McPherson, Dekaan: Fakulteit Landbou, Wetenskap en Tegnologie, Mafikengkampus, prof Dan Kgwadi, Rektor: Mafikengkampus en prof Frikkie van Niekerk, Uitvoerende Direkteur Navorsing en Innovasie. Voor is, van links: prof Amanda Lourens, Institusionele Direkteur: Navorsing en Innovasie, prof Sevid Mashego, Viserektor Akademies, Mafikengkampus, en dr Theuns Eloff, Visekanselier, Noordwes-Universiteit.






NWU-navorsers met die hoogste geakkrediteerde artikelekwivalent in 2005 het onlangs erkenning ontvang.  Agter is prof Hans van Deventer, Vaaldriehoekkampus,  prof Piet Prinsloo, Rektor: Vaaldriehoekkampus, prof Tinie Theron, Dekaan: Fakulteit  Vaaldriehoek. Voor is van links: prof Pieter de Klerk, Vaaldriehoekkampus, prof Amanda Lourens, Institusionele Direkteur: Navorsing en Innovasie, prof Frikkie van Niekerk, Uitvoerende Direkteur: Navorsing en Innovasie, prof Johann Tempelhoff, Vaaldriehoekkampus, Dr Theuns Eloff, Visekanselier, Noordwes-Universiteit.








Tydens n glansgeleentheid vir NNS-gevalueerde navorsers van die Noordwes-Universiteit was agter, van links: dr Stefan Ferreira, Potchefstroomkampus, prof Frikkie van Niekerk, Uitvoerende Direkteur: Navorsing en Innovasie, en prof Maritte Lowes, Viserektor: Potchefstroomkampus.  Voor is, van links: prof Amanda Lourens, Institusionele  Direkteur: Navorsing en Innovasie, prof Wilma Viviers, Potchefstroomkampus, dr Theuns Eloff, Visekanselier, Noordwes-Universiteit, prof Linda Jansen van Rensburg,  Potchefstroomkampus, en prof Annette Combrink, Rektor: Potchefstroomkampus.


