CTexT doen dit weer






Lees ook: CTexT stel vier nuwe speltoetsers bekend (Link: http://www.puk.ac.za/fakulteite/lettere/index.html)

Met die bekendstelling van die Afrikaanse Speltoetser 3.0 , Tesourus 1.0 & Woordafbreker wys CTexT (Sentrum vir Tekstegnologie) weer hulle staal in die ontwikkeling van toonaangewende taaltegnologieprodukte vir Afrikaans. CTexT, 'n eenheid van die Navorsingseenheid: Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse Konteks by die Noordwes-Universiteit, is al vir langer as 'n jaar bedrywig en die Afrikaanse Speltoetser 3.0, Tesourus 1.0 & Woordafbreker is die nuutste toevoeging tot hulle reeds stewige produkreeks.

Vandat die Speltoetser in die negentigerjare die eerste keer die lig gesien het, het die leksikon al verdubbel en vandag herken dit meer as 350 000 woorde  wat 'n wye verskeidenheid eiename, vakterme en akronieme insluit. Danksy gevorderde morfologiese analise herken die nuutste speltoetser nou ook 'n groot aantal nuwe samestellings en verbuigings.

Wat hierdie nuwe weergawe kop en skouers laat uitstaan bo sy voorganger (die Afrikaanse Speltoetser 2.1 & Woordafbreker), is die insluiting van 'n tesourus. Die tesourus is gebaseer op LG de Stadler se Groot Tesourus van Afrikaans, en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Woordkeusegids.

Mnr. Roald Eiselen, projekleier van die span wat die tesourus ontwikkel het, beskryf 'n tesourus as 'n tipe omgekeerde woordeboek waar dit nie oor die spesifieke betekenisbeskrywing van die woord gaan nie, maar oor die verhouding waarin die woord tot ander verwante woorde en ander betekenisse staan (ast ware die familie van die woord). So byvoorbeeld hoort straatkat, wildekat en huiskat saam onder die inskrywing kat, wat weer opgeneem word onder soogdier. In die tesourus word woorde dus in klasse verdeel op grond van die gedeelde betekenisse en verbande tussen die woorde.

Hoewel die tesourus dikwels sinonieme van woorde verskaf, is dit streng gesproke nie 'n sinoniemwoordeboek nie. As jy kat opsoek, kry jy 'n lys van verskillende soorte katte: die gebruiker moet dus die woord kies wat in die betrokke konteks die beste sal werk. In ander gevalle bied die tesourus wel alternatiewe wat as sinonieme beskou kan word: as jy sien opsoek, kry jy woorde soos waarneem, gewaar of aanskou.

Die belangrikste funksie van die tesourus is dus om aan 'n gebruiker alternatiewe woorde te gee om uit te kies. So byvoorbeeld kan jy lastige herhalings voorkom deur verskillende woorde met verbandhoudende betekenisse te gebruik. Op hierdie manier skep jy nie net 'n interessanter en lewendiger teks nie, maar brei jy ook sommer jou woordeskat uit!

Die program is maklik om te installeer en is ook volledig gentegreerd met Microsoft Office 2000/XP/2003. Dit sluit ook 'n woordafbreker in wat woorde aan die einde van die rel korrek kan afbreek. Die Afrikaanse Speltoetser 3.0 , Tesourus 1.0 & Woordafbreker word op 3 Augustus 2005 by Protea Boekhuis in Pretoria bekendgestel en sal binnekort op winkelrakke dwarsoor die land beskikbaar wees.

