NWU se nuwe FNB Hoprestasie-instituut lok Britse Olimpiese atletiekspan






NWU se nuwe FNB Hoprestasie-instituut lok Britse Olimpiese atletiekspan

Die kombinasie van goeie weer, die grasbaan en die uitstekende geriewe van die FNB Hoprestasie-instituut maak die NWU die ideale oefenbestemming vir die besoekende Britse Olimpiese atletiekspan.

Die Britse span het vroeg in Januarie 2007 in Suid-Afrika aangekom vir 'n drie weke lange oefenkamp by die sportsentrum van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

Dr Theuns Eloff, Visekanselier van die Noordwes-Universiteit, het aan die besoekende span gewys wat egte Suid-Afrikaanse gasvryheid behels toe hy hulle op Sondag 17 Januarie 2007 genooi het vir 'n braai by die visekanselierswoning.

Die NWU, wat as die voorste sportuniversiteit in Suid-Afrika geag word, beskou sport in 'n baie ernstige lig, het dr Eloff ges toe hy die span Sondagaand verwelkom het.

Volgens mnr Aston Moore, die hoof naellope-afrigter van die span, vorm die oefenkamp in Potchefstroom 'n belangrike deel van die span se voorbereiding vir die Europese Binnenshuise Atletiekkampioenskappe in Maart vanjaar.

Een van die spanlede is me Jo Pavey, wat tans onder die top vyf middelafstandatlete in die wreld gereken word. Me Pavey is reeds 'n bekende gesig in Potchefstroom, aangesien sy al verskeie kere in die verlede hier geoefen het.

Een van die ander sterre in die span is mnr Mark-Lewis Francis, een van die vier Britse mansatlete wat die wreld in 2004 verras het toe hulle, in plaas van die Amerikaanse gunstelinge, die 4 x 100 meter-aflos tydens die Olimpiese Spele in Athene gewen het.

Me Kelly Sotherton, wat die bronsmedalje vir sewekamp tydens die Olimpiese Spele in Athene, Griekeland in 2004 gewen het, is ook deel van die besoekende span.

'n Bekende Potchefstroomse medikus en sportbeseringskenner, dr Paul Dijkstra, vergesel die span as hulle hoof mediese beampte.

Volgens mnr Jean Verster, wat die span na Potchefstroom gebring het, het besoeke soos di van die Britse span die bykomende voordeel dat waardevolle kennisuitruiling tydens interaksie tussen die internasionale atlete en afrigters en hul Potchefstroomse eweknie plaasvind.


Van links na regs: Prof. Dawie Malan, Direkteur: Skool vir Biokinetika, Rekreasie en Sportwetenskap, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit, mnr Aston Moore, hoof naellope-afrigter van die besoekende
Britse Olimpiese atletiekspan, dr Theuns Eloff, Visekanselier van die Noordwes-Universiteit en
prof. Annette Combrink, Rektor van die Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit.


Dr Theuns Eloff, Visekanselier van die Noordwes-Universiteit (heel links), het die Britse Olimpiese atletiekspan onlangs by sy huis onthaal. Saam met hom is lede van die mediese span wat die atlete vergesel het. Hulle is vanaf links: dr Paul Dijkstra, me Paula Clayton, me Rhon Thompson, me Sam Stear en mnr Neil Black.

