Projek om plaasvroue te bemagtig finalis in kompetisie








Die navorsingsfokusarea Voorkomende en Terapeutiese Interventsies in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe se vaardigheidsontwikkelings-projek vir werklose plaasvroue is as een van slegs drie finaliste aangewys in vanjaar se Santam Projekkompetisie vir Tersire Instansies.

Die projek is deel van die FLAGH-navorsingsprogram (Farm Labour And General Health) wat in 2001 geloots is onder die leiding van Dr A Kruger met die doel om deur middel van intervensienavorsing die kwaliteit van lewe van plaasbewoners op kommersile plase te verbeter.   Die motivering vir die FLAGH-Program spruit uit navorsingsresultate uit die THUSA-studie (Transition, Health and Urbanisation in South Africa) waarin bevind is dat mense wat op plase woon en werk die mees kwesbaarste is rakende fisiese en psigiese gesondheid in vergelyking met mense van ander sosio-ekonomiese vlakke.

Sowat dertig vroue van drie aanliggende plase het in 2002 by die program aangesluit waar hulle aanvanklik deur vierdejaar verbruikerswetenskapstudente geleer is om hul eie klere te herstel. Daarna het nagraadse verbruikerswetenskapstudente verdere vaardighede aangebied en het hulle ook op n praktiese wyse kennis gemaak met finansile beplanning.  Hierna het agt vroue die geleentheid aangegryp om n inkomste te verdien en hul eie besigheid begin met die ondersteuning en hulp van navorsers in die FLAGH-program.

Volgens me. Liezel van Niekerk, M-student en leier van die vaardigheidsprojek, was die eerste produk denim voorskote wat vir tuinwerk en by die braaivleisvuur ingespan kan word. Die vroue borduur hul eie interessante prentjies daarop.  Hulle het die projek  Holding Hands gedoop.  Die projek gaan van krag tot krag en nuwe produkte vorm reeds deel van hulle repetoir wat bestaan uit drasakke, voorskote, rugsakke, konferensiesakke, pennesakkies en kleuterstoel boeksakkies. Die heel nuutste is handsakke wat met bruin leerbande en kralewerk versier word.

Die werkery vind plaas in n gebou wat een van die boere in die omgewing op sy plaas beskikbaar gestel het. Elke vrou word na eie vermo ingespan wat beteken dat sommiges knip, ander die masjienwerk doen en sommiges borduur.  Die borduurwerk word tuis in eie tyd gedoen.

Die kopersmark sluit benewens die Ferdinand Postma biblioteek en private plaaslike belangstellendes sowel as uit Johannesburg ook n plaaslike blommewinkel, die Tswane Rampbestuursentrum asook die Nasionale Rampbestuursentrum in.

Volgens Van Niekerk verdien die vroue reeds n gereelde maandelikse  inkomste.  Voortdurende evaluering van die projek toon ook aan dat die vroue die geld aanwend om n groter verskeidenheid kos op die tafel te sit, hul persoonlike besittings uitbrei, klere vir hul kinders aanskaf en skoolgelde self betaal .  Daar is n beduidende afname in drankmisbruik onder hierdie vroue wat met merkbare verhoogte selfvertroue, n positiewe uitkyk en die wilskrag om n sukses te maak openbaar.
Benewens die vaardigheidsprojek vir vroue behels die FLAGH-program ook die vestiging van groentetuine by plaasskole en indiepte navorsing in die veld van voedselsekuriteit.

Die beoordelaars van Santam besoek die projek Maandag. Die wenner sal later aangekondig word.

