CTexT ontvang meertaligheidstoekenning








CTexT ontvang meertaligheidstoekenning

Die NWU se Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) het onlangs 'n toekenning van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSAT) ontvang vir die bevordering van meertaligheid in Suid-Afrika.

CTexT streef daarna om nie net die tale van Suid-Afrika nie, maar ook die mense wat die tale praat, te bemagtig, s prof. Gerhard van Huyssteen, hoof van CTexT.

CTexT, wat beskou word as 'n leier op die gebied van mensetaaltegnologie (MTT) in Suid-Afrika, is 'n nie-winsgewende, selfstandige sentrum wat deel uitmaak van die Navorsingseenheid vir Tale en Literatuur in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte op die Potchefstroomkampus.

CTexT is betrokke by navorsing om te help met  die ontwikkeling, kommersialisering en instandhouding van elektroniese eindgebruikerprodukte en  toepassings. CTexT het reeds verskeie elektroniese produkte soos speltoetsers vir isiXhosa, isiZulu, Sesotho sa Leboa en Setswana ontwikkel, sowel as taalaanleerprogramme vir Afrikaans, isiXhosa, isiZulu en Setswana.

CTexT is tans betrokke by die ontwikkeling van 'n aanlynvertaalfunksie vir die NWU se webwerf wat na verwagting later vanjaar gemplementeer sal word. Die plan is dat die gebruiker op 'n woord moet kan klik wat hy/sy nie verstaan nie en dat daar dan 'n opwipblokkie verskyn met die woord se betekenis in Engels, Afrikaans of Setswana. Hierdie funksie sal beskikbaar wees vir die vierduisend mees gebruikte woorde op die NWU se webwerf.

'n Ander projek waarmee hulle besig is, behels verskeie regeringskontrakte met die oog op ontwikkelingswerk wat verband hou met die bevordering van meertaligheid in Suid-Afrika. Meer inligting sal bekend gemaak word sodra hierdie kontrakte amptelik gesluit is.




Prof. Gerhard van Huyssteen, hoof van CTexT.




Van die produkte wat deur CTexT ontwikkel is.



