Eerste ontbyt met die Visekanselier skep geesdrif






Eerste ontbyt met die Visekanselier skep geesdrif

"Die daarstel van prestasienorme vir die Noordwes-Universiteit is 'n belangrike prioriteit, aangesien dit 'n instrument sal verskaf waarmee die instelling hom nie net aan sy eweknie nie, maar ook aan sy eie prestasies kan meet," het dr Theuns Eloff, Visekanselier van die Noordwes-Universiteit, onlangs tydens n ontbytsessie met 'n aantal nuwe personeellede op die Potchefstroomkampus ges.

Hy het die nuwelinge verwelkom en verduidelik dat die NWU aan die hand van 'n gedesentraliseerde besigheidsmodel bestuur word, met 'n institusionele kantoor wat die drie kampusse bedien. Op elke kampus is 'n rektor wat as operasionele bestuurder optree en verantwoordelikheid is vir die funksionering van die kampus as 'n afsonderlike, gelyke besigheidseenheid.

Volgens dr Eloff kan die NWU as 'n entrepreneuriese instelling beskou word, aangesien dit 'n beduidende deel van sy inkomste genereer deur entrepreneuriese aktiwiteite, soos die eienaarskap van 'n vulstasie en 'n konferensiesentrum op die Vaaldriehoekkampus en fasiliteite soos die Astra Villas en Cachetpark op die Potchefstroomkampus.

Een van die NWU se strategiese prioriteite is om binne die volgende vyf jaar 'n gebalanseerde onderrig-leer- en navorsingsuniversiteit te word. As 'n sogenaamde boetiek-universiteit streef die NWU daartoe om sy navorsingskapasiteit in die algemeen te optimaliseer, maar ook om op 'n aantal navorsingsgebiede te fokus, met die doel om die beste op daardie gebiede te word.


Die implementering van kundigheid is ook 'n prioriteit vir die NWU. Dr Eloff het verduidelik dat twee aspekte hier ter sprake is, naamlik kommersialisering van kundigheid en gemeenskapgerigte implementering van kundigheid. In laasgenoemde geval deel die NWU sy kundigheid met die gemeenskap en dra s by tot die groei en ontwikkeling van die gemeenskap.

Die NWU is ook een van die min universiteite in Suid-Afrika waar selfs die lede van die akademiese personeel taakooreenkomste sluit, wat bydra tot die oorhoofse doelwit om die NWU tot 'n lewenskragtige, groeiende instelling  en uiteindelik 'n toonaangewende universiteit in Afrika  uit te bou.



Dr Theuns Eloff, Visekanselier van die NWU, het onlangs saam met 'n aantal nuwe personeellede op die Potchefstroomkampus ontbyt geniet. Van links is dr Alvin Peterson van die Skool vir Musiek, dr Stefan Kruger van die Skool vir Entrepreneurskap en Toerisme, me Phumzile Mmope, Uitvoerende Direkteur: Korporatiewe Sake en Verhoudinge, dr Theuns Eloff en prof Annette Combrink, Rektor van die Potchefstroomkampus.

