NWU beloon sy topdosente






NWU beloon sy topdosente

Prof Jaco Kruger van die Skool vir Musiek op die NWU-Potchefstroomkampus en dr Linda Theron van Opvoedingswetenskappe op die NWU-Vaaldriehoekkampus is onlangs tydens 'n glansgeleentheid aangewys as die beste dosente op hul onderskeie kampusse.

Tydens hierdie funksie is die eerste institusionele onderrig-leer-toekennings gemaak sedert die Noordwes-Universiteit in 2004 tot stand gekom het.  34 dosente van die Potchefstroomkampus en vyf van die Vaaldriehoekkampus het elk 'n Institusionele Toekenning vir Onderriguitnemendheid (ITOU) ontvang.

Van hierdie toekennings is 14 in die kategorie Institusionele Prestige Toekenning vir Onderriguitnemendheid gemaak, 20 in die kategorie Institusionele Toekenning vir Onderriguitnemendheid en vyf in die kategorie Ontwikkelingsprogram vir Onderriguitnemendheid.

Dr Ngoato Takalo, Adjunkhoof van die NWU en Uitvoerende Direkteur: Onderrig-Leer, s ITOU is daarop gemik om voltydse akademiese personeellede wat betrokke is by kontakonderrig aan die NWU aan te moedig om hul onderrigvaardighede te ontwikkel en om bewysgedrewe te demonstreer dat hul onderrigpraktyke ten volle voldoen aan goeie uitkomsgebaseerde onderrigbeginsels wat tot effektiewe onderrig in die horonderwyssektor behoort te lei.

Evalueringspanele, bestaande uit 'n lid van die betrokke fakulteit se onderrig/kurrikulumkomitee, 'n senior vakkundige, asook 'n lid van die kampus se eenheid vir akademiese ontwikkeling en ondersteuning, het die ITOU-deelnemers aan eweknie-beoordeling onderwerp. Die ITOU-kriteria sluit 'n evaluering van innovasie en uitnemendheid in kontaksessies, studente-terugvoer, asook 'n evaluering van 'n portefeulje in. Die stimulering van innovasie en die gebruik van tegnologie in onderrig-leer is ook in ag geneem.

Die ITOU-beleid en -prosedure is in Mei 2006 deur die Institusionele Senaat goedgekeur, waarna met die implementering van die ITOU-proses begin is. Die beleid word in 2006 en 2007 op die Mafikengkampus ingefaseer. Slegs twee Mafikengkampus-akademici neem tans aan die ITOU-proses deel.  Hulle het in 2006 met die program begin en sal dit in 2007 voltooi. Dr Takalo moedig die akademici op daardie kampus aan om hul deelname aan die program in 2007 uit te brei. Dit sal dan ook een van die institusionele prioriteite in die portefeulje van die Adjunkhoof wees vir 2007, aangesien dit die eenheid waarna die NWU streef verder sal versterk.




Prof Jaco Kruger van die Skool vir Musiek (middel) is pas aangewys as die beste dosent op die NWU-Potchefstroomkampus.  By hom is dr Theuns Eloff, Visekanselier van die NWU en prof Susan Coetzee-Van Rooy, Direkteur: Akademiese Ontwikkeling en Steundienste (Institusioneel).



Personeellede van die NWU-Vaaldriehoekkampus het onlangs die ITOU-glansgeleentheid bygewoon. Agter is dr Pieter Mller en prof Piet Prinsloo, Rektor: Vaaldriehoekkampus. Voor is, van links, dr Elsa Fourie, me Daleen Gerber en dr Louisa Meyer. Drr Fourie en Meyer het elk n Institusionele Toekenning vir Onderriguitnemendheid ontvang.

