Fietswedren gee Vaal-studente se ondersteuningsfonds hupstoot








Fietswedren gee Vaal-studente se ondersteuningsfonds hupstoot

Die opbrengs van die Pick 'n Pay Fast One-fietswedren, wat in Germiston begin en op die NWU se Vaaldriehoekkampus eindig, sal gebruik word om die ondersteuningsfonds vir studente aan di kampus 'n hupstoot te gee.

Die wedren, voorheen bekend as die Hyper to Hyper-fietswedren, is 'n belangrike bemarkingsgeleentheid wat jaarliks nagenoeg 20 000 mense na die kampus toe lok. Ongeveer 9 000 fietsryers het op Sondag, 28 Januarie aan die resies deelgeneem, wat dit een van vyf grootste fietsrygebeurtenisse in die land maak.

Die gewildheid van hierdie wedren en die feit dat 'n fietsry-akademie, met professionele fietsryer Duncan Viljoen as voltydse afrigter, onlangs op die Vaaldriehoekkampus gestig is, getuig van die groeiende belangstelling in fietsry op die Vaaldriehoekkampus.

Die Fietsry-akademie het onlangs 'n adviesraad tot stand gebring, bestaande uit prof Piet Prinsloo, Rektor, Vaaldriehoekkampus, mnr Peter Viljoen, Voorsitter van Gauteng-Suid-Fietsry, mnr Ertjies Bezuidenhout, oud-PUK en Springbokfietsryer, en mnr Philip Vermeulen, Besturende Direkteur van Vesco.

Een van die beoogde fietsrygebeurtenisse vir 2007 is die kampus se eie wedren, die Campus to Campus Super Classic wat op 30 September op die Vaaldriehoekkampus  sal plaasvind.

Die Kampus sal ook optree as gasheer vir die jaarlike Fietsry-Intervarsity, wat op 26 September begin, met die kampus-tot-kampus-wedren as die hoogtepunt.  Hierdie intervarsity sal plaasvind onder die beskerming van die Suid-Afrikaanse Studentesportunie (SASSU).



