NWU stel eerste gids oor alge bekend






NWU stel eerste gids oor alge bekend


POTCHEFSTROOM.  Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit spog met nog 'n eerste nadat lede van die vakgroep Plantkunde onlangs Suid-Afrika se eerste omvattende gids oor alge bekendgestel het.

Die boek, Easy Identification of the Most Common Freshwater Algae  a guide for the identification of microscopic algae in South African freshwaters, is die geesteskind van drr Sanet Janse van Vuuren en Jonathan Taylor. Dit is 'n praktiese boek waarmee die mees algemene varswateralge gedentifiseer kan word.

Altesame 78 alg-genusse, met volkleurfotos en omvattende beskrywings van elk, is in die boek vervat.

Dr Van Vuuren, 'n dosent in plantkunde wat in alge spesialiseer, vertel die gedagte om 'n boek saam te stel strek terug na 1988 toe sy die eerste keer bewus geword het van die wonderwreld van alge.

Volgens haar het sy verlede jaar besef dat selfs voor- en nagraadse studente, wat alge moet identifiseer vir projekte en konsultasiewerk, 'n behoefte aan 'n gids het wanneer hulle langs die mikroskoop sit.

Dr Taylor, wat tans besig is met sy na-doktorale studies en die kurator van die diatoomversameling op die Potchefstroomkampus is, het ingestem om haar te help met die diatome  wat een van die alggroepe is.

Wat hierdie werk nog meer merkwaardig maak, is dat alge almal van ons se lewens raak, al is die meeste van hierdie organismes nie eers sigbaar met die blote oog nie. Min mense besef byvoorbeeld dat alge suurstof aan die water voorsien en dat hulle net so 'n belangrike rol speel in suurstofvoorsiening as bome en gras.

Die gids sal veral van groot hulp wees vir mense wat waternavorsing doen, maar ook vir die gewone publiek wat hierdie fassinerende organismes beter wil leer ken.




Drr. Sanet J van Vuuren en Jonathan Taylor, skrywers van die gids oor alge.



Kundiges op die Potchefstroomkampus van die NWU het pas Suid-Afrika se eerste omvattende gids oor alge bekendgestel.

