NWU Raad keur R62 miljoen se bouprojekte goed






NWU Raad keur R62 miljoen se bouprojekte goed

Die Raad van die Noordwes-Universiteit het onlangs 43 groot bouprojekte ter waarde van R62 miljoen vir 2007 goedgekeur, met sekere projekte onderhewig aan die verkryging van buitefinansiering.

Een van die redes vir hierdie omvattende bou- en opgraderingsprojekte is om die agterstand met betrekking tot geriewe op veral die Mafikengkampus, maar ook die Vaaldriehoekkampus, uit te wis.  Die opgraderingsprojekte word jaarliks bepaal aan die hand van die Universiteit se rollende tienjaar-makro-instandhoudingsplan.

Die bouprojekte is ook gekoppel aan die  Universiteit se strategiese prioriteite soos uiteengesit in die Institusionele Plan. Een van hierdie strategiese prioriteite is die posisionering van die Universiteit as 'n gebalanseerde onderrig-leer- en navorsingsinstelling.

Van die bouprojekte wat tans onderneem word, is onder meer die derde fase van die geboue vir Dieregesondheid op die Mafikengkampus. Dit sluit 'n rekenaarlaboratorium, 'n lesinglokaal en kantore vir personeel in.

Ander projekte op die Mafikengkampus is nuwe studentebehuising, 'n rekenaarlaboratorium, 'n dakstruktuur en toegangsbeheer vir voetgangers by die ingangshek en 'n palissadeheining om die kampus.

Op die Potchefstroomkampus word geboue, lokale en laboratoria by verskeie fakulteite en skole opgegradeer of heringerig. Verder word die moontlikheid van 'n dakstruktuur vir die Amfiteater ondersoek, Heide Dameskoshuis word opgegradeer, en die installering van noodkrag op die kampus geniet ook aandag.

Op die Vaaldriehoekkampus word die beplanningsfase vir bykomende lesingsale, die installering van noodkrag op die kampus en die eerste fase van die inrig van studenteraadskantore aangepak.

Die meerderheid van die institusionele kantoor se personeel, wat tans oor die Potchefstroomkampus versprei is, gaan in fases teen die einde van die jaar na die Enan-gebou skuif.

Na verwagting sal die vestiging van persone wat daagliks saamwerk in n gebou beter produktiwiteit meebring en sal die skuif ook tot beter onderskeid tussen die kampus- en institusionele werksomgewings en -funksies lei.

Die herinrig van die Enan-gebou is 'n goedkoper opsie as die oprig van 'n nuwe gebou. 'n Bykomende voordeel is dat daar meer plek beskikbaar sal wees op die Potchefstroomkampus, waar ruimte tans baie skaars is. Die personeel in die Enan-gebou sal in ander geboue in daardie deel van die kampus gehuisves word.




Die meerderheid van die institusionele kantoor se personeel gaan in fases teen die einde van die jaar na die Enan-gebou skuif.



