Unieke wetenskappark vir Suid-Afrika






Unieke wetenskappark vir Suid-Afrika

POTCHEFSTROOM - Die daarstelling van 'n unieke wetenskappark sal deel uitmaak van 'n Memorandum van Verstandhouding wat binnekort tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Suidelike Distriksmunisipaliteit tot stand gaan kom.

'n Afvaardiging van die Suidelike Distriksmunisipaliteit het die NWU onlangs besoek met die oog op nouer samewerking tussen di twee instansies.  Gedurende die besoek is die totstandkoming van die Noordwes-Wetenskappark op die NWU se Potchefstroomkampus ten bedrae van ongeveer R30 miljoen bespreek.

Die Wetenskappark-voorstel is 'n uitvloeisel van die Suidelike Distriksmunisipaliteit se Groei- en Ontwikkelingstrategie. Die NWU het, op versoek van die Suidelike Distriksmunisipaliteit, 'n voorlopige uitvoerbaarheidsondersoek van stapel gestuur, wat positiewe resultate opgelewer het.

 Volgens dr Rudi van der Walt, Direkteur: Innovasie van die NWU, is 'n wetenskappark 'n gebied met 'n versameling innoverende, hoogs tegnologiese ondernemings wat in 'n goed uitgelegde omgewing gele is.

Daar word voorsien dat die Wetenskappark die innovasiespil van die Noordwes-Provinsie kan word, waarvandaan kennis-intensiewe en innoverende tegnologie na klein sake-ondernemings sowel as gevestigde industrie versprei word, ten einde groei en werkverskaffing te stimuleer.

Indien daar 'n gevestigde, innoverende universiteit soos die NWU in die nabyheid is, sal dit tot voordeel van die interafhanklike verhouding tussen die twee instellings strek.  Van die voordele van so 'n ooreenkoms is dat voldoende bronne, navorsing en tegnologie deur die NWU verskaf word, terwyl die Wetenskappark tegnologiegroepe in die gebied kan ontwikkel, wat vir gegradueerdes en akademiese personeel geleenthede sal bied om hul loopbane in die provinsie te bevorder.

Behalwe vir die Wetenskappark, sal ander sake ook in die Memorandum van Verstandhouding tussen die NWU en die Suidelike Distriksmunisipaliteit hanteer word.

Volgens dr Monty Mongake van die Suidelike Distriksmunisipaliteit kan noue samewerking tussen die NWU en die Suidelike Distriksmunisipaliteit tot die ontwikkeling van tegniese vaardighede en gevolglik ook beter dienslewering in verskeie munisipaliteite in die gebied van die Suidelike Distriksmunisipaliteit lei.

Prof Annette Combrink, Rektor van die NWU-Potchefstroomkampus, het voorgestel dat die NWU die munisipaliteite bystaan deur 'n situasie- en vaardigheidsanalise op munisipale vlak te doen, waarna die behoeftes waarin die NWU kan voorsien, asook die toepaslike programme of kursusse wat die NWU aanbied, gedentifiseer word. Sake wat ook hanteer behoort te word, is die ontwikkeling van leierskaps- en bestuursvaardighede en finansile bystand aan behoeftige studente in die gebied van die  Suidelike Distriksmunisipaliteit.



'n Afvaardiging van die Suidelike Distriksmunisipaliteit en lede van die NWU-bestuur het onlangs samesprekings gevoer. Agter van links is dr Monty Mongake, Suidelike Distriksmunisipaliteit, dr Rudi van der Walt, NWU-Direkteur: Innovasie, adv Abbey Dlavane, Suidelike Distriksmunisipaliteit, en prof Frikkie van Niekerk, NWU-Uitvoerende Direkteur: Navorsing en Innovasie. Voor: Me Dorothy August, Registrateur: NWU-Potchefstroomkampus, mnr Victor Nicodemus, Suidelike Distriksmunisipaliteit, en mnr Victor Mothobi, NWU-Direkteur: Menslike Hulpbronne.   



n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die Noordwes-Wetenskappark moontlik kan lyk.

