NWU, R30 miljoen-bouprojek voltooi op NWU Vaaldriehoekkampus






R30 miljoen-bouprojek voltooi op NWU Vaaldriehoekkampus

Die NWU Vaaldriehoekkampus het pas die eerste drie fases van 'n bou- en opgraderingsprojek van bykans R30 miljoen voltooi.

Die projek, waarby sowel personeel as studente gaan baatvind, sluit in 'n dubbelverdieping kantoorblok vir akademiese personeel van Opvoedingswetenskappe, Modelleringswetenskappe en Inligtingstegnologie en Bestuur. Die eerste akademiese blok bestaan uit ses opleidingslokale vir Opvoedingswetenskappe en vyf rekenaaropleidingslokale. Die tweede akademiese blok huisves vier algemene lesingslokale wat honderd studente elk kan huisves.

Die opknapping van die twee akademiese geboue wat die ander vier akademiese skole huisves, sal voor die aanvang van die klasse voltooi wees. Die gebou wat voorheen die biblioteek en rekenaaropleidingslokale gehuisves het, word nou verander en opgegradeer na n drieverdieping biblioteek wat waarskynlik teen middel Februarie ten volle in gebruik sal wees. Die koste van hierdie opgraderingswerk beloop ongeveer R3 miljoen.

'n Eerste vir die Studenteleiers van die Vaaldriehoekkampus sal hulle eie goed ingerigte studenteleierskantore wees. Dit word tans ingerig in 'n gebou wat voorheen deur Opvoedkunde gebruik is. Nog 'n eerste vir die studente en personeel van die kampus is 'n ABSA-OTM by die nuwe biblioteekgebou.

Die inkorporering en verskuiwing van die eks-Vista-personeel en -studente vanaf die Sebokengkampus na die Vaaldriehoekkampus is nou afgehandel. Dit was deel van die samesmeltingsproses wat in 2004 begin het  met 'n tekort aan fasiliteite en infrastruktuur op die Vaaldriehoekkampus as een van die grootste uitdagings.

